Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakevertroue laat kommer oor ekonomie verdiep

Sakevertroue het in die derde kwartaal weer gedaal nadat dit ook in die tweede kwartaal gedaal het. Dis nou op 38 punte, volgens RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch se indeks.

Sakevertroue wat daal, is slegte nuus vir die ekonomie omdat dit beleggings in fabrieke en masjinerie en indiensneming onderdruk. Grafika: Pixabay

Sonder vertroue in saketoestande brei maatskappye nie aggressief uit nie en stel hulle nie mense aan nie; daarsonder kan die ekonomie nie groei nie.

Ettienne le Roux, hoofekonoom van RMB, sê die daaltendens is baie kommerwekkend, gegewe die noue verhouding tussen die indeks en ekonomiese groei. As die geskiedenis hom herhaal, beteken dit ekonomiese groei het dalk in die derde kwartaal verder verlangsaam, op ’n jaargrondslag gemeet.

Jaargroei in die bruto binnelandse produk (BBP) was in die eerste kwartaal 1,4% en in die tweede kwartaal 0,5%. Kwartaal-tot-kwartaal-groei was in dié kwartale onderskeidelik -2,6% en -0,7%, wat Suid-Afrika in ’n tegniese resessie plaas.

Le Roux sê dis ook uiters kommerwekkend dat sakevertroue in al vyf die sektore wat die indeks meet, onder 50 punte is, selfs al het twee sektore se punt effens gestyg. 50 is die neutrale vlak en ’n laer punt dui daarop dat die sektor bes moontlik aan die inkrimp is.

“Hoewel sakevertroue (nog) nie tot die vlakke tydens die vorige (en strawwe) resessie van 2009 gemeet is nie, is ons diep besorg oor die vooruitsigte.”

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel reik sy indeks van sakevertroue Woensdag uit. Agbiz en die Nywerheid-Ontwikkelingskorporasie het Maandag hul indeks van vertroue in die landbousektor bekend gemaak. Dit het tot 48 punte, die laagste vlak in twee jaar, gedaal, wat grootliks aan die onsekerheid oor grondonteiening toegeskryf word.

Lees ook: Onteiening ‘knou hele landbousektor’

Die indeks het in die eerste kwartaal tot 45 punte gespring ná die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa. In die tweede kwartaal het dit tot 39 punte teruggeval en in die derde kwartaal tot 38 punte.

Die peiling waarop die indeks gegrond is, is in die maand tot 6 September gedoen. Nagenoeg 1 700 sakelui in die verskillende sektore wat die indeks meet, is ondervra oor hul verwagtinge vir hul maatskappy oor die volgende paar maande.

Volgens RMB is die grootste redes vir die daling in sakevertroue die verswakking van die rand, ’n verswakking wat begin het toe Turkye in ’n handelsoorlog met die VSA betrokke geraak het en daarna deur die BBP-syfers afgedruk is. Dit het die vrees dat inflasie en daarna die rentekoers weer gaan styg, laat opvlam.

  • Vervaardiging: Vertroue in dié sektor het met nog 6 punte tot 21 gedaal. Die sektor is onder kwaai druk weens trae besteding aan infrastruktuur deur sowel die private as staatsektor.
  • Groothandelaars: Vertroue het met 13 punte tot 49 gedaal. Dit bly die sektor met die hoogste vlakke van vertroue, hoewel dit nou ook op negatiewe terrein is.
  • Kleinhandelaars: Vertroue is onveranderd op 33 punte. Dié sakelui is bekommerd omdat hulle nie juis hul pryse kan verhoog nie weens die druk op verbruikers, terwyl hul aankooppryse skerp styg weens die swakker rand. Dit plaas hul winsgrense onder druk.
  • Motorhandel: Vertroue in die sektor het met 6 punte tot 41 punte gestyg. Dis een van net twee sektore waar vertroue in die derde kwartaal gestyg het, maar die getal nuwe voertuie wat verkoop word, bly laag en vertroue bly op negatiewe terrein.
  • Boukontrakteurs: Hoewel vertroue met 8 punte tot 45 gestyg het, is dit nie verteenwoordigend van die hele sektor nie. Net bouers van huise se vertroue het gestyg omdat hulle verwag dat bouwerk soos gewoonlik in die vierde kwartaal van die jaar gaan styg. Nie-residensiële bouers en subkontrakteurs se vertroue het skerp gedaal.
Meer oor:  Rmb  |  Sakevertroue  |  Buro Vir Ekonomiese Ondersoek  |  Resessie  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.