Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kommer oor rentekoers neem toe weens inflasie

Inflasie het bes moontlik sy boonste draaipunt vir minstens die res van die jaar en dalk ook 2022 gehaal.

Dís die raming van ekonome nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) aangekondig het inflasie was in Mei 5,2%. Dit was die eerste keer in 30 maande, sedert November 2018, dat die koers bo 5% is.

LEES OOK: Inflasie skiet op tot hoogste in byna 3 jaar

Die ekonomiese span van Momentum Investments, Johann van Tonder, Sanisha Packirisamy en Herman van Papendorp, reken dat inflasie sy boonste draaipunt bereik het, selfs al gaan munisipale tariewe in Julie skerp styg. Munisipaliteite gaan kragtariewe met gemiddeld 14,6% verhoog, hoewel Kaapstad aangedui het hy gaan dit subsidieer en verhogings tot 13,5% beperk.

Die skrif is aan die muur dat rentekoerse sal styg. Die Reserwebank gaan die besluit waarskynlik so laat as moontlik probeer neem om verbruikers te beskerm in die konteks van die ekonomie wat nog van die Covid-19-inperkings herstel. Foto: iStock

Nedbank se ekonomiese eenheid onder leiding van Nicky Weimar meen ook dat inflasie waarskynlik sy hoogste vlak vir 2021 bereik het.

Die 36 ekonome wat aan Netwerk24, Die Burger, Beeld, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, verwag tans dat inflasie in 2021 gemiddeld 4,3% gaan beloop.

Daar is egter heelwat rede om bekommerd te wees oor die inflasie-trajek en dit verhoog op sy beurt die moontlikheid dat die Reserwebank vroeër eerder as later die rentekoers sal begin verhoog. Die grootste risiko is ’n voortslepende styging in kosprysinflasie, wat nou gemiddeld 6,7% beloop teenoor 6,3% in April.

Arthur Kamp, hoofekonoom van Sanlam Investments, sê die styging in inflasie wêreldwyd laat die vraag ontstaan of die plaaslike styging in inflasie meer is as net tydelik.

“Te midde van hoë verskepingskoste, langer afleweringstye en laer voorraadvlakke, lyk dit asof wêreldwye verskaffingskettings steeds ontwrig is.”

Die Investec-ekonoom Kamilla Kaplan beklemtoon net weer dat die hoë inflasiekoers toegeskryf kan word aan ’n lae basis in Mei 2020.

Inperkings wêreldwyd het toe die prys van onder meer olie laat vryval.

Suid-Afrika self het toe net van vlak 5 na vlak 4 van die inperking geskuif, wat nog uiters streng was: Hoewel mense soggens kon gaan oefen (van 06:00 tot 09:00), kon hulle nog nie drank of sigarette koop nie, en hulle kon nog net kos laat aflewer, nie gaan uiteet nie. Net wintersklere kon verkoop word. Salonne, gimnasiums en baie ander nie-noodsaaklike dienste was nog toe.

Van Tonder en kie skryf die lae basis ook deels daaraan toe dat die SSA nie alle produkte se prys kon meet nie weens die inperkings.

Inflasie was in Mei 2020 op 2,1% die laagste in bykans 16 jaar.

Rentekoers

Kamp verwag die inflasiekoers gaan op mediumtermyn naby die middelpunt (4,5%) van die Reserwebank se teikenband bly.

“Tesame met gedempte kredietverlening in die private sektor, dui dit daarop dat die Reserwebank kan bekostig om sy tyd te neem (om rentekoerse te verhoog), selfs al het sy kwartaallikse projeksiemodel verhogings van 25 basispunte in die tweede en vierde kwartaal van 2021 voorspel, wat impliseer dat die repokoers teen die einde van die jaar nagenoeg 4% sal beloop.”

Die model voorspel ook herhaalde stygings in 2022 tot 5%.

“In geheel gesien, gaan die plaaslike rentekoers-stygsiklus na verwagting matig en stadig wees, maar daar moet besef word dat die inflasierisiko verhoog het. Baie sal ook afhang van die toekomstige pad van Amerikaanse monetêre beleid.”

Die repokoers, waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke uitleen, is tans 3,5% en die prima rentekoers van banke 7%. As die repokoers teen einde 2022 is, sal die prima rentekoers 8,5% wees.

Die Reserwebank besluit weer op 22 Julie oor die rentekoers.

Die meerderheid deelnemers aan Ekonoom van die Jaar verwag dat die rentekoers in 2021 onveranderd gaan bly, maar die konsensus is vir ’n effense verhoging.

Weimar en haar span verwag wel dat die Reserwebank teen die einde van die jaar die rentekoers sal verhoog en dan nog drie keer in 2022.

Van Tonder en die res van die Momentum-span verwag egter dat die rentekoers eers in 2022 sal begin styg, hoewel daar reeds later vanjaar aanduidings sal wees dat sommige lede van die monetêrebeleidskomitee (MBK) ’n verhoging voorstaan.

“Dis moontlik dat sommige lede van die MBK in een of meer van die volgende drie MBK-vergaderings vanjaar valkagtig sal begin raak en vir ’n styging van 25 basispunte in die repokoers sal stem. Hulle sal egter waarskynlik eers wil vasstel of die huidige tempo van stygings in kommoditeitspryse sal voortduur, of inflasie sterk na die tweede ronde deursyfer en dat die basiseffekte uit die stelsel kan werk.”

Die Momentum-span is wel bekommerd oor die aanduidings dat die Federale Reserweraad (Fed) van Amerika rentekoerse in dié land dalk vroeër en skerper gaan verhoog.

Uitsprake deur Jerome Powell, Fed-voorsitter, het die rand verlede week vinnig laat verswak tot selfs R14,40 teenoor die dollar. Die rand het van 20 Mei tot 15 Junie onder R14 per dollar gesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.