Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kommer oor staatskuld se gevaar vir banke

Waarskuwingsligte flikker vir die Reserwebank oor die risiko van die hoë en stygende staatskuld vir die finansiële stabiliteit in die land.

Die Reserwebank se kantoor in Pretoria.

Die Reserwebank se eerste oorsig oor finansiële stabiliteit vir 2021 verwys nou na staatskuld as ’n “wesenlike gevaar” vir die land se finansiële stabiliteit.

Dit gaan oor banke se blootstelling aan staatskuld. In die twee verslae wat in 2020 uitgereik is, is die onderlinge verband tussen die banksektor en die staat sover vasgestel vir die eerste keer uitgelig as ’n spesifieke risiko.

In die jongste verslag word die risiko van hoë en stygende staatskuld as ’n spesifieke risiko uitgewys.

’n Risiko-assesseringsmatriks (RAM), wat die primêre risiko’s vir finansiële stabiliteit op ’n mediumtermynhorison toon, wys die gevaar van “die hoë en stygende staatskuld” vir die eerste keer (en dit is die enigste risiko wat in rooi vertoon word).

Gegewe die belangrikheid van die bedreiging en die kompleksiteit daarvan, is ’n hele hoofstuk daaraan toegewy.

Groter blootstelling

Die risiko gaan oor hoeveel staatseffekte deur banke en ander finansiële instellings gehou word.

“Die regering se reaksie op die Covid-19-pandemie, tesame met swakker belastinginkomste, het gelei tot ’n sterk toename in staatskuld.”

Staatskuld was vóór dit reeds hoog. Die pandemie het gekom nadat die verhouding van staatskuld-tot-BBP in die voorafgaande dekade verdubbel het.

k

Volgens die Reserwebank het die deelname van buitelandse beleggers in die staatseffektemark verlede jaar gedaal en dit het meegebring dat plaaslike finansiële instellings hul blootstelling aan staatskuld verhoog het.

Die effektemark is waar die staat geld leen.

“Die onderlinge verband tussen die finansiële sektor en die staat bied ’n stygende sistemiese risiko vir Suid-Afrika. Hoewel daar nog altyd groot afhanklikhede tussen hierdie twee sektore was, het ’n paar belangrike verwikkelinge tot die toenemende risiko vir finansiële stabiliteit gelei.”

Volgens die Reserwebank ondersoek hy beleidsopsies om dié gevaar vir finansiële stabiliteit te verminder.

“Dit is heeltemal normaal vir finansiële instellings om ’n blootstelling aan staatskuld te hê. Die beduidende toename in die omvang van die blootstelling onlangs, tesame met die regering se toenemende onsekere finansiële posisie, het ’n aantal risiko’s vir die plaaslike finansiële sektor meegebring.”

Dit is onder drie dreigende gevare van ses wat as ’n risiko vir die finansiële stabiliteit beskou word.

Die ander twee is dat die pandemie verder kan opvlam en dat toestande in die finansiële markte vinnig omswaai.

3 dreigende risikos

Die dinge wat verander het wat tot die dreigende risiko van staatskuld gelei het, is:

1. Markrisiko

Eerstens stel die hoë en stygende staatskuld die finansiële sektor bloot aan krediet- en markrisiko, terwyl dit ook die waargenome kredietwaardigheid van die finansiële sektor aftrek.

Banke leen op hul beurt geld van beleggers deur hul blootstelling aan staatseffekte as sekuriteit aan te bied.

As die waarde van staatseffekte daal, gaan dit die waarde van dié sekuriteit wat aangebied word, laat daal.

“Sulke gebeure kan lei tot druk in die groothandel-finansieringsmark, wat ernstige gevolge vir die breë finansiële stelsel kan meebring.”

Dit word internasionaal algemeen aanvaar dat die blootstelling aan staatskuld vrygestel is van baie regulasies vir banke omdat staatskuld normaalweg die mees likiede en veiligste finansiële bate in ’n ekonomie is.

“Dit was vanuit ’n regulatoriese perspektief histories pragmaties om die blootstelling anders te behandel as blootstelling aan die private sektor. Dit word egter duidelik dat regulatoriese vrystelling in dié verband kan lei tot konsentrasie-risiko en dat banke onvoldoende kapitaal kan hou teen die blootstelling.”

2. Staatsbesteding

Tweedens plaas die regering se leningsvereistes en bestedingspatrone opwaartse druk op rentekoerse, met nadelige gevolge vir beleggingsaktiwiteite in Suid-Afrika.

3. Min hulp beskikbaar

Derdens gaan dit staatshulp vir banke wat in die moeilikheid beland, beperk. Dié siening kan veroorsaak dat bankdeposante meer geneig is tot banklopies en ander risikovermyding. Dit is die tipe gedrag wat onder groothandelfinansiers tydens die eurosone-staatskuldkrisis gesien is.

2 matige risiko

1. Pandemie kan langer duur

Die ander brandende, maar matige gevaar vir finansiële stabiliteit is die pandemie, wat die Reserwebank meen tot in 2022 kan voortduur.

Die ekonomie het verlede jaar sy ergste resessie beleef in 101 jaar weens die pandemie en inperkings.

Terwyl die pandemie ’n korttermynbedreiging vir die ekonomie inhou, is daar langtermyn- strukturele gevolge wat kan voortduur lank nadat dit geëindig het. Dit sluit in hoër vlakke van skuld en groter ongelykheid.

Die pandemie het reeds ’n wesenlike impak op die plaaslike finansiële sektor gehad. Banke het ’n toename in finansieringskoste ervaar en ’n skerp styging in wanbetalings op lenings, terwyl versekeringsmaatskappye laer winste en stygende eise aangemeld het.

Sekere finansiële markte het te midde van die onsekerheid verlede jaar wanfunksioneel geword.

Die Reserwebank en ander finansiële reguleerders het maatstawwe ingestel om finansiële stabiliteit te beskerm.

2. Strammer toestande neem vinnig toe

Die ander dreigende, maar matige gevaar, is as ekonomiese toestande vinnig strammer raak.

Volgens die Reserwebank is die finansiële toestande in die plaaslike finansiële mark baie ontspanne.

Dié toestande het aansienlik gespanne geraak in Maart 2020 toe verhoogde risikovermyding in finansiële markte gelei het tot ’n val in aandeel- en ander batepryse, hoër leningskoste en ’n swak wisselkoers. Dit hou alles verband met meer gespanne toestande.

Die Reserwebank se indeks oor finansiële toestande het van April 2020 skerp gedaal. (Dié indeks word saamgestel uit batepryse en finansieringskoste in die binneland en buiteland. ’n Styging in die indeks dui op die stygende koste van finansiering en dus strenger toestande. Hoewel losser finansiële toestande in die algemeen ekonomiese groei op kort termyn ondersteun, kan dit ook verband hou met toenemende risiko-neming in die finansiële markte.)

Dié indeks het in Desember sy laagste vlak op rekord bereik.

Die Reserwebank skryf dit toe aan die beleid- en bedryfsmaatreëls wat hy in 2020 ingestel het (rentekoersdalings en ingryping in die effektemark), asook van sentrale banke in ontwikkelde ekonomieë wat batepryse en likiditeit in hul plaaslike mark ondersteun het.

“Omdat finansiële toestande nou veral ontspanne is, is dit waarskynlik dat dit in die toekoms tot ’n mate strammer gaan raak.”

Volgens die Reserwebank prys beleggers ’n sterk herstel in die ekonomiese bedrywighede in Amerika in, asook inflasie op mediumtermyn wat gelei het tot ’n styging in opbrengskoerse op Amerikaanse staatseffekte.

’n Styging daarin neig om opkomende markte se finansiële bates minder aantreklik te maak.

“Die tendens het begin om druk te plaas op die invloei van kapitaal na Suid-Afrika en ander opkomende markte. As dit voortduur, kan dit tot ’n verswakking in die wisselkoers, inflasiekommer en hoër rentekoerse lei.”

Meer oor:  Staatskuld  |  Banke  |  Staatseffekte  |  Bankbedryf  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.