Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Koolstoftaks: Te laag vir impak, te hoog vir sake
Om klimaatsverandering te verhoed moet Suid-Afrika se koolstofbelasting eintlik baie hoër wees. Foto: Pixabay

Koolstofbelasting sal nie ’n negatiewe uitwerking op handel hê nie, maar sal help om Suid-Afrikaanse maatskappye te beskerm teen strafsanksies indien hulle nie hul vrystelling van kweekhuisgasse verminder nie.

Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal van die nasionale tesourie, het Dinsdag aan die staande komitee oor finansies gesê wanneer koolstofbelasting van krag word, sal meer internasionale maatskappye met plaaslike maatskappye wil handel dryf.

Momoniat het gesê maatskappye wêreldwyd voel die druk om minder kweekhuisgasse vry te stel omdat dit ’n probleem is wat almal raak.

“Wat ons wil hê, is dat almal se ingesteldheid verander.”

Daar word al sedert 2010 aan die Wet op Koolstofbelasting gewerk. Momoniat sê die tesourie het oor die jare heen gekyk na alle kwessies wat deur belanghebbendes geopper is.

Die wet is in November in die parlement ter tafel gelê deur Tito Mboweni, minister van finansies, en word op 1 Junie 2019 van krag.

Ongelukkig lyk dit asof dit in ons land ’n ernstige stryd gaan wees
Ismail Momoniat

Koolstofbelasting gaan maatskappye se wins raak, maar dit is die rigting waarin die wêreld beweeg, sê Momoniat.

Die Wêreldbank en die meeste uitleners wêreldwyd dring daarop aan dat maatskappye stappe doen om minder koolstof vry te stel.

“Ongelukkig lyk dit asof dit in ons land ’n ernstige stryd gaan wees,” het Momoniat gesê.

Op watter vlak raak dit doeltreffend?

Die aanvanklike koolstofbelasting is R120 per ton CO2e (koolstofdioksied-ekwivalente). Maar vanweë ’n reeks belastingvrystellings sal dit in effek R48 per ton en selfs so laag soos R6 per ton CO2e beloop.

Daar is noemenswaardige weerstand hierteen uit die sakewêreld, terwyl dit uit ander kringe gekritiseer word omdat dit te laag is.

Die internasionale hoëvlakkommissie oor koolstofpryse sê die enigste manier wat koolstofbelasting sal slaag in die doel om klimaatsverandering onder 2 °C te hou, is as die minimum koolstofbelasting tussen R560 en R1 120 per ton is teen 2020, en toeneem tot tussen R700 en R1 400 per ton teen 2030.

In Augustus het Stephen Cornell, uitvoerende hoof van Sasol, gesê koolstofbelasting sal Sasol se winsgewendheid bedreig.

“Ons vermoed dit sal ons R1 miljard per jaar kos,” het hy gesê.

Aan die ander kant waarsku die sentrum vir omgewingsregte (CER), ’n organisasie sonder winsbejag, die beplande private Thabametsi-steenkoolkragsentrale in Limpopo sal een van die grootste besoedelaars wêreldwyd wees.

Maar die 630 MW-kragsentrale sal teoreties vir sy geskatte 9,9 miljoen ton CO2e-vrystellings per jaar slegs R475,2 miljoen aan koolstofbelasting betaal, en moontlik selfs so min soos R59,4 miljoen.

Eskom sal wel aanvanklik nie self geraak word deur die koolstofbelasting nie vanweë vrystellings wat spesifiek op hom van toepassing is.

Die meeste ander bedrywe stel aansienlik minder CO2e vry as steenkoolkragsentrales.

– Fin24, verwerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.