Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Korona kom SA baie duur te staan

’n Skerp ekonomiese inkrimping van 1,2% in wêreldgroei en 2%-inkrimping vir Suid-Afrika word vanjaar verwag weens die uitwerking van Covid-19.

’n Gesondheidswerker praat Donderdag op sy foon langs die deur van ’n noodtent op die perseel van die La Paz-hospitaal in Madrid, Spanje. Foto: Getty Images

Ekonome meen wel die situasie kan vinnig herstel mits die koronavirus-pandemie binne die volgende paar maande in bedwang gebring word.

Groot kommer bestaan oor die uitwerking van die pandemie. Die 21 dae van inperking bedreig klein ondernemings se voortbestaan en kom myne en sekere vervaardigers ook duur te staan. Daar word gevrees tot ’n miljoen mense kan hul werk verloor.

Die Edcon-groep, die land se tweede grootste kleregroep, blyk een van die eerste groot sakeslagoffers te wees.

Edcon Holdings, wat Edgars- en Jet-winkels besit, sukkel lankal en het onlangs ’n regrukstrategie aangekondig.

Grant Pattison, uitvoerende hoof, het Vrydag aan Bloomberg gesê die meeste van Edcon se 1 100 klerewinkels sal na verwagting sluit.

Die groep se vergelykende verkope het met 45% gedaal sedert pres. Cyril Ramaphosa sowat twee weke gelede ’n nasionale ramptoestand afgekondig het.

Maart se inkomste sal sowat R400 miljoen laer wees as verwag en saam met ’n verwagte daling in skuldinvordering, sal die groep net genoeg geld hê om salarisse te betaal. “Edcon kan geen ander rekeninge in dié tyd betaal nie,” het Pattison gesê.

Die maatskappy, wat 18 000 mense in diens het, sê hy sal met die regering praat oor staatshulp.

“Wat ons by Edcon ervaar, is ’n vroeë aanduiding van die uitdagings wat die inperking vir die regering en verskeie ander ondernemings sal bring.”

Hugo Pienaar, hoofekonoom van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek, het die afgelope week getwiet Suid-Afrika produseer sowat R9 miljard in reële BBP per dag. Ruweg bereken, beteken ’n inperking van 21 dae dus ’n verlies van R189 miljard. Trek dit af van 2019 se reële BBP en dit beteken die ekonomie krimp in met 6% in 2020.

Hy noem wel dat alles nie tot stilstand kom nie omdat sekere bedrywighede sal voortgaan en dat naweke nie buite rekening gelaat moet word nie.

Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group (OMIG), sê nie net ontluikende markte sal swaarkry nie. Vir Amerika word ’n ekonomiese inkrimping van 1,8% voorspel (teenoor 2,3%-groei in 2019) en vir die eurosone ’n inkrimping van 3,5% (2019: 2,9%-groei). Hoewel China baie swak syfers vir die eerste en tweede kwartaal verwag, sal die Chinese ekonomie na verwagting vanjaar met 1,2% groei (2019: 6,1%).

Kristalina Georgieva, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), het Maandag in ’n verklaring gesê ’n wêreldresessie soortgelyk aan 2008 se finansiële krisis word verwag, met herstel in 2021.

Sowat 80 lande het reeds finansiële hulp by die IMF gevra.

Tom Orlik, hoofekonoom van Bloomberg Economics, sê ’n stabilisering in die tweede helfte van die jaar sal grootliks afhang van lande se vermoë om die virus te bekamp en genoeg stimulus te verskaf om vir verlore inkomste te vergoed.

Els het vandeesweek in die voorlegging van OMIG se ekonomiese oorsig oor die eerste kwartaal gesê ’n V-vormige insinking wêreldwyd word verwag as die virus oor die volgende drie maande wyk, mense fisieke afstand handhaaf, gehoor gee aan die inperkingsmaatreëls en daar nie ’n tweede vlaag infeksies is nie.

As laasgenoemde gebeur, sal dit ’n langer resessie en W-vormige groeipad beteken.

Hy sê die waarskynlikheid van ’n V-vormige herstel is reeds groter ná aansienlike stimulusmaatreëls deur verskeie sentrale banke, maar meer steun is nodig.

Hy het die aankondiging Woensdag deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) verwelkom dat hy staatseffekte van beleggers gaan terugkoop om ’n tekort aan kontant in die finansieringsmark in die land te verlig.

Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, sê die SARB se aankondiging van ’n onbeperkte terugkoop van staatseffekte het die rand en die koers op effekte effens ondersteun.

Die SARB se boodskap dat hy maatreëls sal instel “totdat likiditeitstoestande normaliseer” het ook ’n mate van kalmte gebring, sê Bishop.

Dit volg nadat die SARB se monetêre beleidskomitee (MBK) verlede week verras het deur die rentekoers met 100 basispunte te verlaag.

Els meen Suid-Afrikaners kan nóg verlagings van 75 basispunte verwag en dit kan gebeur voor die MBK se volgende beplande vergadering in Mei.

Dit sal verbruikers help, asook die prysverlaging van ver meer as R1 per liter brandstof vir April (ondanks die verhoging van 25c/liter in die brandstofheffing wat op 1 April van krag word).

Els sê egter hy verwag omdat verbruikers onder soveel druk is, sal hulle dié ekstra geld eerder spaar as bestee.

Hy stel ook voor die regering oorweeg ’n eenmalige betaling van R200 aan elkeen van die 18,3 miljoen landsburgers wat ’n maatskaplike toelaag ontvang. Dit sal R3,6 miljard kos.

Orlik sê om ’n langer wêreldwye afswaai te keer moet sentrale banke aggressiewe stimulusmaatreëls instel om te voorkom dat finansiële stres in ’n skuldkrisis ontaard.

Els sê 2020 kan ’n waterskeidingsjaar vir die Suid-Afrikaanse politiek wees waarin Ramaphosa sy posisie kan verstewig en meer beslissende besluite neem.

Een daarvan is die staat se salarisrekening wat in bedwang gebring moet word. Volgens Els behoort die regte van 59 miljoen landsburgers in die krisis, wat ook die fiskale situasie verder laat versleg het, swaarder te weeg as dié van 3,5 miljoen staatsamptenare wat verhogings bo inflasie eis.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Resessie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.