Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Koronavirus: Tekort na maskers van rakke vlieg

Gesigsmaskers vlieg van winkelrakke wêreldwyd weens toenemende vrese oor die nuwe koronavirus. Fabrieke kan nie voorbly met die vervaardiging van gesigsmaskers nie.

Winkelrakke is leeg van Kalifornië tot Beijing, selfs al is dit onseker of die maskers wel doeltreffend is om die virus te keer.

Op die webwinkels van Amazon en Alibaba het baie winkels wat gesigsmaskers bemark het as “teen-virus-maskers” se voorraad Woensdag opgeraak.

Terselfdertyd het mense ure lank in rye gestaan voor winkels en apteke om hul hande op die krimpende voorraad te kry.

In San Francisco en Orlando in Amerika het verbruikers gesê hulle kan nie chirurgiese maskers kry by die winkels waar hulle dit gewoonlik koop nie.

Chinese wat in die buiteland woon, koop ook maskers om terug te stuur na hul familielede of dit te herverkoop.

Veral die N95-masker van 3M is gewild.

Tourists wear protective face masks as they walk i
Gesigmaskers raak skaars noudat die koronavirus so wyd versprei. Foto: Getty Images

Na verwagting gaan die vraag na die maskers toeneem, selfs al is medici onseker of dit doeltreffend is om die siekte te bekamp.

Meer as 6 000 mense is nou reeds met die nuwe koronavirus besmet. Dit is meer as die nagenoeg 5 327 gevalle wat 17 jaar gelede in China aangemeld is met die uitbreking van ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears).

“Ek hardloop nou al dae lank rond om maskers te koop,” het Liu Yan, wat in Tokio werk, aan Bloomberg gesê. Sy het uiteindelik 2 000 maskers gekoop om terug te stuur na China.

“Goeie higiëne, insluitend om jou hande gereeld te was met ’n alkohol-gegronde ontsmettingsmiddel, kan dalk meer doeltreffend wees as gesigsmaskers,” sê Peter Collignon, ’n mikrobioloog en kundige oor aansteeklike siektes van die Canberra-hospitaal in Australië.

Die Chinese regering het begin toeslaan op winkels wat vervalste maskers verkoop of hul pryse aanlyn verhoog.

Meer as 80 winkels op die aanlyn platform Taobao, wat deur Alibaba bestuur word, het na bewering vervalste 3M- en N95-gesigsmaskers verkoop, het China se staatsmedia Maandag berig.

Alibaba sê hy het winkels wat vals inligting in advertensies gegee het of pryse opgeblaas het van sy platform af verwyder. Alibaba sê 80 miljoen gesigsmaskers is binne twee dae op Taobao verkoop.

In Hongkong beperk sekere kettingwinkels nou hul verkope.

Die handelaar Watsons sê op sy Facebook-blad ’n beperkte voorraad word Donderdag ontvang en hy gaan verkope tot 50 per persoon beperk.

Die maatskappy 3M sê hy gaan sy produksie verhoog en werk saam met sy verspreiders om seker te maak daar is genoeg voorraad beskikbaar om in die behoeftes te voldoen.

Ander fabrieke wat dié maskers vervaardig, gaan ook produksie verhoog.

Fabrieke wat gesigsmaskers aan Unicharm van Japan verskaf, werk sedert 17 Januarie onverpoos nadat bestellings tienvoudig toegeneem het, sê Hitosji Watanabe, woordvoerder van Unicharm. – Bloomberg

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.