Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Koronavirus plaas kollig nou helder op landbou

Die hele voedsel-waardeketting is vrygestel van die 21 dae lange landwye inperking wat Vrydag afgeskop het.

Sonder ’n betroubare landbousektor wat aanhou kos prooduseer, sou die staat van inperking veel, veel erger gewees het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is natuurlik verstaanbaar, want daar is geen plaasvervanger vir voedsel om aan die lewe te bly nie. Rugby, krieket, kuier om ’n kampvuur is lekker en dagtake is nuttig om ’n inkomste te verdien, maar kos is noodsaaklik.

Bitter min mense gaan ongeskonde van hierdie pandemie afkom, hoewel sektore wat hoofsaaklik op internet-kommunikasie gerig is en ook verskeie ander dienstesektore hul toegevoegde waarde tot die ekonomie sal kan handhaaf.

Danksy Maart se paniekaankope behoort kleinhandelaars ook ’n goeie eerste kwartaal te beleef, maar ’n inkrimping van ekonomiese aktiwiteit behoort in die tweede kwartaal ondervind te word, veral weens die sluiting van myne en talle fabrieke.

Sonder kos is daar chaos

Hopelik sal die huidige krisis ’n duidelike boodskap aan die parlementariërs stuur wat eersdaags oor die beoogde wysiging van art. 25 van die Grondwet gaan besin: Sonder ’n lewenskragtige primêre landbousektor sou die huidige pandemie soos ’n Sondagskool-piekniek gelyk het. Moenie met die beginsel van private eiendomsreg lol nie.

Om mense in te perk wie se spense en vrieskaste oorwegend vol is, behoort redelik vreedsaam te verloop. Wanneer groot getalle mense egter honger raak, is maatskaplike wanorde en chaos ’n gemeenskap se voorland.

Sonder ’n lewenskragtige primêre landbousektor sou die huidige pandemie soos ’n Sondagskool-piekniek gelyk het.
koronavirus, landbou

Sonder Suid-Afrika se landbouers sal ’n groot deel van die sowat 350 miljoen inwoners van die lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) deurentyd van ingevoerde voedsel afhanklik wees en in ’n krisis (soos tans) honger ly.

Gelukkig bestaan daar onder pres. Cyril Ramaphosa se leierskap tekens van groter samewerking tussen sakeleiers in die landbou-waardeketting en die regering.

’n Suksesvolle landboukonferensie (genaamd Africa Agri Tech) is juis in Februarie by die Maslow Time Square in Menlyn aangebied, waar meer besonderhede oor ’n nuwe ontwikkelingsagentskap vir die landbou deur Roelf Meyer bekend gestel is.

Die konferensie is bygewoon deur heelwat megaboere en leiers uit bykans die volle spektrum van landbou-ondernemings. Indrukwekkende uitstallings het die konferensiesale versier en planne is beraam om die landbousektor op ’n inklusiewe manier uit te bou, veral met tegnologiese vernuwing.

Bykans alle lande erken die strategiese rol van landbou – in so ’n mate dat Europa se hoë vlakke van staatsubsidies aan sy boere ’n permanente kopseer vir ontwikkelende lande is, ook vir Suid-Afrika.

Sonder landbou en voedselverwerking sou Suid-Afrika se handelsbalans nie naasteby so goed vertoon het nie en sou die totale handelsurplus van sowat R25 miljard (in 2019) in ’n tekort van R24 miljard verander het.

Dit is nie nodig om op moedverloor se vlakte te gaan sit nie.

Verdere goeie nuus is die verbetering in die landbou-sakekamer (Agbiz) se vertrouensindeks onder landbouers, wat in die eerste kwartaal van vanjaar vir die eerste keer sedert die derde kwartaal van 2018 weer tot ’n vlak van 50 beweeg het (dit is die ewewigspunt tussen optimisme en pessimisme).

Een van die hoofredes waarom die Agbiz-indeks die afgelope twee jaar gesukkel het, is die hoë finansieringskoste waaronder landbouers gebuk moes gaan weens die Reserwebank se onnodig streng monetêre beleid.

Reserwebank skrik wakker

Hier is natuurlik nog ’n ligpunt, aangesien die Covid-19-pandemie die Reserwebank oënskynlik laat wakker skrik het en die prima oortrekkingskoers met 100 basispunte verlaag het (via ’n laer repokoers), met nóg rentekoersdalings ’n sterk moontlikheid. Dit sit geld terug in die sakke van miljoene Suid-Afrikaners met skuld.

Dit is nie nodig om op moedverloor se vlakte te gaan sit nie. Hierdie pandemie, nes die meeste ander wat die wêreld in die tydperk ná Christus getref het, sal verbygaan. Aandelemarkte sal herstel en die ekonomie sal weer groei – hopelik van die derde kwartaal af.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Voedselsekerheid  |  Landbou  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.