Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kospryse: Dis ’n donker wolk met ’n silwer randjie

Die groothandelprys van blikkieskos, brood en ander verwerkte kossoorte is besig om al hoe skerper te styg, wys syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgereik het.

Daar is nie veel om oor te jubel as jy inkopies gaan doen nie.

Die produsenteprys van finaal vervaardigde kosse het in Desember met gemiddeld 2,2% gestyg, teenoor 1,8% in November. Die Investec-ekonoom Lara Hodes verwag dat dié styging, al is dit matig, ’n neiging gaan bly in die nuwe jaar.

Dis slegte nuus vir verbruikers, wat waarskynlik in Januarie en Februarie die groothandelstygings aan hul eie bas gevoel het of binnekort gaan voel.

Die Nedbank-ekonome Busisiwe Radebe en Dennis Dykes verwag egter dat kospryse in die eerste paar maande van 2019 al hoe stadiger gaan styg, sowel op produsente- as verbruikersvlak.

Die oorhoofse produsenteprysinflasie (PPI) vir vervaardigde goedere het verbeter tot 5,2%, teenoor 6,8% in November, grootliks danksy die daling in brandstofpryse.

Die PPI-syfers het wel iets wat binnekort goeie nuus vir verbruikers kan bring: Die prys van vleis op groothandelvlak is vir die tweede maand in ’n ry laer as ’n jaar gelede.

Boere verdien nou 17% minder vir lewende hawe as ’n jaar gelede en 10,6% minder vir melk en eiers, en ook dié dalings behoort mettertyd neerslag te vind op winkelrakke.

Verbruikers beleef nog nie juis dié dalings wanneer hulle inkopies doen nie. Daar is ’n tydsverloop tussen wanneer kleinhandelaars hul vleisprodukte aanskaf en wanneer dit op die rak beland.

Woolworths en Pick n Pay het op navraag aan Netwerk24 bevestig dat sekere snitte reeds goedkoper geword het as ’n jaar gelede of binnekort goedkoper gaan word.

Die verlangsaming of selfs daling in vleispryse word deels toegeskryf aan die bek-en-klouseer-epidemie wat in Limpopo uitgebreek het. As gevolg daarvan kan Suid-Afrika glad nie beesvleis uitvoer nie, wat tot ’n groter aanbod – en hopelik ’n daling in pryse – kan lei.

Agri SA het onlangs met ’n veldtog begin waarin mense aangemoedig word om meer te braai.

Die Nedbank-ekonome verwag egter skerp stygings in vleispryse wanneer boere hul kuddes begin herbou ná die bek-en-klouseer-epidemie. Dit kan minder vleis op die mark veroorsaak, wat pryse weer sal opdruk.

Al die PPI-syfers:

  • PPI vir finaal vervaardigde produkte: 5,2% (teenoor 6,8% in November)
  • PPI vir intermediêr vervaardigde produkte: 5% (6%)
  • PPI vir water en krag: 7,7% (7,2%)
  • PPI vir mynbou: 6% (4,8%)
  • PPI vir landbou, bosbou en visserye: -3,9% (-4,6%)
Meer oor:  Kospryse  |  Inflasie  |  Ppi  |  Kosprysinflasie  |  Vleispryse  |  Inflasiekoers  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.