Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Koste van virustoetse knou toerisme’

Lande moet waak teen duur koronavirustoetse wat die besprekings van vliegkaartjies kan ontmoedig.

reisbedryf
Sommige korter vlugte in Amerika kos minder as 'n toets vir Covid-19, waarsku die Internasionale Lugvervoervereniging. Foto: Unsplash

Willie Walsh, direkteur-generaal van die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata), het vandeesweek op ’n mediakonferensie gewaarsku dat hoewel die toetse noodsaaklik vir die herstel van die internasionale reisbedryf is, sal die koste daarvan ’n groot hap neem uit mense se vermoë om vlugte te bespreek.

Volgens hom moet regerings ook nie net staatmaak op inentings voordat besluite oor verdere reisverslappings of -beperkings geneem word nie.

Hy het gesê dit kan daartoe lei dat daar gediskrimineer word teen mense wat die inentings weens verskeie redes nie kan bekostig nie. Hy het gewaarsku dat baie lande geld maak uit die koronavirustoetse wat vereis word voordat reisigers op vliegtuie mag klim.

Volgens Walsh het Iata navorsing oor 16 lande gedoen en net Frankryk volg tans die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se voorskrif dat regerings en nie die reisigers nie die koste van die toetse dra.

“Iata se navorsing toon dat winsbejag ’n rol in die toetse in die 16 lande speel. Die koste van hierdie toetse gaan die vraag na vlugte beïnvloed as daar nie aandag aan gegee word nie.”

Hy daarop gewys dat sommige korter vlugte in Amerika byvoorbeeld minder as die koronavirustoets kos.

“Wat gebeur as ’n gesin van vier wil reis? Ons kan dus aflei dat die koste van die toetse ’n groot effek op gesinne en reisigers se reisplanne gaan hê. Internasionale reise kan nie weer net vir die rykes beskore wees nie.”

Hy het onderneem om met die navorsing oor die effek van die toetse op reispatrone voort te gaan en dat voorstelle oor alternatiewe, soos antigeentoetse, gemaak sal word.

Wat gebeur as ’n gesin van vier wil reis? Ons kan dus aflei dat die koste van die toetse ’n groot effek op gesinne en reisigers se reisplanne gaan hê. Internasionale reise kan nie weer net vir die rykes beskore wees nie.
Willie Walsh, direkteur-generaal van die Internasionale Lugvervoervereniging

Sy kritiek op die koste van die toetse kom kort nadat Iata die syfers vir Maart van die getal wêreldwye vlugte, internasionaal sowel as plaaslik, bekend gemaak het.

Volgens Iata was die wêreldwye vraag na lugreise in Maart 67,2% minder as in Maart 2019. Die syfers word met dié van 2019 vergelyk omdat 2020 se syfers deur streng inperkings weens die pandemie nie vergelykbaar is nie.

Maart se syfers lyk wel beter as dié van Februarie toe ’n daling van 74,9% teenoor Februarie 2019 aangeteken is.

Volgens Iata was die verbetering in Maart grootliks aangedryf deur winste in lande soos China, waar veral plaaslike vlugte toegeneem het.

Internasionale lugverkeer was in Maart egter steeds grotendeels beperk.

Die internasionale passasiersvraag in Maart was 87,8% laer as in Maart 2019.

Die totale vraag na lande se binnelandse vlugte was 32,3% laer as voor die krisis (Maart 2019). Dit is wel ’n groot verbetering teen Februarie toe plaaslike vlugte 51,2% laer as in Februarie 2019 was.

Brasilië en Indië trek egter steeds baie swaar.

Afrika se passasiersvraag het ook nie in Maart baie goed gevaar nie. Dit was 73,7% laer as in Maart 2019. Maart se syfers was ook swakker as dié in Februarie toe die passasiersvraag 72,3% laer as in Februarie 2019 was.

Die vlugte in Afrika was in Maart ook net gemiddeld 49% vol.

Meer oor:  Iata  |  Covid-19  |  Lugdienste  |  Lugvervoer  |  Inenting  |  Toerisme  |  Vliegkaartjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.