Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kostrollie met dié items was goedkoper in Desember

As brood, graanprodukte en vrugte ’n beduidende deel van jou dieet uitmaak, het jou maandelikse kostrollie in Desember minder gekos as die vorige jaar.

Brood en graanprodukte het met ’n stewige 5% goedkoper geword, veral weens die daling in die prys van mielies danksy 2017 se rekordoes, volgens Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz.

   

        

Sihlobo verwag dat graanpryse op kort termyn sal aanhou daal of verlangsaam omdat daar nog heelwat voorraad van die vorige seisoen is, selfs ondanks vrese oor die droogte in die Wes-Kaap en in ander dele van die land.

Die voorraad mielies het nog in November op 8,2 miljoen ton gestaan, byna dubbeld die voorraad op dieselfde tyd van die vorige jaar.

Sihlobo sê die 2017-’18-seisoen vir somergraan en oliesade “het nie so goed begin as wat ons verwag het nie. Plantery was minder as beplan weens droë grond in die Wes-Vrystaat en Noordwes.

“Dit het egter ’n minimale uitwerking gehad op graanpryse soos mielies, wat steeds 40% goedkoper is as dieselfde tyd verlede jaar.”

Sihlobo sê dis inderdaad so dat minder koring in die Wes-Kaap verbou word weens die droogte, maar Suid-Afrika voer reeds koring in en pryse verhandel op die vlak van invoerpariteit. Hy verwag daarom nie dat die droogte ’n groot impak op kospryse gaan hê nie.

Vrugte het in Desember gemiddeld 4,2% goedkoper geword as ’n jaar gelede.

Nog ’n kategorie voedsel waarvan die prys gedaal het, was olies en vette, wat 2,6% goedkoper was.

Vleispryse

Mense wat heelwat vleis eet, trek egter steeds swaar. Die mandjie vleispryse wat SSA meet, was 14% hoër as ’n jaar gelede.

Plantery was minder as beplan weens droë grond in die Wes-Vrystaat en Noordwes.
Wandile Sihlobo

Vleisprysinflasie was sedert middel 2017 hemelhoog en het in September ’n hoogtepunt van 15,6% bereik.

Desember is “slagmaand” in Suid-Afrika, met ’n groot styging in die hoeveelheid vee wat geslag word. Pryse styg gewoonlik nietemin in dié maand weens die seisoenale hoër vraag na vleis.

Sihlobo sê 9% meer vee is in November, die nuutste beskikbare syfers, geslag as in Oktober. Die Desember-slagsyfer is nog nie bekend nie. Hy verwag dat slagsyfers hoog sal bly soos wat die bedryf aanhou om te “normaliseer” ná die 2015-’16-droogte.

Ander skerp stygings in jou kostrollie in Desember was vir wyn, wat 7,1% duurder was as ’n jaar gelede, en bier, wat 5,2% duurder was.

Wyndrinkers kan vanjaar aansienlike stygings in pryse verwag omdat die wynoes weens die Wes-Kaapse droogte waarskynlik die kleinste in ’n dekade sal wees, het die organisasie VinPro verlede week gesê. VinPro het op grond van die verkope verlede jaar – plaaslik en oorsee – beraam dat ’n tekort van sowat 90 miljoen liter kan ontstaan.

Melk, kaas en eiers het in Desember gemiddeld 4,8% duurder gekos. Eiers is steeds aansienlik duurder as voor die uitbreking van die voëlgriep-epidemie, wat veral lêhoenders geraak het, hoewel winkelrakke met eiers weer landwyd vol blyk te wees.

Suikerpryse kan dalk begin daal soos wat die streke waar dit verbou word, ook van die droogte herstel. Daar is reeds tekens daarvan, met suikerryke kossoorte wat in Desember 0,8% goedkoper was as in November.

Meer oor:  Agbiz  |  Ssa  |  Wandile Sihlobo  |  Droogte  |  Broodprys  |  Inkopies  |  Vrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.