Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Krimpende Singapoer stuur skokgolwe deur wêreld

Die onverwagte inkrimping in Singapoer se ekonomie in die tweede kwartaal stuur waarskuwingseine aan die wêreldekonomie te midde van nuwe handelspanning.

Singapoer
Houerhyskrane in die hawe van Singapoer. Die stadstaat se ekonomie het in die tweede kwartaal met ’n skokkende 3,4% gekrimp.Foto: Reuters

“Singapoer is die kanarie in die steenkoolmyn, want dit is ’n baie oop ekonomie wat sensitief is vir handel,” verduidelik Chua Hak Bin, ekonoom van Maybank Kim Eng Research in Singapoer.

Die stadstaat wat van ’n sukkelende armoedige gebied in die 1950’s tot ’n moderne ekonomie ontwikkel het en dikwels as voorbeeld van suksesvolle ekonomiese transformasie voorgehou word, is baie afhanklik van uitvoer en internasionale handel wat deur sy hawe beweeg. Sy BBP het in die tweede kwartaal met 3,4% teenoor die eerste kwartaal gekrimp. Dit is die skerpste daling sedert 2012 en het ekonome heeltemal onkant betrap. Bloomberg se peiling van ekonome het gedui op ’n verwagte groei van 0,5% in die tweede kwartaal ná groei van 3,8% in die eerste kwartaal.

Dit kom tesame met Suid-Korea se ekonomie wat reeds in die eerste kwartaal gekrimp het en swakker Chinese BBP-syfers wat Maandag verwag word.

Chua Hak Bin glo die syfers wys op die risiko van ’n dieper verlangsaming vir die res van Asië.

Asië verteenwoordig meer as 60% van die wêreld se BBP.

Singapoer is ’n komplekse skakel in die integrasie van streeks- en internasionale voorsieningskettings. Dit maak hom kwesbaar vir verlangsaming in internasionale handel en tariefoorloë. Sy uitvoer is reeds die afgelope paar maande geraak, met verskepings wat in Mei die meeste afgeneem het sedert vroeg in 2013.

Benewens die handelspanning skep ’n stadiger groei in tegnologiebesteding ook druk op Singapoer. Sowat 40% van Singapoer se uitvoer is rekenaarstroombane.

Die Singapoerse regering is egter optimisties dat die ekonomie vanjaar met tussen 1,5% en 2,5% kan groei teenoor verlede jaar se 3,1%.

Suid-Korea het op sy beurt sy minimum loon Vrydag met net 2,9% verhoog vir 2020, ná verhogings van 10,9% vir vanjaar en 16,4% vir verlede jaar. Dit kom te midde van ’n krimpende ekonomie en die sakesektor wat vir ’n sny van 4,2% in die minimum loon gevra het, asook die arbeidsektor wat vir ’n verhoging van 19,8% gevra het.

Meer oor:  Suid-Korea  |  Singapoer  |  Minimum Loon  |  Bbp  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.