Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Krisis dreig by Statistieke SA

Statistieke Suid-Afrika (SSA) se raad dreig om te bedank en hul goedkeuring vir die statistieke wat uitgereik is, te onttrek as die instelling nie genoeg geld van die staat kry en poste ontvries word nie.

Statistieke Suid-Afrika versamel belangrike ekonomiese data soos oor kospryse, ekonomiese groei, armoede en werkloosheid. Foto: Reuters

Prof. David Everatt, voorsitter van die raad, het in ’n verklaring gesê SSA word internasionaal erken as ’n sentrum van uitnemendheid, en dit is die enigste bron van amptelike statistieke in Suid-Afrika.

Hy glo om die vertroue in die instelling te beskerm, is ’n wesenlike finansiële inspuiting nodig.

“As die nasionale tesourie versuim om die instelling nou genoeg geld te gee, sal dit soos Humpty Dumpty nie weer reggemaak kan word nie.”

“SSA is op ’n keerpunt. Die waarskuwingsligte flits en die regering moet vinnig reageer.”

Everatt sê as poste nie gevul kan word met bekwame mense nie en die steekproewe vir die insameling weens die tekort aan geld nie groot genoeg gehou kan word nie, gaan die raad sy ondersteuning vir amptelike statistieke onttrek. “Die raad kan nie inligting goedkeur wat wantrou word nie.”

Volgens hom het die raad eenparig besluit om die beroep op die regering te doen om die instelling genoeg geld te gee of die ondersteuning van amptelike statistieke word onttrek en hulle bedank.

Ingevolge die Wet op Statistieke is dit die plig van die raad om amptelike statistieke goed te keur en uit te reik.

Everatt sê SSA se begroting is in 2015 met R160 miljoen gesny, terwyl alle poste bevries is op aandrang van die regering. Dié situasie duur voort.

Dis baie moeilik om te verstaan hoekom ’n gerespekteerde, betroubare en belangrike instelling, wat die reëls nakom en deur die ouditeur-generaal geprys word, in werklikheid deur die regering gestraf word.
Prof. David Everatt, voorsitter van SSA se raad

“Die situasie het nou vroeg in 2020 ’n krisispunt bereik. Amper 20% van die poste is vakant, wat neerkom op elke vyfde pos. Talle personeellede moet hul eie werk én dié van ander doen. Dis algemeen dat daar ses of sewe dae per week gewerk moet word.”

Volgens hom beteken dit ook dat geen bevorderings kan plaasvind nie.

“Gevolglik soek ambisieuse personeellede poste buite SSA en belowende jong gegradueerdes beskou die agentskap nie as ’n plek waar hulle graag wil werk om hul nagraadse opleiding te kry nie.”

Everatt sê SSA “is nie aan staatskaping onderhewig en moet gered word nie”, maar ontvang gereeld skoon oudits en die publiek vertrou die instelling.“Dis baie moeilik om te verstaan hoekom ’n gerespekteerde, betroubare en belangrike instelling, wat die reëls nakom en deur die ouditeur-generaal geprys word, in werklikheid deur die regering gestraf word.”

Volgens hom ontvang SSA eenmalige noodfondse soos die R46 miljoen wat vir 2020 beloof is.

“Maar die eenmalige pleisters stop nie die onafwendbare agteruitgang van die instelling en die gehalte van amptelike statistieke nie.”

Van die gevolge is dat steekproewe verklein word, en dit lei tot ’n groter foutspeling in die statistieke.

Boonop moet daar besluit word watter statistieke belangrik is om ingesamel te word, en watter nie. Sommige word gelos, soos ’n peiling oor armoede wat “te duur” is.

“Die regering loop nou die gevaar om die kernbedrywighede van die instelling skade aan te doen.”

Volgens Everatt beloop die finansiële behoefte van SSA tans R200 miljoen en hy meen dit is “piepklein teenoor die reuse-hulp” wat ander staatsinstellings ontvang.

Boonop is die volgende algemene sensus om die draai.

“As SSA nie akkurate amptelike statistieke kan lewer nie, sal die graderingsagentskappe die land straf, internasionale beleggers sal elders gaan en binnelandse ondernemings gaan nie betroubare inligting hê om hul beplanning mee te doen nie.”

Meer oor:  Statistieke Suid-Afrika  |  Ssa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.