Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Krisis met Iran, VSA kan wêreld se ekonomie knou

Die wêreldekonomie het pas begin stabiliseer ná sy swakste prestasie in ’n dekade, maar dit kan alles ongedaan gemaak word deur die Amerikaanse lugaanval op Irak waarin een van Iran se magtigste generaals dood is.

amerikaanse betogings, iran
Die Amerikaanse vlag word Sondag buite die Amerikaanse ambassade in Teheran, Iran, aan die brand gesteek. Foto: Getty Images

’n Tentatiewe handelsooreenkoms tussen die VSA en China het verwagtinge laat opvlam dat wêreldgroei vanjaar sal versnel. Sakevertroue het begin verbeter en verskeie aanwysers oor vervaardigingsproduksie het tekens begin toon dat die onderste draaipunt bereik is.

Die spanning tussen die VSA en Iran kan egter enige positiewe sentiment in die kiem smoor. ’n Volgehoue styging in oliepryse – dit het Vrydag in Londen en New York reeds met meer as 4% gestyg – sal ekonomieë wat brandstof moet invoer, skade berokken.

“Die situasie herinner aan die speletjie Whack-A-Mole,” sê Wellian Wiranto, ’n ekonoom by Oversea-Chinese Banking in Singapoer. “Net toe die mark begin glo die risiko van ’n erge handelsoorlog is aan die taan, spring nog ’n gebeurtenis uit niks uit op wat ’n afkeer van risiko meebring.”

Die lot van die wêreldekonomie sal wentel om oliepryse en of Vrydag se styging voortduur. ’n Skerp styging in oliepryse sal ’n groot negatiewe uitwerking op talle ekonomieë hê, nie net in die Midde-Ooste nie.

Duurder brandstof beteken huishoudelike inkomste en besteding kry seer in lande wat brandstof moet invoer. Dit kan inflasie opjaag. As die wêreld se grootste invoerder van olie is China kwesbaar; baie Europese lande maak ook op ingevoerde energie staat.

Suid-Afrika voer ook die meeste van sy olie in. Boonop is China Suid-Afrika se grootste handelsvennoot vir sowel in- as uitvoer, wat beteken ekonomiese probleme in China kan Suid-Afrika knou.

Ontluikende lande wat self olie produseer, kan groter inkomste verdien. Dit kan help om die tekort op hul lopende rekening toe te stop.

Charlie Robertson, hoofekonoom van Renaissance Capital in Londen, sê kommer oor duurder brandstof weens geopolitieke onstuimigheid het ’n hele paar keer die afgelope dekade gekom en weer gegaan.

LEES OOK: Rand hou aan gly ná VSA-aanval

Hoewel daar altyd ’n risiko is dat voorrade ontwrig sal word en dat dit ekonomiese groei sal bedreig, is daar belangrike buffers wat dit kan keer.

“Strategiese petroleumreserwes is waarskynlik groot genoeg in die VSA, China en Europese Unie om enige ontwrigting aan olieproduksie of in die Hormoes-seestraat te behartig.”

Iran en Irak se olie-uitvoer word deur Hormoes vervoer.

Brent-ruolie het Vrydagoggend tot selfs $69,16 per vat gestyg, die hoogste sedert die aanvalle op ’n raffinadery in Saoedi-Arabië in September. Die prys het egter gestabiliseer teen die tyd dat markte in Asië gesluit het, wat dalk daarop dui dat dit ’n werklike aanval op olie-infrastruktuur sal verg vir die prys om hoog te bly.

Ekonome bly egter versigtig.

“Dis die laaste ding wat die wêreld nodig het,” sê Howie Lee, ’n ekonoom by Oversea-Chinese Banking in Singapoer. “As oliepryse styg, kan die gevolglike inflasie ekonomiese herstel laat ontspoor. Die handelsoorlog het soveel aandag getrek, maar dié situasie is ’n aanmaning dat daar risiko’s op ander gebiede bestaan.” - Bloomberg, bygewerk

Meer oor:  Irak  |  Vsa  |  Iran  |  Handelsoorlog  |  Olieprys  |  Rand  |  Wêreldekonomie  |  Olie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.