Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kritiek én lof vir ‘nuwe’ ekonomiese plan
Tito Mboweni, minister van finansies, kort voordat hy in Februarie sy begrotingsrede in die parlement gelewer het.

Ontleders het Woensdag oorwegend positief gereageer op die tesourie se nuwe beleidsdokument om ekonomiese groei aan die brand te kry.

Die grootste lof is vir die klem op “getuienis-gegronde”, meetbare projekte.

Daar is ook ’n sterk gevoel dat die uitreiking van die dokument ’n berekende politieke stelling is dat dit tyd is om verder te gaan as populistiese of vae beleidsuitsprake en dat planne dringend in werking gestel moet word.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die plan bevat “omvattende, konstruktiewe en produktiewe maniere waarop Suid-Afrika sin kan maak van sy huidige ekonomiese insinking”. Dit stel heelwat “sinvolle” projekte voor wat dringend in werking gestel kan word om die ekonomie om te keer.

“Suid-Afrika het ’n beslissende vurk in die pad bereik in die strewe na gedeelde welvaart. Deur ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en mededingendheid te prioritiseer, beklemtoon die plan weer die mate waarin grondliggende ekonomiese hervormings nodig is om die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te pak.”

Parsons loof die feit dat die dokument beleidsonsekerheid kritiseer en sê ’n omgewing moet geskep word wat die sakesektor ondersteun.

Parsons sê die plan is betreklik realisties oor ekonomiese groei, met 2,3% per jaar wat as mikpunt oor die volgende dekade gestel word. Dis teenoor die Nasionale Ontwikkelingsplan se mikpunt van 5% per jaar.

“Die plan se raamwerk bevestig dat daar geen kitskuur vir Suid-Afrika se ekonomiese uitdagings is nie, maar nietemin rig dit ’n pleidooi dat die fondament nou gelê word ten einde later tasbare vrugte te pluk.”

Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual Investment Group, sê die plan is oor die algemeen positief. “Die idees daarin vervat is grootliks pragmaties, gegewe dat dit nie te ambisieus is nie en terselfdertyd nie oormatig omstrede nie. Die resultaat sal egter van die suksesvolle inwerkingstelling deur die nasionale tesourie afhang.”Els sê die meeste planne wat die dokument uitstippel, is al vantevore gesien, maar dit bring alles in een dokument saam, “wat die gevoel van koördinasie verhoog”.Els sê enkele beleidsvoorstelle in die dokument is nog nie deur die kabinet goedgekeur nie, “maar gegewe dat die meeste van die idees nie nuut is nie, het ’n mate van konsultasie dalk reeds plaasgevind”.

Die publikasie van die dokument voor volgende week se tweeweeklikse kabinetsvergadering – waarop dit bespreek gaan word saam met ’n bespreking oor Eskom se reddingsboei – word ook as ’n politieke skuif beskou.

Die plan se raamwerk bevestig dat daar geen kitskuur vir Suid-Afrika se ekonomiese uitdagings is nie, maar nietemin rig dit ’n pleidooi dat die fondament nou gelê word ten einde later tasbare vrugte te pluk.
Raymond Parsons

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, sê die beleidsdokument “sal mense dwing om kant te kies vir of teen getuienis-gegronde beleid en teen of vir eindelose maatskaplike-verdragvorming.”

Die maatskaplike verdrag (social compact) wentel om die regstelling van historiese ongelykhede en is in die Suid-Afrikaanse konteks dikwels vyandig teen die private sektor en welvarende individue. Dit toon die afgelope ruk uitsprake oor onteiening sonder vergoeding, nasionalisering van instellings soos die Reserwebank en selfs private maatskappye soos Sasol, en Nasionale Gesondheidsversekering.

Die dokument verwys wel ses keer na ’n maatskaplike verdrag, maar Montalto beskou die konteks as ietwat anders. Die regering moet ’n omgewing skep waarin die private sektor beter kan funksioneer en die private sektor moet betrokke bly by maatskaplike vraagstukke.

Die grootste lof vir die dokument is dat dit getuig van deeglike navorsing, met byna tien bladsye van verwysings na plaaslike en internasionale navorsing. Dis geskryf deur die tesourie se eenheid oor ekonomiese beleid.

Dit kom ná verskeie werksessies wat Mboweni met akademici gehou het.

In Desember verlede jaar is ’n groot simposium oor ekonomiese groei in Pretoria gehou waarop ’n groep vername ekonome en amptenare van organisasies soos die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) verwelkom is.

Dit het die plaaslike ekonome prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand en Wandile Sihlobo van Agbiz en die Harvard-ekonome proff. Ricardo Hausmann en Robert Lawrence ingesluit.

Wat is die plan met die beleidsdokument?
  • Die tesourie nooi lede van die publiek om tot 15 September kommentaar te lewer. Lees die dokument hier onder of op die tesourie se webwerf en e-pos rita.coetzee@treasury.gov.za.
  • ’n Finale beleidsdokument sal na verwagting vroeg volgende jaar – voor die Februarie-begrotingsrede – uitgereik word.


Montalto is oortuig dat die dokument sterk teenstand sal kry. Hy reken die dokument is “bedoel om verdelend te wees” sodat die leiers wat ten gunste van hervorming is en die daad by die woord wil voeg, duidelik geskei gaan word van dié wat net wil aanhou praat oor die maatskaplike verdrag.

“Die taalgebruik draai nie doekies om nie; dis reguit en dit straal ’n ons-kan-dit-doen-houding uit deur die eenvoudige vraag te vra hoe ons vinniger ekonomiese groei kan behaal. Dit is ook sonder enige kompromis, en begin met die stelling dat Suid-Afrika se huidige trajek onvolhoubaar is.”

Hy sê ook die dokument gaan dalk op tone trap: “Die dokument parkeer hervormingstenks op ’n hele aantal grasperke van die regering, veral die departemente van handel, minerale en energie, staatsondernemings, kommunikasie en ander.”

Onder die hoogtepunte van die verslag wat ontleders uitlig, is:

  • Eskom moet in drie gedeel word (opwekking, transmissie en verspreiding), maar in die algemeen moet krag goedkoper en doeltreffender opgewek word.
  • Breëbandspektrum moet vinnig en ten volle opgeveil word.
  • ’n Nuwe waterreguleerder moet geskep word.
  • Dit moet makliker word om ’n banklisensie te kry en vir verbruikers om van bank te verander ten einde mededinging in die bankbedryf te verhoog.
  • Rompslomp moet verminder word, veral vir klein, medium- en mikro-ondernemings.
Kritiek
  • Montalto sê die dokument fokus dalk steeds te veel op die makro-ekonomiese vraagstukke en te min op die fynere besonderhede.
  • Parsons is bekommerd of die nodige politieke wil bestaan om die moeilike besluite wat nodig is, deur te voer. Dit sluit in die herstrukturering van staatsondernemings, hervormings aan die arbeidsmark en die stabilisering van die staat se geldsake.
  • Parsons sê Suid-Afrika moet nou “wegbeweeg van die opstel van planne na die tasbare inwerkingstelling daarvan op maniere wat beleggersvertroue verhoog en ook ’n sigbare verskil aan die lewe van gemiddelde inwoners maak.”



Meer oor:  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.