Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kry SA dalk ’n e-rand?

Die Reserwebank stel ondersoek in na die moontlikheid om sy eie digitale geldeenheid te skep wat in die kleinhandel “aanvullend tot kontant” kan dien.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Argief

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, beklemtoon die sentrale bank is nog net besig met ’n studie om te bepaal of dit vir die sentrale bank “lewensvatbaar, toepaslik en wenslik” is om ’n digitale geldeenheid te skep. Kganyago sê dis iets wat baie ander sentrale banke ook ondersoek.

Swede se sentrale bank, die Riksbank, het in Mei begin om sy digitale geldeenheid, die e-kroon, te toets, maar die Switserse Nasionale Bank het aangekondig hy het geen plan om ’n digitale geldeenheid bekend te stel nie.

Kganyago het Vrydag op die jaarvergadering van die Reserwebank gepraat. Dit was die 101ste jaarvergadering, al het die bank op 28 Junie 100 jaar oud geword. Hy het daarna verwys dat dit ’n besondere jaar is waarin die rand se 60ste verjaardag, 25 jaar van ’n onafhanklike sentrale bank sedert die Grondwet in 1996 aanvaar is, en 21 jaar waarin ’n inflasieteiken nagestreef word, ook gevier word.

Kganyago verwys na die impak van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings, asook na die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng.

“Dis nou die tyd om te herbou, die tyd om te herstel – om ons ekonomie billiker, meer dinamies, en inklusief van alle Suid-Afrikaners te maak.”

e-rand
Die Reserwebank werk aan 'n studie om te ondersoek of die sentrale bank dalk self sy eie digitale geldeenheid op die been moet bring.

Kganyago sê die Reserwebank sal sy rol speel, in pas met sy mandaat, “om steun aan die ekonomie te gee en buffers te bou om ons in staat te stel om enige nuwe storms wat dalk kom, te navigeer”. Álle instellings van die regering moet egter hul deel doen.

“Om die ekonomie te herbou, moet werk geskep word. Ondernemings moet weer begin en nuwes moet gevestig word in pas met veranderende ekonomiese behoeftes. Beleggingsbesluite moet geneem word.

“Ons nasionale beleidsraamwerke moet dié basiese ekonomiese besluite vergemaklik en moontlik maak, konsekwent en volhoubaar, deur kostedoeltreffende en betroubare netwerkdienste, opvoeding, en baie ander openbare dienste van gehalte te lewer.”

Kganyago het weer die hulp uitgestippel wat die Reserwebank die afgelope 18 maande gegee het:

  • Die repokoers is tot die laagste nóg verlaag, 3,5%, wat die prima rentekoers van banke tot die laagste koers in 54 jaar, 7%, laat daal het. “Dié lae koerse het huishoudings se vraag na krediet ondersteun en maatskappye gebuffer met lae korttermynkoerse, terwyl die regering ook voordeel kon trek uit goedkoper korttermynskuld.”
  • Die Reserwebank het R41 miljard se staatseffekte in die sekondêre mark gekoop om te verseker dat die mark stabiel bly.
  • Die Omsigtigheidsowerheid, die deel van die Reserwebank wat toesig hou oor banke, het die likiditeitsdekkingskoers wat van banke vereis word, van 100% tot 80% verlaag. Die minimum kapitaalvereistes vir banke is ook verlaag. Daarby is regulasies verslap oor voorsiening wat banke vir swak skuld moet maak. Dit het banke gehelp om die skuld te herstruktureer van individue en ondernemings wat weens die inperkings in die moeilikheid beland het.
  • Banke is ontmoedig om in 2020 dividende en bonusse uit te betaal; dié aanbeveling is intussen opgehef.
  • Die Reserwebank, in vennootskap met die tesourie, het die leningswaarborgskema geskep waarvoor ondernemings kon aansoek doen indien hulle weens die inperkings bedryfskapitaal nodig gehad het. Die regering sal pa staan vir ’n klein deel van dié lenings indien ondernemings dit nie kon terugbetaal nie. Uit die R100 miljard wat die tesourie gehoop het uitgeleen sou word, is net R18,39 miljard teen 19 Junie 2021 uitgeleen. Kganyago sê, soos die Bankvereniging ook al herhaaldelik gesê het, dat ondernemings nie ’n aptyt vir nog skuld gehad het nie.
Meer oor:  Reserwebank  |  Lesetja Kganyago
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.