Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kuratele vir VBS ‘beskerm juis armes’
Cas Coovadia Foto: Nelius Rademan

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) wil hê die banksektor moet getransformeer word, maar dit moenie gedoen word ten koste van finansiële stabiliteit nie.

Cas Coovadia, besturende direkteur van Basa, sê in sy reaksie op die kuratele van VBS Mutual Bank hy het volle vertroue in die Reserwebank.

“Die verdienste en spaargeld van die land se burgers word aan Suid-Afrikaanse banke toevertrou.

“Die ineenstorting van ’n bank – dit maak nie saak hoe groot of klein nie – beteken dikwels dat mense wat dit die minste kan bekostig, toegang tot hul geld verloor, en dit rig skade aan sake-, verbruikers- en beleggersvertroue in die land aan.

“Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie, veral aangesien dit net begin het met inklusiewe ekonomiese herstel.

“Deur VBS onder kuratele te plaas, het die Reserwebank binne sy mandaat en die wet opgetree, onafhanklik van spesiale belange. Die hoofdoelwit om ’n bank onder kuratele te plaas, is om deposante se geld te beskerm, asook die nasionale finansiële stelsel, terwyl die onderneming op ’n gesonde voet geplaas word.”

Basa sê die Reserwebank is onafhanklik en onpartydig en “beskerm die belange van alle Suid-Afrikaners”.

“Die bank se verbintenis tot inflasieteikens en prysstabiliteit beskerm die waarde van armes se geld.”

Coovadia se reaksie kom nadat baie ontleders verlede week gesê het die tesourie het bygedra tot die ondergang van VBS, wat juis arm mense op die platteland bedien.

Dis omdat die tesourie munisipaliteite gewaarsku het om nie geld by VBS te belê nie omdat dit strydig is met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

VBS het in Februarie ernstige kontantvloeiprobleme ontwikkel en Kuben Naidoo, registrateur van banke, het Sondag gesê dis omdat die bank groot korttermyndeposito’s van munisipaliteite ontvang, waarteen geld op lang termyn vir onder meer huislenings uitgeleen word.

Naidoo het ook gesê VBS het net te vinnig uitgebrei die afgelope jare.

VBS het in die nuus beland toe hy R7,8 miljoen aan oudpres. Jacob Zuma geleen het om vir van die verbeterings aan sy Nkandla-woning te betaal.

Daarna het VBS aggressief begin takke open en die steun gewerf van organisasies soos Black First Land First, wat aggressief die transformasie van die finansiëledienstesektor eis.

Coovadia sê meer mededinging in die sektor en bemagtigde bestuur en eienaarskap is ’n goeie ding, “maar dit moet gedoen word op ’n manier wat volhoubare ondernemings skep wat veilige finansiële dienste aan gemeenskappe kan bied”.

Meer oor:  Basa  |  Vbs Mutual Bank  |  Jacob Zuma  |  Cas Coovadia  |  Kuben Naidoo  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.