Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kwantitatiewe verruiming: Speel SA met vuur?

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is besig om, sonder dat hy dit erken, vir die eerste keer met kwantitatiewe verruiming te speel, maar wat beteken dit vir Suid-Afrika en wie trek die meeste voordeel daaruit as die staat sommer net “geld druk” om die ekonomie te red?

Matige kwantitatiewe verruiming kan die reële ekonomie help ondersteun te midde van die Covid-19-krisis, maar as dit te veel uitbrei is dit die politici wat voordeel trek, en balans met hierdie verruiming is van die uiterste belang.

Die Reserwebank het sowat twee weke gelede gesê hy gaan begin om staatseffekte in die mark terug te koop om ’n groot tekort aan kontant in die finansieringsmark van die land toe te stop.

Dit is die eerste keer tot nog toe dat die Reserwebank só by die ope mark ingryp en staatseffekte terugkoop.

Die bank het egter doelbewus nooit die term “kwantitatiewe verruiming” in sy aankondiging hieroor gebruik nie.

Samantha Springfield, senior bestuurder by die Reserwebank, sê per e-pos summier die Reserwebank se ingryping op die sekondêre mark vir staatseffekte is “geensins” kwantitatiewe verruiming nie.

Maar die definisie van kwantitatiewe verruiming sê iets anders.

Wat is dit?

“Kwantitatiewe verruiming is ’n vorm van onkonvensionele monetêre beleid waarin ’n sentrale bank langtermyneffekte op die ope mark koop om die geldvoorraad van die land te verhoog om die toestaan van lenings, asook investering, aan te moedig,” sê inligting van Investopedia.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebankgebou in Pretoria. Foto: Getty Images

Hierdie opkoop van effekte word gefinansier deur die skepping van nuwe geld. Voorheen is nuwe geld gedruk om sulke terugkope te befonds, maar deesdae krediteer die reserwebank bloot die ontvanger se rekening met digitale geld ter waarde van die terugkoop.

Sodoende word die geldvoorraad in die land verhoog en rentekoerse verlaag soos die opbrengs op staatseffekte (’n gewilde belegging) daal weens die aankope deur die Reserwebank.

Dit moedig dan als gelyktydig aan dat beleggers hul geld (wat nou los is weens die verkope van hul staatseffekte aan die Reserwebank) eerder bestee in die reële ekonomie en sodoende stimulus vir die ekonomie verskaf.

Met grootskaalse verruiming word rentekoerse ook verder verlaag deur die reserwebank se koop van effekte wat opbrengste verlaag en dus selfs verbruikers aanmoedig om eerder te bestee en die ekonomie ’n hupstoot te gee.

Maar die Reserwebank hou vol sy ingryping is bloot sy poging om die mark te stabiliseer, en nie ’n poging tot stimulus nie.

Volgens Henk Kotze, portefeuljebestuurder van Prescient, en nog ’n aantal kenners, is dit doodeenvoudig: Suid-Afrika speel nou wel, ten spyte van wat die Reserwebank sê, vir die eerste keer met kwantitatiewe verruiming.

Speel met vuur

Nolan Wapenaar, beleggingshoof by die batebestuursfirma Anchor, reken die veldtog van kwantitatiewe verruiming is tans nodig om ’n bloedbad op die finansiële markte te voorkom te midde van die Covid-19-pandemie. Maar hy reken ook die Reserwebank speel beslis met vuur.

Anchor is bekommerd, want dit is nie die eerste keer dat politici binne spoegafstand daarvan was om grootskaalse kwantitatiewe verruiming in te span om die land se skuldprobleme met die druk van nuwe geld te probeer oplos nie.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het in 2019 gedreig om die Reserwebank se mandaat te wysig sodat grootskaalse kwantitatiewe verruiming ingespan kon word om geld te druk vir die beleërde staatskas. Die Reserwebank sou sy mandaat van prysstabiliteit (lae inflasie) moet prysgee as hy op groot skaal geld sou begin druk. En dit sou beteken hy prioritiseer die welsyn van die regering bo dié van die verbruiker.

Matigheid is goed

“As ons kyk na die volhoubaarheid van die Reserwebank se huidige koop van effekte, blyk dit tans ’n positiewe stap te wees, maar slegs as dit spesifiek gedoen word om die mark te ondersteun,” reken Wapenaar.

Die ekonoom Brian Kantor het verlede week ook op ’n paneelbespreking van die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid gesê kwantitatiewe verruiming is nodig om die land van hongersnood te midde van die staat van inperking se verwoesting te red. Hy reken “baie” geld moet gedruk word en solank dit gebruik word om mense te voed, sal dit nie inflasie opstoot en dus rampspoedige gevolge hê nie.

Maar Anchor is meer bekommerd oor dié idee.

“Ons is nietemin bekommerd oor sommige risiko’s verwant aan die huidige ingryping. Dit behels eerstens die feit dat so ’n ingryping die wisselvalligheid van die rand sal verhoog, en tweedens dat dit polities makliker sou wees om hierna te beweeg na volskaalse kwantitatiewe verruiming om die nasionale skuld, of die skuld van Eskom, so uit te wis,” sê Wapenaar.

“Na ons mening sal dit ’n rampspoedige besluit van die regering wees, al is dit hoe aanloklik.”

Politieke inmenging

Die rede waarom politici so baie hou van kwantitatiewe verruiming, is veelsydig. Twee kernredes staan egter uit. Wanneer staatseffekte slegs op die sekondêre mark opgekoop word (soos nou), verlaag dit die effektiewe rentekoers (en dus die opbrengs) op reeds uitgereikte staatseffekte. Dit beteken dat nuwe staatseffekte nie teen so ’n hoë rentekoers opgeveil hoef te word om met reeds bestaande effekte mee te ding nie, wat dus minder druk op die staatskas plaas omdat die regering minder rente op sy skuld hoef te betaal.

Maar as kwantitatiewe verruiming eers die primêre mark van staatseffekte betree, het die regering ’n regstreekse koper van sy nuwe skuld. Die tweede belangrike rede vir hoekom politici hou van kwantitatiewe verruiming is omdat dit ook hoër inflasie skep soos wat strome nuwe geld die mark invloei.

En hier is die belange van die regering teenstrydig met dié van die verbruiker.

Hoër inflasie beteken dis makliker om staatskuld af te betaal aangesien die vaste hoeveelheid skuld met toenemend minder werd geld afbetaal word, en die regering dus meer en meer kan leen ten koste van Jan Alleman.

En dit is hoekom kwantitatiewe verruiming dikwels as omstrede beskryf word.

Daar is hoop

Om aan die een kant “geld te druk” kan inflasie opjaag en die ekonomie vernietig soos wat al hoe meer nuwe geld die mark invloei. Maar aan die ander kant baat die regering uit hoër inflasie, veral as hy diep in die skuld is soos wat Suid-Afrika tans is.

Maar volgens Albert Botha, hoof van vaste inkomste-batebestuur by Ashburton Investments, is die Reserwebank se opkoop van effekte tans broodnodig en dui dit geensins op ’n problematiese ingryping nie.

Botha sê hy en die mark as geheel het die Reserwebank se ingryping verwelkom juis omdat dit slegs beoog om die mark te stabiliseer in ’n tyd waar die staatskas die nie kan bekostig dat sy skuldvlakke verder agteruit boer weens die ineenstorting van die mark vir sy staatseffekte nie.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sien geen risiko van hoër inflasie uit wat die Reserwebank tans doen nie. As kwantitatiewe verruiming egter “werklik” toegepas sou word, sou Suid-Afrika daarvan beskuldig kon word dat hy “Zimbabwe-styl” ekonomiese ingrypings beoefen.

Volgens Sanisha Packirisamy, ekonoom van Investec, moet ons vertroue hê in die Reserwebank. Die bank se doel is om die “markte te stabiliseer” en “nie om die ekonomie te stimuleer” soos wat gewoonlik die geval is met kwantitatiewe verruiming nie, sê Packirisamy aan Netwerk24.

Vir nou is laasgenoemde net ’n toevallige gevolg van die Reserwebank se konserwatiewe poging om markte weer effektief te laat funksioneer, en niks meer nie, meen sy.

Intussen het die Reserwebank nog geen perke of teikens vir sy ingryping gestel nie, en ontleders, soos dié van Anchor, hoop net dat die regering nie ’n smaak ontwikkel vir grootskaalse kwantitatiewe verruiming nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.