Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Kyk, hier is goeie nuus, sê ekonome

Die ekonomie is nog nie aan die galop nie, maar het darem al ’n huppel in die stap.

Ekonomiese bedrywighede in die landbousektor is 7% hoër, en mynbou-aktiwiteit 5,2% hoër as voor Covid-19. Foto: iStock

Al hoe meer ekonome verwag groei van 5% of meer vir vanjaar, staatskuld as verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) kan nader aan 70% draai as die 88% wat vroeër voorsien is, sowat R80 miljard meer belasting gaan ingevorder word as verwag en beleidshervorming kry momentum.

“Praatjies van stagnasie in die ekonomie kan nou einde kry,” sê Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group (OMIG).

Die afwaartse neiging in die ekonomie in die vyf jaar tot 2019 is nou verby. Die ekonomie kan vanjaar met 5,6% groei en selfs al is daar geen groei in die tweede helfte van die jaar nie, kan 2021 groei van 5,4% oplewer, het hy vandeesweek op die OMIG se kwartaallikse ekonomiese aanbieding gesê.

Els sê hy was lank soos ’n stem roepende in die woestyn met dié positiewe boodskap, maar meer kenners het nou dieselfde verwagting.

Hy sê die goeie belastinginkomste (veral danksy ’n skerp styging in maatskappybelasting van mynmaatskappye) saam met die opwaartse hersiening van die BBP-syfers, beteken vanjaar se begrotingstekort kan 7% van die BBP beloop teenoor 9,3% waarvoor in Februarie begroot is.

k

Staatskuld beter

Met voortgesette fiskale konsolidasie en groei van sowat 2,5% per jaar op mediumtermyn, kan staatskuld oor ’n paar jaar op ’n hoogtepunt van 70% draai.

Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib wat 5%-groei verwag, stem saam dié faktore verbeter Suid-Afrika se fiskale posisie. “Geen kredietgraderingsagentskap gaan ’n land verder afgradeer as die staat se skuld sowat 70% van BBP beloop nie.”

Els meen die kredietgraderingsagentskappe Fitch en Moody’s kan selfs die vooruitsig vir Suid-Afrika se soewereine skuld van negatief na stabiel verander, hoewel dit nog lank sal neem voordat Suid-Afrika sy status van beleggingsgraad sal terugkry.

Hy sê ook die fiskale risiko is nou aansienlik laer ná Februarie se konserwatiewe begroting en die vooruitsig dat belastinginkomste beter sal wees as verwag. Die kans is minder as 10% vir ’n fiskale krisis of herstrukturering van die land se skuld.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die ekonomie in die tweede kwartaal met 1,2% gegroei op ’n kwartaalgrondslag.

k

Oneweredige herstel

Els sê die reële BBP is steeds 1,3% laer as in die vierde kwartaal van 2019. Dit is dus ’n oneweredige herstel met sekere sektore wat goed vaar, terwyl ander sukkel.

Carmel Nel, ekonoom en makrostrateeg by Matrix-fondsbestuurders, sê vergeleke met die eerste kwartaal van 2020 voor die Covid-19-inperkings, is ekonomiese bedrywighede in die landbousektor reeds 7% hoër, en mynbou-aktiwiteit 5,2% hoër as voor Covid-19. Van die sektore wat nog swakker vaar as in die eerste kwartaal van 2020, is:

  • Konstruksie: -18%
  • Vervoer en kommunikasie: -6,5%
  • Vervaardiging: -2,6% en
  • Handel: -2,3%

Sy verwag groei van 5% vanjaar, maar daarna sal ons momentum verloor en teen 2022 met net 1,9% groei.

Thanda Sithole, ’n senior ekonoom van FNB, voorspel groei van 4,1% in 2021 en 2,2% in 2022. Lullu Krugel en dr. Christie Viljoen, ekonome van PwC, sê hul modelle wys op karige groei van sowat 2,5%.

Els waarsku die regering teen oorgerustheid op grond van die beter syfers en hoër as verwagte belastinginkomste.

k

Vir Lings is die grootste uitdagings werkloosheid en trae vastekapitaalbeleggings. Hy het Donderdag op die virtuele Allan Gray-beleggingseminaar gesê ’n suksesvolle ekonomie word daaraan gemeet dat elkeen wat ’n werk wil hê, wel ’n werk het.

Volgens Krugel en Viljoen het die ekonomiese groei van gemiddeld 7,5% op ’n jaargrondslag in die eerste helfte van 2021, niks gedoen vir werkskepping nie. Einde 2020 het 15,02 miljoen mense gewerk, teenoor 14,94 miljoen in die tweede kwartaal van 2021. Suid-Afrika het nou die hoogste amptelike werkloosheidsyfer ter wêreld op 34,4%, hoër selfs as Nigerië (33,3%), Bosnië-Herzegowina (32,4%) en Palestina (26,4%), sê hulle.

Lings sê Suid-Afrika moet jaarliks minstens 600 000 poste skep net om vir nuwe toetreders tot die arbeidsmark voorsiening te maak. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het bevind Suid-Afrika is boaan die lys van lande waar werkskepping baie vinnig kan styg as die BBP met net een persentasiepunt groei. Werkskepping volg op beleggings, 5% plus groei per jaar, beleggersvriendelike ekonomiese beleid en vennootskappe tussen die staat en private sektor vir infrastruktuurbelegging.

Die private en openbare sektor se gesamentlike vaste kapitaalbelegging beloop nou minder as 15% van BBP, terwyl dit 30% moet wees. Dít beteken beleggingsbesteding moet minstens R750 miljard per jaar hoër wees.

In- en uitvoer maak meer as 50% van die plaaslike BBP uit en die huidige opbloei in wêreldhandel is goed vir Suid-Afrika. Boonop is sterk kommoditeitspryse ’n welkome meevaller op ’n belangrike tyd, sê Lings.

Volgens Lings lyk dit of die regering besef hoe belangrik vennootskappe met die private sektor (soos op die gebied van hernieubare energie en om hawens doeltreffender te maak) is vir vooruitgang, daar is 220 korrupsiesake voor die howe, die land het genoeg Covid-19-entstowwe en dit alles saam is die eerste stappe tot beterskap.

Jan Taks glimlag breed

Jan Taks se koffers bult nadat belastinginkomste vir die finansiële jaar tot dusver byna 54% hoër is as dieselfde tydperk verlede jaar.

Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, sê die kumulatiewe begrotingstekort vir die eerste vier maande van die boekjaar (April tot Julie) is sowat R156 miljard. Dít is veel kleiner as die tekort van R260,4 miljard in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die invordering van persoonlike inkomstebelasting tot Julie is 12,7% hoër op ’n jaargrondslag, maatskappybelasting sowat 134% hoër en BTW is 48% hoër as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group (OMIG), sê dié styging in inkomste vir die boekjaar tot dusver word wel effens skeefgetrek deur baie lae belastinginkomste in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal egter vanjaar na verwagting tussen R80 miljard en R100 miljard meer insamel as wat aanvanklik verwag is en dit hou belofte in vir ’n veel kleiner begrotingstekort vir die jaar, sê hy.

k
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.