Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
KYK: Langste bulmark nóg loop steeds sterk

Die langste bulmark in die geskiedenis van die Amerikaanse mark het Woensdag 3 453 dae oud geword.

Die afgelope nege en ’n half jaar het die Standard & Poor’s 500-indeks nog nie een keer met meer as 20% gedaal nie. ’n Daling van meer as 20% is die tegniese aanwysing van ’n beermark.

Die bullopie het op 9 Maart 2009 begin toe Amerika nog uit die Groot Resessie gekom het, en in die nadraai van die wêreldwye finansiële krisis van 2007-’09.

Die S&P 500 is die 500 grootste maatskappye volgens markwaarde wat op die New Yorkse Aandelebeurs of die Nasdaq genoteer is. Dit verteenwoordig maatskappye met ’n totale markwaarde van meer as $23 700 miljard, en word aangevoer deur Apple, waarvan die markwaarde onlangs vir die eerste keer tot meer as $1 000 miljard gestyg het.

Volgens die BBC is Apple die grootste bydraer tot die styging sedert Maart 2009, gevolg deur Microsoft.

“Algeheel het tegnologiefirmas meer as 22% bygedra, gevolg deur die diskresionêre verbruikersektor, ’n kategorie wat Amazon insluit, teen sowat 16%.”

Die indeks het meer as vervierdubbel sedert 2009, van nagenoeg 666 indekspunte tot Woensdag se sluiting van 2 861,82 punte.

Vir die jaar tot dusver is die indeks 6% hoër, selfs te midde van rentekoersverhogings deur die Federale Reserweraad wat konserwatiewe beleggers dalk uit aandele na effekte kan laat verskuif.

Pres. Donald Trump se handelsdispute met verskeie lande – onder meer China, Europa en Turkye – het ook nog nie die aandeelprys van groot maatskappye gedemp nie.

Die indeks se rekordhoogtepunt vir ’n sluitingstyd was die 2 872,87 punte waarop dit op 26 Januarie gesluit het.

Volgens CNN het die bulmark verskeie paniekaanvalle oorleef, soos die afgradering van Amerika se kredietgradering in 2011, die vrees dat die euro in duie gaan stort, die verlangsaming in Chinese ekonomiese groei en ’n dramatiese ineenstorting van die olieprys middel 2014.

CNN beskryf dit as die “mees gehate bulmark nóg” omdat dit so ’n wipwarit vir beleggers was. Maar David Kelly van JPMorgan Funds sê: “Die pessimisme wat die bulmark gekenmerk het, het eintlik die langlewendheid daarvan verseker.”

Die vorige langste beermark was in die 1990’s, toe die indeks met 417% gestyg het, volgens die BBC.

Ontleders is betreklik optimisties dat die bulmark gaan voortduur.

Bykomende bronne: CNN, BBC

Meer oor:  Amazon  |  Apple  |  Microsoft  |  Nyse  |  Aandele  |  Nasdaq  |  Tegnologie  |  S&P 500  |  Bulmark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.