Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
KYK: Mini-Suez-krisis ontvou in Mississippi-rivier

In wat herinner aan die onlangse voorval in die Suez-kanaal is meer as 700 riviervragskuite tans in Amerika gestrand weens ’n kraak in ’n oorbrug.

’n Skermgreep van ’n Amerikaanse televisienuuskanaal wat die Hernando DeSoto-brug by Memphis wys, met die inlas wat die kraak in die brug se staalbalke toon.

Dit bring die uitvoer van groot hoeveelhede Amerikaanse landbouprodukte in gedrang.

Dit volg op die opeenhoping onlangs in die Suez-kanaal in Egipte toe ’n vragskip vasgesteek en meer as 400 vragskepe aan weerskante van die strategiese deurgangroete tussen Europa en Asië vir ’n week of langer vertraag is.

’n Groep van die Amerikaanse kuswag, rivierbootmaatskappye en ingenieurs het Donderdag die krisis bespreek, en hoop die Mississippi-rivier sal binne 24 tot 48 uur weer vir verkeer oop wees. Dit vertraag egter intussen die uitvoer van landbouprodukte uit Amerika.

Volgens bronne sal rivierverkeer geprioritiseer word sodra die roete weer oop is, met ’n vrag vir die Amerikaanse departement van verdediging wat voorkeur kry, en daarna brandstof-vragskuite wat die brandstofvoorraad moet gaan aanvul in gebiede wat deur die sluit van ’n groot brandstofpypleiding geraak is.

Die kraak in die Interstate 40-brug oor die grootste bevaarbare rivier in Amerika het veroorsaak dat meer as 700 riviervragskuite ophoop. Dit is die grootste roete vir Amerikaanse landbou-uitvoer, en is tans op sy besigste.

Die rivierroete is naby Memphis in die deelstaat Tennessee gesluit terwyl die groot kraak in die snelwegbrug bo-oor die rivier geïnspekteer word. Daar is 47 skepe en 771 riviervragskuite wat deur die sluiting opgehou word. Hiervan was 430 noordwaarts op koers en die res suidwaarts.

Die Mississippi is die hoofvervoerroete vir Amerikaanse landbou-uitvoer soos graan en sojabone. Dit word na hawens aan die Golf van Mexiko geneem.

’n Argieffoto van die soort riviervragskuite op die Mississippi-rivier wat mielies en sojabone vir uitvoer na die New Orleans-hawe toe neem. Meer as 700 vaartuie op die rivier hoop tans op weens die sluiting van die beskadigde Hernando DeSoto-brug by Memphis in Tennessee.

Ruolie en ingevoerde staal word ook op dele van die rivier na die binneland vervoer. ’n Konsultant van Kansas City het gewaarsku die rivier is die hoofroete vir uitvoer vanuit die Amerikaanse Midde-Weste, vir veral mielies en sojabone.

Afhangend van hoe lank die rivier gesluit bly en of rivierverkeer beperk of verlangsaam word, kan dit ’n groot impak hê.

Die kraak wat sowel pad- as rivierverkeer tot stilstand gebring het, is tydens ’n roetine-ondersoek in die Hernando DeSoto-brug op die Interstate 40-snelweg gevind.

Tot 47% van die landbou-uitvoer deur die New Orleans-hawestelsel kom via die Mississippi-rivier soontoe. – Bloomberg

Meer oor:  Mississippi  |  Infrastruktuur  |  Brug  |  Hawens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.