Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
KYK: Moyane ‘baie bly’ ná 1ste veldslag in verhoor

Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), bly op die oorlogspad oor die dissiplinêre verhoor waaraan hy onderhewig is.

Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Saterdag tydens die eerste fase van sy dissiplinêre verhoor. Foto: Elvira Wood

Uit regsargumente wat Saterdag in die eerste fase van die verhoor aangehoor is, was dit duidelik hy wil die hele verhoor onbillik en selfs onwettig laat verklaar.

Adv. Azhar Bham, voorsitter van die verhoor, het van 09:00 tot 14:00 in Sandton argumente aangehoor oor die verwysingsraamwerk van die verhoor; die prosedure wat geld; en die billikheid en selfs grondwetlikheid daarvan dat daar tegelykertyd ’n kommissie van ondersoek onder leiding van regter Robert Nugent oor die institusionele probleme van die SAID gehou word.

Eric Mabuza, Moyane se prokureur, het in ’n kort gesprek ná die sitting gesê Moyane is “baie, baie gelukkig” omdat dit lyk asof Bham die erns van hul argumente insien. Moyane wou nie self vrae beantwoord nie, maar het glimlaggend langs Mabuza gestaan (kyk video hierby).

Mabuza sê hy herinner almal daaraan dat pres. Cyril Ramaphosa belowe het om te wag vir Bham se beslissing voordat hy besluit oor die toekoms van die dissiplinêre verhoor én die Nugent-kommissie van ondersoek.

Adv. Heidi Barnes, advokaat vir die presidensie.Foto: Elvira Wood

Moyane voer aan dat minstens een van die prosesse gestaak moet word. Op die heel minste glo hy skynbaar die toelating van mondelinge getuienis – wat sy regspan in staat sal stel om veral Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, onder kruisverhoor te neem – kan die skaal in sy guns laat kantel.

Adv. Dali Mpofu, namens Moyane, het die Nugent-ondersoek ’n “boendoehof” genoem en het te velde getrek teen Gordhan se getuienis, wat Nugent reeds aangehoor het.

Gordhan is ook die opsteller van die klagstaat in die dissiplinêre verhoor.

Gordhan probeer “uit die graf regeer”, het Mpofu aangevoer. Dis ’n verwysing daarna dat Gordhan van 1999 tot 2014 die kommissaris van die SAID was.

Adv. Azhar Bham, voorsitter van die dissiplinêre verhoor.Foto: Elvira Wood

Gordhan is volgens Mpofu bevooroordeeld omdat hy ’n geskiedenis met die SAID en Moyane het. Gordhan was ook die minister van finansies in dele van Moyane se termyn as kommissaris

Mpofu bevraagteken ook waar Gordhan se gesag vandaan kom om die klagte teen Moyane te lei.

Mpofu het ook aangevoer die dissiplinêre kode van die SAID moet op Moyane, as werknemer van die belastingdiens, van toepassing wees en dat dit voorsiening maak vir mondelinge voorleggings en kruisondervraging.

Adv. Heidi Barnes, namens pres. Cyril Ramaphosa, het aangevoer die kode self maak voorsiening vir buitengewone omstandighede wat uitsonderings op die reël oor mondelinge getuienis toelaat.

Adv. Dali Mpofu, Tom Moyane se advokaat in sy dissiplinêre verhoor. Foto: Elvira Wood

Barnes het haar ongeduld laat blyk dat Moyane steeds nie op die klagte teen hom geantwoord het nie.

Bham het gesê hy sal na verwagting teen begin Augustus uitspraak lewer oor die argumente.

Géén argument is nog aangehoor met betrekking tot die klagte teen Moyane nie.

Die klagte is onder meer:

1. Swak hantering van die Makwakwa-verslag

Die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) het bewyse voorgelê dat Jonas Makwakwa, Moyane se regterhand by die SAID, groot bedrae kontant in sy rekening inbetaal het, soms selfs by kitsbanke. Ondanks die bewyse is Makwakwa onskuldig bevind aan wangedrag in ’n dissiplinêre verhoor, en het vroeër vanjaar bedank kort voordat ’n nuwe verhoor begin het. Gordhan sê in sy verklaring Moyane het die FIC-verslag aan Makwakwa en Kelly-Ann Elskie, Makwakwa se vriendin, gewys, wat onwettig is.

2. Ongemagtigde bonusse

Moyane het glo prestasiebonusse uitbetaal wat teenstrydig met die SAID-wet is.

3. Wanvoorstellings aan die parlement

Moyane het ontwykend geantwoord en volgens Gordhan doodeenvoudig gejok toe hy in September 2016 uitgevra is oor die FIC-verslag en klagte teen Makwakwa. Hy het ook in Februarie vanjaar ontken dat hy ’n rol gespeel het in die toekenning van ’n tender aan ’n skuldinvorderaar wat bande met Makwakwa het.

4. Gebrek aan samewerking

Moyane het ’n SAID-werknemer opdrag gegee om nie saam te werk met ’n KPMG-ondersoek oor die sogenaamde hoërisiko-ondersoekeenheid van die belastinggaarder nie. Helgard Lombard, ’n voormalige SAID-bestuurder van tegniese en fisieke veiligheid, is opdrag gegee om te maak of hy siek is ten einde die onderhoud met KPMG te vermy.

Volgens Gordhan het dit meegebring dat belangrike inligting van die ondersoek weerhou is.

Moyane het die sogenaamde rogue unit laat ondersoek, waarskynlik grootliks omdat dit die wêreld vir belangrike mense warm gemaak het. KPMG het in ’n verslag verskeie probleme met die eenheid uitgewys, maar het intussen sy verslag teruggetrek omdat die inligting daarin wemel van onbewese stellings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.