Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
KYK: Skietstilstand oor tariewe tussen VSA, Europa

Die VSA en Europa het gisteraand laat ’n wit vlag gehys toe hulle ingestem het om alle invoertariewe en ander handelsversperrings te verwyder.

Pres. Donald Trump van die VSA en Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie, het die aankondiging by die Withuis gedoen. Trump – eintlik juis ’n voorstander van invoertariewe – het dit ’n “baie groot dag vir vrye en billike handel” genoem, berig CNN.

Die Trump-administrasie ondersoek die instel van invoertariewe van 25% op motors en motoronderdele, wat Europese motorvervaardigers en die vasteland se ekonomie kan seermaak.

Europa voer $300 miljard se motors en motoronderdele na die VSA uit, volgens Reuters.

Volgens CNN het albei kante ingestem om vir eers geen nuwe tariewe in werking te stel nie. Die Europese Unie (EU) het ingestem om meer Amerikaanse sojabone en aardgas in te voer.

Die twee moondhede het ook onderneem om te streef na “zero tariewe”.

Amerikaanse boere is in die sop sedert China invoertariewe op sojabone ingestel het, gegewe dat China tot dusver die grootste verbruiker van dié produk was.

Die skietstilstand oor nuwe tariewe laat die vraag ontstaan oor wat dit vir die handelsoorlog met China beteken, berig Bloomberg.

Een kant glo die VSA probeer sy bande met die EU versterk juis om vir die uitwerking van die stryd met China te vergoed. ’n Skietstilstand op tariewe tussen die twee Westerse moondhede beteken dus glad nie dat die VSA ook toenadering tot China sal soek nie – inteendeel, dit gee Trump dalk juis die vermoë om die druk op China te verhoog.

“Trump sal waarskynlik sy trompet blaas en redeneer dat sy dreigement van handelsoorloë werk,” sê Chua Hak Bin van Maybank Kim Eng Research in Singapoer.

Die ander kant glo Trump se ooreenkoms met Europa wys kompromisse is wel moontlik.

“Die bereidwilligheid van Trump om ’n skietstilstand met die EU aan te gaan, is ’n positiewe teken dat ’n soortgelyke ooreenkoms in ’n gesprek met Xi Jinping (China se president) bereik sou kon word,” sê Andy Rothman, voormalige Amerikaanse diplomaat in China wat nou ’n beleggingstrateeg by Matthews Asia is.

Trump het reeds invoertariewe van 25% ingestel op $34 miljard se ingevoerde Chinese goedere, wat vergeldende tariewe meegebring het. Die Trump-administrasie oorweeg dit om nog 10%-invoertariewe op $200 miljard se Chinese goedere in te stel.

Trump het al gedreig om $500 miljard se Chinese goedere – bykans die helfte van die waarde van Chinese invoer na die VSA – met invoertariewe te belas.

Bronne: Bloomberg, CNN, Reuters

Meer oor:  Donald Trump  |  Jean-Claude Juncker  |  Eu  |  Europa  |  Vsa  |  Sojabone  |  Motorvervaardigers  |  Handelsoorlog  |  Invoertariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.