Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
KYK: Uitbreiding van Gautrein wag net op Cyril

Die Gautrein se beplande uitbreidingsprojek, wat sy bestaande spoornetwerk meer as sal verdubbel, wag nou net op ’n oproep van pres. Cyril Ramaphosa.

“Ons sit oorgehaal om te begin,” sê Jack van der Merwe, uitvoerende hoof van die Gautrein-bestuursagentskap.

“Ons wag nou net vir ’n oproep van pres. Ramaphosa of Fikile Mbalula, minister van vervoer.”

Van der Merwe het Maandag in Midrand gepraat by die bekendstelling van die Gautrein se jongste ekonomiese-impak-studie.

Die Gautrein, wat tans sowat 80 km se roetes deur Gauteng dek, beplan om ’n verdere 149 km se spoorlyne te lê met 19 nuwe stasies. Dié roetes sal onder meer twee nuwe lyne tot sy netwerk voeg wat Soweto tot Samrand en Lanseria tot Boksburg sal koppel.

Volgens Van der Merwe is die nodige uitvoerbaarheidstudie voltooi, die openbare-private-vennootskap in plek en die aansoek by die tesourie is in.

Hy is optimisties dat die projek eersdaags sal kan begin, veral na aanleiding van Ramaphosa se bevestiging in sy staatsrede dat die nasionale ontwikkelingsplan sal voortbeweeg. Die projek vir die Gautrein se geïntegreerde openbare vervoerstelsel is deel hiervan.

Die uitbreidingsprojek sal ongeveer R110 miljard kos om heeltemal te voltooi, maar sal in fases benader word.

Volgens Van der Merwe is die lyn tussen Soweto en Samrand die topprioriteit.

Jacob Mamabolo, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, Maandag by Centurion se Gautrein-stasie. Mamabolo sê die toekoms van openbare vervoer in Suid-Afrika is spoorweë en hy gaan die “kampvegter” van die Gautrein se uitbreiding en hoë standaarde wees. Foto: William Horne

Ook teenwoordig op Maandag se mediakonferensie was Jacob Mamabolo, Gautengse LUR vir paaie en vervoer. Hy is saam met ’n afvaardiging van staatsbeamptes en die media op ’n treinrit van Midrand na Centurion en terug geneem voordat die jongste verslag deur hom aan die media bekend gestel is.

Mamabolo was vreeslik beïndruk met sowel die rit as die verslag. Dit was sy eerste keer op die Gautrein.

“Ek benoem myself vandag die kampvegter vir die Gautrein en die uiters hoë standaarde wat hy vir openbare vervoer stel,” het Mamabolo gesê.

Die navorsingsverslag is deur ’n onafhanklike navorsingsmaatskappy, Hatch, gedoen.

Mamabolo het ook die lof hiervan besing, deels omdat die Gautrein-bestuursagentskap ’n onafhanklike party gekies het om die verslag aanmekaar te sit, asook omdat hy so besorgd bly oor sy groter ekonomiese impak in die provinsie, al word so ’n duur verslag nie vereis nie.

Die navorsing het Mamabolo se punt ondersteun dat die Gautrein op “geen manier” slegs ’n treinstelsel is nie.

“Dit is soveel meer.”

Hatch se verslag wys deur middel van ’n ontleding van die 98 miljoen reise wat al op die trein geneem is hoe integraal die Gautrein vir ekonomiese vooruitgang in die provinsie geword het.

“Elke reis dra gemiddeld R78 tot die groter ekonomie by. R5 per reis word bespaar wat dodelike padongelukke betref, R4 aan die koste van koolstofvrystellings en die gemiddelde 22 minute wat per pendelaar bespaar word, lei tot R69 se besparings op infrastruktuurkoste en meer.”

Jarendra Reddy, hoof van stadsbeplanning en navorsing by Hatch, sê die Gautrein-stelsel is so doeltreffend en fasiliteer so baie bykomende ekonomiese aktiwiteite dat elke rand wat daarin belê word tot R2,60 se groei in die ekonomie lei.

“ ’n Beduidende 59% van alle nuwe kantoorontwikkelings in die groot ekonomiese middelpunte van Gauteng geskied nou ’n hanetree van die Gautrein-stasies af,” sê Reddy.

Met al 66 000 van daai mense terug op die pad, sal vervoer op die stad se paaie dan eintlik net sowel net ossewaens kon wees. Dis hoe groot ’n terugslag ons sou hê.
Jacob Mamabolo, in verwysing na die 66 000 daaglikse gebruikers van die Gautrein

Die ekonomiese middelpunte wat die Gautrein moontlik maak en help ontwikkel, het ’n sneeubaleffek, sê Reddy, wat deur die ekonomie in baie meer as net werkskepping weergalm.

Hatch se navorsing wys dat sowat R44 miljard se regstreekse buitelandse beleggings in Gauteng van 2013-’16 aan die Gautrein se ontwikkeling toegeskryf kan word.

“Dit is ’n statistiese bevestiging, in reële terme, van die invloed van dié uitstekende projek,” sê Mamabolo.

“As dit nie vir die Gautrein was nie, sou die Gautengse ekonomie werklik swaar gekry het.”

Mamabolo het ook na die 66 000 pendelaars verwys wat daagliks die Gautrein gebruik. Volgens Van der Merwe is 77% van hulle mense wat andersins hul eie motors sou gebruik het.

Mamabolo sê die huidige gemiddelde spoed van die Johannesburgse metropool se snelweë gedurende spitstyd is slegs 48 km/h.

“Met al 66 000 van daai mense terug op die pad, sal vervoer op die stad se paaie dan eintlik net sowel net ossewaens kon wees. Dis hoe groot ’n terugslag ons sou hê,” sê hy.

“Die toekoms van Gauteng en Suid-Afrika se geïntegreerde openbare vervoerstelsels is spoorweë. Ek gaan daarvan seker maak dat die ministers en president weet hoe belangrik dié uitbreiding is en dat Prasa kan leer by dié wêreldklasinstelling.”

gautrein

Meer oor:  Jacob Mamabolo  |  Gauteng  |  Spoorweë  |  Treine  |  Gautrein  |  Openbare Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.