Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
KZN-skade is dalk meer as R15 mjd.

Sakeondernemings met groot versekeringseise ná die onlangse onluste en plundering in KwaZulu-Natal (KZN) en Gauteng, sal dalk twee maande of selfs langer wag op uitbetalings, waarsku versekeringskenners.

Competitive Hardware in Phoenix naby Durban nadat dit geplunder is.

Mxolisi Kaunda, die burgemeester van eThekwini, het die skade aan eiendom en toerusting in die Durban-omgewing op minstens R15 miljard geraam, maar dit kan nog styg omdat sake- en eiendomseienaars, en versekeraars en assessors nog besig is om die skade te bepaal.

Craig Mendelson, korttermynversekeringsbestuurder by Consolidated Group, verwag sakeondernemings met kleiner versekeringseise kan binne ’n paar weke uitbetaal word, maar groot eise kan maande duur afhangend van hoe ingewikkeld die eis is.

Ryan Woolley, uitvoerende hoof van Insurance Claims Africa (ICA), het aan Rapport gesê in hierdie stadium is daar nie kommer oor of die staatsversekeraar, Sasria, die enigste wat dekking bied teen skade wat verband hou met oproere, stakings en terrorisme, vir die eise sal pa staan nie.

’n Groot probleem is egter dat die meeste ondernemings skade van meer as R1 miljoen gely het en hierdie eise gaan nie gou uitbetaal nie, sê Woolley.

“Wat doen jy as al jou voorraad gesteel is en jy kan dit nie vervang sonder ’n uitbetaling nie? Ons wil daarom onderhandel dat daar tussentydse uitbetalings is; geld in omloop sodat sakeondernemings kan sake doen.

“Ons het geleer met die Covid-19-eise dat geld onmiddellik beskikbaar gemaak moet word sodat ondernemings kan oop bly en hul werkers kan betaal.”

Sasria, wat in 1979 in die lewe geroep is in reaksie op die Soweto-opstande drie jaar tevore, het dié week bevestig hy is daartoe verbind om eise uit te betaal ná die plundertogte en sabotasie.

Dit kan daarop neerkom dat die regering sal moet help of ’n waarborg verskaf.

Cedric Masondo, besturende direkteur van Sasria, het aan Business Day TV gesê Sasria het nog nooit in sy 42-jarige bestaan eise op so ’n skaal gesien nie. Sasria het reeds eise begin verwerk en uitbetalings begin doen.

“Uitbetalings in die geval van groot eise kan egter langer neem. Party winkelsentrums sal byvoorbeeld 18 maande neem om herbou te word.”

Fareedah Benjamin, uitvoerende bestuurder van versekeringsbedrywighede by Sasria, het Vrydag aan lede van die Durbanse Kamer van Koophandel en Nywerheid gesê versekeraars wat Sasria-agente is, het ’n vaste mandaat om dringende eise tot R50 000 uit te betaal en van Sasria terug te eis.

Volgens Benjamin is gesprekke aan die gang om ’n mandaat daar te stel waarvolgens eise van tot R1 miljoen vir kommersiële lyne uitbetaal word en tot R500 000 vir persoonlike produkte.

Só ’n mandaat is nog nie onderteken nie en die besluit berus op die verskillende versekeraars se aptyt om solank die uitbetaling te doen, het sy gesê.

Volgens Masondo gaan Sasria se herversekeraars ook akkoord dat die gebeure van die afgelope tyd risiko’s is wat Sasria moet dek.

“Daar’s nie ’n dispuut hieroor nie. Ons wil die eise eerbiedig.”

Volgens Benjamin beskou Sasria die tydperk van 9 Julie tot 19 Julie as die aktiewe gevaartydperk vir die skade wat versekerdes gely het. Business Unity South Africa (Busa) sê meer as 900 kleinhandelwinkels is geplunder, aan die brand gesteek of beskadig, met geraamde verliese wat R5 miljard beloop.

Weens vroeëre sluitings van hoofpaaie na KZN en die vernietiging van vragmotors is die verskaffingsketting ontwrig. Busa raam dié ontwrigting kos die land sowat R100 miljoen per dag.

Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Padvragvereniging, het gesê afhangend van die soort voertuig, die soort en waarde van die vrag, kan die skade aan een voertuig tussen R3 miljoen en R10 miljoen wees.

Minstens 40 vragmotors is vernietig en teen ’n gemiddelde verlies van R5 miljoen per voertuig, bring dit die kapitaalverlies op sowat R300 miljoen te staan net vir dié vragmotors.

Vandeesweek het die Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika (Veesa) skade aan winkelsentrums en ander sake-eiendomme in KZN op R20 miljard geraam. Veesa sê meer as 1 100 kleinhandelwinkels is geraak en beskadig, en 3 000 winkels is geplunder.

In die onderhoud het Masondo gesê drie dae nadat die oproer op die Sondag uitgebreek het, was Sasria nog vol vertroue dat hy genoeg kapitaal gehad het om eise te kon uitbetaal.

“Maar soos die syfers later ingekom het, het ons besef die omvang daarvan sal ons reserwes oorskry én die bedrae waarvoor ons herversekering het.”

Sasria het met die nasionale tesourie en provinsiale regerings van Gauteng en KZN vergader oor die omvang van die skade en die moontlikheid van geldhulp van die tesourie.

Daily Maverick het Donderdag berig Nedlac-rolspelers het voorgestel die regering verskaf waarborge aan Sasria in die lig daarvan dat die versekeraar dalk nie genoeg kontant sal hê vir alle uitbetalings nie. Dieselfde voorstel is glo geopper tydens pres. Cyril Ramaphosa se vergadering met sakeleiers die week.

Masondo het volgens die publikasie ook op SAfm gesê op die oog af lyk dit of versekeringseise van tussen R10 miljard en R20 miljard Sasria bankrot sal laat sou hy ’n private versekeraar wees.

Sasria het sowat R2 miljard kontant en beleggings van sowat R8,5 miljard, maar wil nie noodwendig daarvan ontslae raak om sy kontant aan te vul nie.

Meer oor:  Plundery En Geweld  |  Sasria  |  Korttermynversekering  |  Onluste  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.