Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Laagste inflasie in 14 jaar, maar kommer oor kos

Vanjaar gaan jy dalk al hoe meer moet lag en betaal om kos op die tafel te sit – al lyk die inflasiesyfers wat pas uitgereik is, goed.

Die inflasiekoers vir 2019 was die laagste in jare. Foto: iStock

Inflasie was in 2019 gemiddeld net 4,1%, die laagste in 14 jaar, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas bekend gemaak. Dit is die laagste gemiddelde inflasiekoers sedert 2005, toe dit 3,4% was. In 2018 was die gemiddelde inflasiekoers 4,7%.

Inflasie was in 2019 nie één maand hoër as 4,5% - die middel van die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% - nie. Dit was wel in Maart, Mei en Junie 4,5%. Die laagste koers deur die loop van die jaar was November se 3,6%.

Die inflasiekoers vir Desember was egter 4%, heelwat hoër as November se 3,6%. Dit was die eerste keer in vier maande waarin inflasie gestyg het.

Een van die grootste rede vir die hoër inflasiekoers in dié maand was dat kosprysinflasie tot 3,9% opgeskiet het (vanaf 3,5% in November).

Die groot probleem bly die prys van brood en graanprodukte, wat as kategorie weer 8% duurder is as ’n jaar gelede. 

Kosprysinflasie het deur die loop van die jaar stadig maar seker gestyg - van net 3% in Januarie tot Desember se 3,9%.

Die hoër styging in kospryse beteken die armste Suid-Afrikaners - wat proporsioneel ’n groter persentasie van hul inkomste aan kos moet bestee om te oorleef - ervaar inflasie van 5,5%.

Pensioentrekkers beleef gemiddeld inflasie van 4,1%.

Brandstof

Die koers waarteen brandstof duurder word, het van -1,2% in Januarie – dus deflasie oftewel ’n daling in pryse – tot 2,4% in Desember gestyg.

Kerninflasie

Goeie nuus is dat kerninflasie, wat kos, brandstof en krag uitsluit, effens gedaal het, van 3,9% in November tot 3,8% in Desember.

Kerninflasie het ook gemiddeld in 2019 gedaal tot net 4,1%, teenoor 2017 se 4,7% en 2018 se 4,3%.

Die Reserwebank hou kerninflasie fyn dop. Dit is ’n beter aanduiding van enige vraagkantdruk in die ekonomie omdat faktore uitsluit wat deur droogtes, die rand-dollar-wisselkoers en regulering beïnvloed word.

Die Reserwebank het verlede week die rentekoers met 25 basispunte verlaag en daarop gesinspeel dat nog verlagings vanjaar kan kom indien die inflasiekoers en inflasieverwagtinge in bedwang bly.

Inflasie waar jy woon

Inflasie in twee provinsies is bo die nasionale gemiddelde, naamlik in Limpopo (4,7%) en die Wes-Kaap (4,4%). Die laagste inflasiekoers is in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal (albei 3,7%).

Vervoerkoste skiet op

’n Langafstand-buskaartjie het verbruikers gemiddeld 20,6% duurder gekos in Desember 2019 as ’n jaar vantevore, volgens Statistieke Suid-Afrika se SoundCloud-voorlegging oor die inflasiesyfers.

Dit het hulle ook gemiddeld 14,9% meer gekos om ’n motor te huur.

Dié stygings het die inflasiekoers vir openbare vervoer in Desember tot 3,7% laat styg, teenoor 3,5% in November.

Huur

Huurgeld het in 2019 gemiddeld met net 2,9% gestyg – die laagste styging sedert 2007.

Volgens die onafhanklike ekonoom Elize Kruger dui dit op die finansiële druk wat huurders ervaar, sowel as op ’n ooraanbod van eiendom te huur. Dit maak dit vir mense met verhuringseiendom moeilik om huur baie te verhoog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.