Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Lae inflasie wys tam ekonomie
Die tam ekonomie, tesame met druk op verbruikers, maak dit haas onmoontlik om pryse te verhoog en wins te maak.

Die jongste inflasiesyfers maak dit duidelik waarom soveel ondernemings duisende mense aflê of selfs hul deure sluit. Die tam ekonomie, tesame met druk op verbruikers, maak dit haas onmoontlik om pryse te verhoog en wins te maak, reken ontleders.

Dié opmerkings kom nadat Statistieke Suid-Afrika Woensdag bekend gemaak het inflasie was in 2019 die laagste in 14 jaar op gemiddeld 4,1%. Dit was in 2005 op 3,6%. In 2018 was die gemiddelde inflasiekoers 4,7%.

Inflasie was in 2019 nie één maand hoër as 4,5% – die middel van die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% – nie. Dit was wel in Maart, Mei en Junie 4,5%. Die laagste koers deur die loop van die jaar was November se 3,6%.

Die inflasiekoers vir Desember was egter 4%. Dit was die eerste keer in vier maande waarin die inflasiekoers gestyg het.

Elize Kruger, ’n onafhanklike ekonoom, sê ondanks die feit dat die rand met meer as 9% verswak het in 2019, is inflasie goed in bedwang.

“Die omgewing van lae aanvraag het duidelik die prysingsmag van kleinhandelaars verminder, dus die kleinhandelaars is nie in staat om die volle omvang van kostestygings aan verbruikers deur te gee nie, wat al hoe meer druk op hul winsgrense plaas.

“Dis dus geen verrassing dat kleinhandelaars onder druk is, winkels toemaak, afskakel en personeel aflê nie. Verwag om meer van dié neigings in 2020 te sien.”

Massmart het onlangs aangekondig hy gaan DionWired en Masscash sluit, ’n stap wat 1 400 mense hul werk kan kos.

Goeie nuus uit die inflasiesyfers is dat kerninflasie, wat kos, brandstof en krag uitsluit, effens gedaal het, van 3,9% in November tot 3,8% in Desember.

Kerninflasie het ook gemiddeld in 2019 gedaal tot net 4,1%, teenoor 2017 se 4,7% en 2018 se 4,3%.

Die Reserwebank hou kerninflasie fyn dop. Dit is ’n beter aanduiding van enige vraagkantdruk in die ekonomie omdat dit faktore uitsluit wat deur droogtes, die rand-dollar-wisselkoers en regulering beïnvloed word.

Die Reserwebank het verlede week die repokoers met 25 basispunte verlaag en daarop gesinspeel dat nog verlagings vanjaar kan kom indien die inflasiekoers en inflasieverwagtinge in bedwang bly.

Kruger verwag dat die inflasiekoers in 2020 tot gemiddeld 4,5% sal styg. Dis steeds op die middelpunt van die Reserwebank se teikenband, “wat die besluit om die rentekoers te verlaag, regverdig”.

Die Reserwebank self verwag 4,7% vir die nuwe jaar.

Oor die volgende paar maande verwag Kruger ’n styging in die inflasiekoers, grootliks weens brandstofprysstygings. In Januarie was petrol byvoorbeeld R2,15 per liter oftewel 15,3% duurder as ’n jaar vantevore.

Dit kan die inflasiekoers vir Januarie tot 4,7% opdruk, volgens haar, waarna dit weer tot 4,5% sal terugsak. Sy verwag dat kerninflasie op 3,8% sal bly.

Die Nedbank-ekonome Dennis Dykes en Johannes Khosa verwag ook ’n styging in die inflasiekoers oor die volgende paar maande: “Dit sal ’n verdere verlaging in die rentekoers sielkundig moeiliker maak, hoewel steeds moontlik gegewe die gedempte ekonomiese bedrywigheid.”

Die Reserwebank sal veral kospryse, die rand en oliepryse dophou, meen hulle.

kos

Nog inflasiesyfers

  • Die kosprysinflasiekoers het deur die loop van die jaar stadig maar seker gestyg – van net 3% in Januarie tot Desember se 3,9%. Die hoër styging in kospryse beteken die armste Suid-Afrikaners – wat proporsioneel ’n groter persentasie van hul inkomste aan kos moet bestee om te oorleef – ervaar inflasie van 5,5%.
  • Pensioentrekkers se gemiddelde inflasiekoers is 4,1%.
  • Die koers waarteen brandstof duurder word, het van -1,2% in Januarie – dus deflasie oftewel ’n daling in pryse – tot 2,4% in Desember gestyg.
  • Inflasie in twee provinsies is bo die nasionale gemiddelde, naamlik in Limpopo (4,7%) en die Wes-Kaap (4,4%). Die laagste inflasiekoers is in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal (albei 3,7%).
  • ’n Langafstand-buskaartjie het verbruikers gemiddeld 20,6% duurder gekos in Desember 2019 as ’n jaar vantevore. Dit het hulle ook gemiddeld 14,9% meer gekos om ’n motor te huur.
  • Huurgeld het in 2019 gemiddeld met net 2,9% gestyg – die laagste styging sedert 2007.
Meer oor:  Geldeenhede  |  Ekonomie  |  Inflasie  |  Dollar  |  Randdollarwisselkoers  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.