Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Lagarde: Handelsoorlog knou ontluikende lande

Die verskerpte handelsoorlog tussen China en die VSA kan ontluikende markte “skok”, sê Christine Lagarde, hoof van die Internasionale Monetêre Fonds.

Christine Lagarde, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds. Foto: Reuters

Sy het in ’n onderhoud met die Financial Times gewaarsku die krisis in dié markte, wat reeds die gevaarligte laat flikker, kan uitbrei.

Sy was veral bekommerd dat die huidige probleme in Argentinië en Turkye oorspoel na die res van die ontluikende markte.

Albei dié lande het ’n groot tekort op hul lopende rekening en reuse-bedrae buitelandse skuld.

Woensdag het pres. Xi Jinping van China gewaarsku dat die politieke landskap toenemend deur proteksionisme en eensydige optrede gekenmerk word.

Dit word beskou as ’n hou wat na pres. Donald Trump van Amerika gemik word. Dit volg ’n paar dae nadat Trump China met invoertariewe op goedere ter waarde van nog $267 miljard gedreig het. Dis afgesien van die $50 miljard se tariewe wat reeds ingestel is en ’n verdere $200 miljard wat oorweeg word.

Beijing het tot dusver die VSA in gelyke munt terugbetaal met die instelling van nuwe tariewe en het belowe om dieselfde te doen as Washington nóg invoertariewe op sy goedere hef, selfs al voer hy eintlik meer goedere na Amerika uit as wat Amerika na China verskeep.

Lagarde sê as die wêreld se twee grootste ekonomieë so voortgaan, kan dit ’n “meetbare impak” op ekonomiese groei in China hê en kan dit swakhede in sy buurlande se ekonomieë blootlê. Dié lande se voorraadkettings is met China s’n verweef.

Sommige ontluikende lande bevind hulle in ’n baie moeilike posisie met geldeenhede wat verswak, deels weens die sterk dollar. Beleggers begin nou weer na die VSA as ’n veilige bestemming vir hul geld kyk nou dat uitleenkoerse daar stadig maar seker aan die styg is.

Lagarde het reeds vroeër vanjaar gewaarsku teen die gevare van ’n internasionale handelsoorlog en daarop gewys dat handel een van die wêreldekonomie se vernaamste drywers is.

Meer oor:  Christine Lagarde  |  Turkye  |  Argentinië  |  Rand  |  Imf  |  Ontluikende Markte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.