Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Landbank praat ook met ‘ander’ oor kommer
Skermgreep van die brief wat Futuregrowth aan die Landbank gestuur het. Foto:

Die Landbank het die afgelope weke nie net met Futuregrowth gepraat oor die kommer oor korporatiewe bestuur nie, maar ook met ander befondsers, blyk dit uit ’n verklaring wat deur Tshokolo Petrus (TP) Nchocho, uitvoerende hoof, en Bennie van Rooy, finansiële hoof, uitgereik is.

Dit kom nadat die batebestuurder Futuregrowth vir drie weke lank ’n omvattende ondersoek oor die Landbank se korporatiewe bestuur gedoen het.

Futuregrowth het op 31 Augustus aangekondig hy stop lenings aan die Landbank en vyf ander staatsondernemings tydelik weens die kommer wat bestaan oor die onafhanklikheid van hul direksies en ander kopsere oor hul korporatiewe bestuur.

Dit blyk nou die ondersoek het ingesluit die bestudering van die Landbank se beleid oor hoe politiek-blootgestelde persone hanteer word en sy register wat toon watter belangebotsing kan bestaan vir belangrike besluitnemers en direkteure.

Boonop gaan Futuregrowth spesifieke beskerming in leningsooreenkomste inbou vir beleggers wat spesifiek fokus daarop dat die stabiele verhouding met die nasionale tesourie voortgesit word.

Tshokolo Petrus (TP) Nchocho, uitvoerende hoof van Landbank. Foto:

Die Landbank het Maandag in ’n verklaring aangekondig Futuregrowth het weer aan hom begin geld leen.

“Dit kom ná die bank se proaktiewe en konstruktiewe skakeling met ’n groot groep van bestaande en potensiële finansiers, ingesluit Futuregrowth, oor kommer wat met korporatiewe bestuur en onafhanklikheid verband hou.”

Nchocho en Van Rooy sê danksy die skakeling is sekere gesamentlike aanbevelings gedoen om deursigtigheid en openbaarmaking te verbeter.

Die brief wat deur Andrew Canter, beleggingshoof van Futuregrowth, aan die Landbank gestuur is, is ook op sy webtuiste gepubliseer.

“Langer termyn voortsetting van verdere lenings sal onderhewig wees aan ooreengekome wysigings en bepalinge in leningsooreenkomste asook Futuregrowth se voortgesette monitering van Landbank se korporatiewe bestuur en finansies,” het Canter geskryf.

Bennie van Rooy, finansiële hoof van Landbank. Foto:

Direksie bekyk

Canter sê die ondersoek die afgelope weke het interaksie met die Landbank se uitvoerendebestuurspan en die direksie ingesluit.

“Behalwe vir ’n omvattende inspeksie van die direksie, direksiekomitees en uitvoerende bestuur, het die proses ingesluit ’n ontleding van die Landbank se beleidstellings en praktiese toepassing van die beleid.”

Hy sê dit het ingesluit:

* Om te verstaan wat die verhouding, aard en omvang van die betrokkenheid en ondersteuning is van die uitvoerende gesag – wat die aandeelhouer (regering) verteenwoordig, en tans die nasionale tesourie is.

* Om ’n dieper begrip te kry oor die korporatiewe bestuur en wetsraamwerk waaronder die bank bedrywig is en hoe veranderinge daaraan gemaak kan word.

* ’n Dieper hersiening van die bank se leningsbeleid, praktyke en mandate en die toepassing daarvan.

Belangebotsing ondersoek

Volgens Canter het die noulettendheidstudie nie net ’n bestudering van die dokumente behels nie, maar bewyse van die uitvoering van die beleid in die praktyk is gevra.

Dit het ingesluit: die akte en mandaat van die direksie en subkomitees, etiekkode, beleid oor polities blootgestelde persone, die register wat toon of direkteure en belangrike besluitnemers ’n botsing van belange kan hê, sy fluitjieblaserbeleid, evaluasie van direkteure, die omset van die direksie en wat die redes daarvoor is.

“’n Belangrike fokus van ons noulettendheidstudie was die proses waarvolgens Landbank geld leen en belê,” het Canter gesê.

Aanbevelinge gedoen

“Ons het sekere areas vir verbetering geïdentifiseer wat met die direksie bespreek is en aanvaar is.”

Die aanbevelings het ingesluit: dat die bedrag wat die beleggings- en kredietkomitees kan goedkeur verlaag word; dat die kworum van lede wat teenwoordig moet word vir die direksie en subkomitees verhoog moet word; ’n hoër stempersentasie vir besluitneming op direksievlak en subkomitees; en meer gereelde openbaarmaking van belangrike aanwysers en inligting.

Hy sê Futuregrowth het met die direksie en bestuur ooreengekom dat die bank gereeld oor belangrike sake in die openbaar verslag sal doen om monitering en deursigtigheid te verbeter.

Meer openbare verslagdoening

Volgens hom het die bank ingestem oor gereelde en openbare verslagdoening oor wesenlike veranderinge aan belangrike beleid; die aktes en verwysingsterme van die direksie en subkomitees; die bedryfsplan; detail oor die omset van die direksie en uitvoerende bestuur; belangebotsing soos op direksie en subkomiteevlak; asook openbaarmaking van die getal en omvang van transaksies wat deur die verskeie krediet- en beleggingskomitees goedgekeur word.

Meer oor:  Transnet  |  Futuregrowth  |  Eskom  |  Nok  |  Landbank  |  Andrew Canter  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.