Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Langverwagte daling in rentekoers is hier

Verbruikers met skuld het Donderdag – eindelik – die verlaging in die rentekoers gekry waarna hulle al baie lank smag.

Suid-Afrikaners met skuld sal ’n blaaskans met die rentekoers verwelkom. Foto: Pixabay

Dit was egter net ’n druppel aan die emmer.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het aangekondig dat die sentrale bank sy repokoers met 0,25 van ’n persentasiepunt, van 6,75% tot 6,5%, verlaag.

Dit beteken banke se prima rentekoers verander van 10,25% tot 10%.

Prof. Johan Willemse van AgrimarkConsultants het vroeër die week gesê so ’n verlaging moes eintlik al ses maande gelede gebeur het omdat inflasie al lank in bedwang is.

Al vier lede van die monetêrebeleidskomitee (MBK) het ten gunste van die verlaging gestem. Kganyago het in vraetyd gesê ’n verlaging van 0,5 van ’n persentasiepunt is nié oorweeg nie.

Die rand het dadelik met 5c tot R13,92 teenoor die dollar versterk.

LEES OOK: Rentekoers verlaag: Soveel kan jy spaar

Dit lyk asof dié verlaging dalk die enigste in ’n lang tyd gaan wees. Die Reserwebank se kwartaallikse projeksiemodel voorspel geen verdere rentekoersverlaging nie.

Kganyago, wat streng monetêre beleid voorstaan, het tot in Maart vanjaar nog die risiko’s vir die inflasiekoers oorbeklemtoon, maar toe was daar reeds tekens van verdeling in die MBK. Toe het twee uit die toe vyf lede van die komitee ’n verlaging voorgestaan, en die projeksiemodel het ’n verlaging teen Maart 2020 voorspel.

Donderdag het hy die Reserwebank se verwagting vir inflasie vir 2019 verlaag. Die MBK voorspel nou inflasie van 4,4% vir 2019, teenoor Mei se voorspelling van 4,5%. Vir 2020 en 2021 bly die verwagting onveranderd op 5,1% en 4,6%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Denzil Maregele

Die boonste draaipunt van inflasie gaan na verwagting in die eerste kwartaal van 2020 wees en 5,4% beloop.

Hy het egter gesê klein veranderinge aan risiko’s kan inflasie weer sterk laat styg.

Die verlaging kan grootliks toegeskryf word aan die sterker rand en laer inflasiedruk vanuit die buiteland.

Die Reserwebank het sy verwagtinge vir ekonomiese groei ook verlaag. Die MBK voorspel nou groei van net 0,6% vir 2019 (Mei: 1%), maar die verwagting vir 2020 en 2021 bly onveranderd op 1,8% en 2%.

Dit word toegeskryf aan die swakker wêreldekonomie, onder meer weens die voortslepende handelsoorlog tussen die VSA en sy handelsvennote en geopolitieke spanning.

Kganyago het beklemtoon dat die 3,2%-inkrimping in die eerste kwartaal grootliks toegeskryf kan word aan beurtkrag. Hy verwag dat die ekonomie in die tweede kwartaal gaan terugbons, maar sakevertroue bly kommerwekkend laag.

Hy het weer eens gesê strukturele probleme in die ekonomie moet “dringend” aangepak word.

Oor die MBK

Daar is op die oomblik slegs vier lede, pleks van vyf of ses.

Die MBK het twee vakatures vir adjunkpresidente gehad nadat Francois Groepe in Januarie en Daniel Mminele in Junie bedank het. Hul opvolgers is reeds aangewys, naamlik Fundi Tshazibana en Rashad Cassim, maar omdat dié twee reeds op die MBK dien, is daar steeds twee vakatures op die komitee.

Kganyago het gesê hulle sal binnekort die leë stoele vul.

geldsake
Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Inflasiekoers  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.