Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Lesetja by WEF: Vergeet eers drome van Afrika-bank

Afrika se ekonomie sal in geheel vanjaar vinniger as die wêreldgemiddelde groei, verwag Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

As jy Suid-Afrika en Nigerië uithaal, groei Afrika suid van die Sahara reeds meer as 5%, het Kganyago Vrydag op die Wêreld- Ekonomiese Forum oor Afrika in Kaapstad gesê. Hy het deelgeneem aan ’n paneelbespreking oor ekonomiese groei in Afrika.

Om Afrika te laat groei is nie moeilik nie. Afrikalande moet bloot die nuwe Afrika-vryhandelsooreenkoms benut en meer met mekaar, asook meer met die res van die wêreld handel dryf, sê Kganyago.

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het Vrydag by die WEF aan ’n bespreking deelgeneem. Foto: Francois Williams

Logistieke uitdagings en infrastruktuurbottelnekke is deel van die struikelblokke, soos spoorwydtes tussen lande wat verskil. Maar die verbetering en bou van nuwe infrastruktuur bied self geleenthede vir groei, meen Kganyago.

Albert Zeufack, hoofekonoom vir Afrika by die Wêreldbank, sê die vrye beweging van mense oor grense heen is noodsaaklik om beter groei in Afrika te ontsluit, en die gebeure van die afgelope weke (’n verwysing na die xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika op buitelanders) boesem glad nie vertroue in nie. Hy meen tegnologie moet benut word om die vrye beweging van mense te vergemaklik, soos digitale paspoorte.

Mense moet in terme van Afrika dink en nie in terme van individuele lande nie, sê Zeufack.

Kganyago meen hoewel nog gedroom word oor ’n kontinentwye betalingstelsel en ’n enkele sentrale bank vir Afrika, kan die bestaande geldstelsels beter benut word en aan mekaar verbind word sodat meer intra-Afrika-transaksies beklink kan word.

Olusola David-Borha, Afrika-hoof van die Standard Bank-groep, meen die Afrika-lande wat hul voorbereiding goed doen, sal die meeste voordeel trek uit die vryhandelsooreenkoms.

“Dis private maatskappye wat met mekaar handel dryf. Dit is maar net toevallig dat hulle van verskillende lande kom. Maar Afrika-regerings moet beter kommunikeer met die private sektor om uit te vind wat hul struikelblokke is om meer met mekaar binne Afrika handel te dryf,” sê Kganyago.

Digitale transformasie:

Zeufack sê ’n studie van die Wêreldbank wys die vierde nywerheidsrevolusie en digitale transformasie sal meer nuwe werkgeleenthede skep as wat dit vernietig.

“Dis nie iets in die toekoms nie, dit is reeds hier en dit gebeur, vra maar vir gesondheidswerkers in Rwanda en Kenia en Nigerië. Afrika doen ’n tegnologiese paddasprong.”

Die vraag is of dit gedoen gaan word met of sonder Afrikane. Hoe gaan uitvinders uit Afrika en tegnologiemaatskappye in Afrika daarby betrek word?

Kganyago meen wat ook misgekyk word, is hoe diensvlakke van die staat deur digitale transformasie verbeter kan word.


Meer oor:  Wef  |  Reserwebank  |  Lesetja Kganyago  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.