Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ligter vlak 1: 6 dinge wat jy moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand vir die eerste keer in twee maande regstreeks met Suid-Afrikaners oor Covid-19 gepraat. Hier is wat jy moet weet.

  

1. Die ramptoestand word tot 15 Desember verleng

Ramaphosa het baie spesifieke gebiede uitgewys waar Covid-19-gevalle weer skerp begin styg het, soos Nelson Mandelabaai en Bloemfontein. Die risiko van nuwe opvlammings beteken dat die regering nog op ’n gereedsheidsgrondslag is en die ramptoestand word dus verleng tot 15 Desember. Dit sou op 15 November ten einde geloop het. 

 

2. Drankverkope uitgebrei, nie verminder

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Gesondheid in die rondheid! Drankverkope word op normale ure hervat - dus ook oor naweke. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ondanks vrees dat drankverkope weer verminder sou word, het Ramaphosa aangekondig dat “normale” ure vir drankverkope voortaan sal geld. Dit beteken dat die regulasie wegval dat drank nie op Saterdae en Sondae verkoop mag word nie en in die week net tot 17:00.

Die verligting tree dadelik in werking volgens regulasies wat Woensdagnag laat gepubliseer is.

  

3. Covid-19-Ters word nog ’n maand verleng

Die Werkloosheidsversekeringsfonds se hulp vir werknemers wat tydelik afgelê is, word met een maand verleng. Eise kan nou ook vir die tyd tot 15 Oktober ingedien word.

Talle bedrywe het die afgelope maand te velde getrek dat dit net tot 15 September sou geld.

 

4. Alle toeriste nou welkom

Die sogenaamde rooi lys van lande wie se inwoners Suid-Afrika nie mag inkom nie, val oënskynlik weg. 

Ramaphosa het aangekondig die land se grense word vir besoekers van oral oopgestel – onderhewig aan regulasies.

Dit sluit in dat voornemende besoekers moet bewys hulle het 72 uur voor hul aankoms negatief vir Covid-19 getoets, soos tans die geval is.

Dis ’n enorme verligting vir die toerismebedryf omdat Suid-Afrika sterk steun op toeriste van die VSA, Brittanje, Duitsland en Nederland, almal lande wat op die rooi lys was weens hoë infeksiekoerse.

Die verligting tree ook dadelik in werking volgens regulasies wat Woensdagnag laat gepubliseer is.

    

5. Vyf dae van rou afgekondig

Ramaphosa het vyf dae van nasionale rou afgekondig.

Die landsvlag sal van 25 tot 29 November halfmas hang uit erkenning aan mense wat aan Covid-19 gesterf het, en ook vir slagoffers van geslagsgegronde geweld.

’n Beroep word op Suid-Afrikaners gedoen om op dié vyf dae swart armbande te dra om hulde te bring aan mense wat aan Covid-19 gesterf het. Dit is uit erkenning van die rou wat ons as land beleef het en as aanduiding van ons vasberadenheid om die virus te bowe te kom, het Ramaphosa gesê.

  

6. ’n Pleidooi

Ramaphosa het met diepe kommer gepraat oor foto’s op sosiale media van mense wat in groot groepe byeenkom in sjebiens of nagklubs sonder enige sosiale afstande of maskers. Hy sê gegewe wat in ander lande gebeur, waar streng inperkings heringestel moes word, kan Suid-Afrika nie bekostig om te ontspan of houtgerus te word nie.

Hy sê dit is wel soms irriterend om ’n masker te dra, veral noudat dit somer word, maar dit bly ’n belangrike manier om die verspreiding van die virus wat Covid-19 veroorsaak, te voorkom.

Hy sê ook hy verstaan dat mense ná ’n lang jaar oor die Kersvakansie bymekaar wil kom, maar mense moet eerder in die buitelug of in klein groepe kuier.

Hy het ook gepleit dat mense die Covid Alert SA-app aflaai sodat hulle ingelig sal word as hulle moontlik aan die virus blootgestel is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.