Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Likwidasies meeste in 5 jaar, maar nóg kan kom

Die howe is verlede jaar besig gehou met die meeste likwidasies en insolvensies in vyf jaar, volgens Momentum Investments.

likwidasie
Baie restaurante en kuierplekke is verlede jaar in die Wes-Kaapse Hooggeregshof gelikwideer. Foto: iStock

Herman van Papendorp, hoof van beleggingsnavorsing by Momentum, Sanisha Packirisamy, ekonoom, en Roberta Noise, ekonomiese ontleder, sê in ’n verslag dit wys op verlede jaar se droewige saketoestande.

“Sektore wat afhanklik is van verbruikersbesteding het die meeste likwidasies en insolvensies gehad.”

Hulle glo dié ondernemings gaan vanjaar verder swaarkry omdat huishoudings se geldsake nie ’n vinnige ommekeer gaan toon nie.

"Die totale aantal likwidasies en insolvensies het in 2019 tot ’n kommerwekkende vlak gestyg vergeleke met die vorige paar jaar s’n," sê hulle.

Likwidasies het verlede jaar met bykans 11% gestyg van die vorige jaar af.

Altesaam 2 042 ondernemings is in 2019 gelikwideer – die meeste sedert 2014 toe dit 2 064 was.

In 2009 het Suid-Afrika die meeste likwidasies beleef weens die internasionale finansiële krisis toe 4 133 plaaslike ondernemings ondergegaan het.

Die meeste van die likwidasies in 2019 het vrywillig geskied en het 1 784 beloop, die hoogste sedert 2013 se 2 163.

Gedwonge likwidasies het tot 258 gestyg, ook die hoogste in vyf jaar. Die meeste was in November verlede jaar toe 50 ondernemings deur ’n hofbevel gelikwideer is.

Die bedryfstoestande in 2019 was duidelik van die moeilikste tot dusver gegewe die styging in likwidasies en insolvensies.
Van Papendorp

Die ondernemings wat Statistieke Suid-Afrika as finansiering, versekering, eiendom en sakedienste gegroepeer het, het die meeste likwidasies gesien met 668.

Dit is gevolg deur ondernemings wat gegroepeer word as handel, spyseniering en verblyf, wat dus restaurante insluit. Hier was daar 457 likwidasies, waarvan 401 vrywillig.

“Hierdie sektore is wesenlik afhanklik van verbruikersbesteding en dit toon hoe broos die saketoestande vir hulle is.”

Van Papendorp en sy kollegas sê kommer oor bekostigbaarheid en streng voorwaardes vir lenings het kredietverskaffings aan huishoudings beperk. “Dit het sektore wat van verbruikersbesteding afhanklik is, verder onder druk geplaas.”

Volgens hulle het die insolvensies van individue en vennootskappe teen November ’n “verbysterende” 2 830 bereik. Dit is reeds 13% meer as die hele jaar van 2018.

Dit is ook die hoogste sedert 2014 se 3 241.

In 2009 is ’n hoogtepunt van meer as 6 000 insolvensies bereik.

“Die bedryfstoestande in 2019 was duidelik van die moeilikste tot dusver gegewe die styging in likwidasies en insolvensies wat toegeskryf kan word aan bedryfskoste wat styg, die voortslepende onsekerheid oor elektrisiteit, gebrek aan aanvraag in die plaaslike mark en ’n daling in internasionale aanvraag.”

Meer oor:  Momentum  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.