Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Lionel October skuif aan ná dekade as handelsbaas

Lionel October skuif ná ’n dekade as direkteur-generaal van handel en nywerheid na ander weivelde.

Lionel October soos hy in Oktober 2018 op die voorblad van die tydskrif ‘Public Sector Manager’ verskyn het.

October het ’n loopbaan van 20 jaar by die departement van handel en nywerheid gehad.

Hy het hom in 2001 as hoofdirekteur vir nywerheidsbeleid by die departement aangesluit en is op 1 Mei 2011 as direkteur-generaal aangestel.

Hy het op 30 April vanjaar uitgetree nadat sy tweede termyn as direkteur-generaal verstryk het. Dit kom nadat hy aangestel is as hoof van die nuwe eenheid vir spesiale ekonomiese sones by die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC).

October se dienste is dus nie verlore vir die departement nie, want hy sal ook as raadgewer oor nywerheidsbeleid vir Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, optree.

Duma Nkosi, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, het October lof toegeswaai vir sy termyn by die departement en gesê hy was altyd beskikbaar vir komiteevergaderings, het sy veld geken en was toegewyd aan openbare diens.

“Die komitee bedank hom vir sy samewerking en deursigtigheid tydens parlementêre toesigprosesse.”

Patel het October ook lof toegeswaai in ’n verklaring en daarop gewys dat hy aangewys is as die bes presterende direkteur-generaal. Onder sy toesig het die departement verskeie eerbewyse gekry as bes presterende staatsdepartement, en het die departement vier jaar agtereenvolgens ’n skoon oudit van die ouditeur-generaal gekry.

Volgens Patel was October aan die voorpunt van die hersiende strategie om spesiale ekonomiese sones te ontwikkel.

Patel sê hy is dankbaar dat October bereid is om steeds sy dienste in die breër familie van instellings binne die departement beskikbaar te stel, danksy sy werk by die IDC met spesiale ekonomiese sones, nywerheidsparke en die distriksontwikkelingsmodel.

October het van 2007 tot 2011 as ekonomiese en handelsdiplomaat by die Suid-Afrikaanse ambassade in Brussel, België, gedien en was op dié wyse nou betrokke by Suid-Afrika se handelsonderhandelinge met die Europese Unie.

Hy het ’n regsgraad van die Universiteit van Wes-Kaapland, asook ’n meestersgraad in ekonomie van die Universiteit van Londen. Voor sy loopbaan by die departement was hy onder meer hoofsekretaris van die klerewerkersvakbond Sactwu, waar Patel self ook betrokke was voor sy aanstelling as minister. October het voorheen gedien in die direksies van die IDC en die Coega Ontwikkelingskorporasie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.