
Die Reserwebank sê die negatiewe impak van die Covid-19-pandemie op die plaaslike ekonomie was “onvermydelik”. Foto: iStock
Suid-Afrika het in die tweede kwartaal ’n groot tekort van R103,6 miljard op die lopende rekening van sy betalingsbalans gehad.
Dit kom nadat die balans in die eerste kwartaal vir die eerste keer in 17 jaar in ’n oorskotposisie was, met ’n oorskot van R63,4 miljard.
As persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) sak die balans nou terug na -2,4% nadat dit 1,2% was.
Die Reserwebank sê die negatiewe impak van die Covid-19-pandemie op die plaaslike ekonomie was “onvermydelik” gegewe die feit dat wêreldhandel skerp verminder het.
Die lopende rekening op die betalingsbalans is ’n opsomming van alle geld wat die land inkom of uitvloei. Dit bestaan uit die handelsbalans (die koop en verkoop van goedere en dienste), sowel as primêre en sekondêre betalings. Primêre betalings is salarisse en beleggingsinkomste soos dividende en rente; sekondêre inkomste is oordragte sonder enige teenprestasie.
Die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans is grootliks weens die skerp daling in die uitvoer van goedere, met méér as die daling in invoer. Die land se handelsoorskot – wat hy meer uit- as invoer – het meer as gehalveer, van R201,7 miljard in die eerste kwartaal tot R91,5 miljard in die tweede kwartaal.
Die tekort op dienste het van R138,2 miljard in die eerste kwartaal tot R195,1 miljard in die tweede kwartaal gestyg.
Primêre betalings het van ’n tekort van R96 miljard tot ’n tekort van R103 miljard gestyg, maar sekondêre betalings het op ’n tekort van R35 miljard gebly.