Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Maak Patel se departement toe, sê DA
Voorbeelde van die motors wat van Julie af in die Chinese motorvervaardiger BAIC se monteeraanleg in Port Elizabeth gemonteer sal word. Die foto is in September verlede jaar geneem toe die fabriek nog nie voltooi was nie. Foto: Daily Sun

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) gaan oor die volgende vyf jaar mik na minstens R110 miljard se nuwe investering in veral swart nywerhede en ondernemings gelei deur vroue en die jeug, het Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, Donderdag gesê.

Hy het in sy begrotingsposdebat in die parlement gesê sy departement het gehelp om die opening van verskeie nuwe fabrieke oor die volgende paar maande moontlik te maak. Dit sluit in die heropening van die Cisco-staalfabriek in Kaapstad later vandeesmaand wat afvalyster tot konstruksiestaal verwerk, die Chinese motormonteerder BAIC se fabriek in Port Elizabeth wat in Julie met die produksie van halfgemonteerde voertuie sal begin, en die Chinese motorvervaardiger BAW se uitgebreide fabriek in Gauteng in September wat minibustaxi’s sal monteer.

Volgens Patel het die NOK se beleggings van R16,9 miljard die afgelope 12 maande tot die skepping of behoud van 29 000 werkgeleenthede gelei.

Die NOK is ’n nywerheidsfinansier wat onder die departement van ekonomiese ontwikkeling se toesig val.

Maar Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor ekonomiese ontwikkeling, het in reaksie op Patel se toespraak gesê dié departement behoort gesluit te word, al is Patel ’n toegewyde minister. Cardo het verwys na pres. Cyril Ramaphosa se belofte vroeër vanjaar dat die getal staatsdepartemente hersien sal word om die doeltreffende toedeling van openbare hulpbronne te verseker. Die departement was een van die nuwe departemente wat deur die Zuma-administrasie geskep is.

Cardo meen die ekonomiese beplanning- en koördineringsfunksies van die departement behoort na die nasionale tesourie oorgedra te word, sy ondersteundieningste vir die presidensiële infrastruktuurkoördineringskommissie behoort aan die presidensie gedelegeer te word, en sy toesig oor die NOK, die kommissie vir internasionale handelsadministrasie en die mededingingsowerhede behoort na die departement van handel en nywerheid terug te keer.

Mkhuleko Hlengwa van die IVP het met Cardo saamgestem en gesê dit was Patel se laaste begrotingspos-debat in dié hoedanigheid.

Sophie Thembekwayo van die EFF het gesê die EFF verwerp die departement se begroting. Sy steun wel die departement se planne om ’n soewereine welvaartfonds te stig, en sy wil hê ’n nasionale staatsbank moet gestig word.

Adv. Anton Alberts van die VF Plus het in sy reaksie gesê die vryemarkstelsel het die beste vermoë om mense uit armoede te lig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.