Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mabuza hou by ANC se plan met Reserwebank

Adjpres. David Mabuza het die ANC se planne herbevestig om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te nasionaliseer en “openbare belang en ontwikkeling” aan die kern van die bank se bestaan te plaas.

David Mabuza, adjunkpresident.

Hy het in ’n skriftelike antwoord op ’n parlementêre vraag van die DA-parlementslid David Maynier gesê die ANC het op sy nasionale konferensie in 2017 besluit die Reserwebank moet genasionaliseer word. Hy het beklemtoon die nasionalisering van sentrale banke word in talle internasionale jurisdiksies gevind.

Die nasionalisering van die Reserwebank beteken dat weggedoen word met die bank se huidige struktuur waar private aandeelhouers aandele in die bank mag besit.

Dit was op dieselfde ANC-konferensie waarop pres. Cyril Ramaphosa tot nuwe leier van die ANC verkies is.

Die status en mandaat van die Reserwebank is een van die moeilikste ekonomiese beleidskwessies vir die ANC, en Ramaphosa moes vanjaar talle vrae oor die bank se onafhanklikheid by die Wêreld- Ekonomiese Forum se jaarberaad in Davos, Switserland, antwoord.

Mabuza het verduidelik die vrae oor die nasionalisering en die onafhanklikheid van die Reserwebank is twee afsonderlike kwessies.

“Die lid verwar onafhanklikheid met private beheer, tensy die implikasie is dat sentrale banke soos dié in Amerika en Japan nie onafhanklik is nie,” het hy geantwoord met verwysing na die Federale Reserweraad in Amerika asook die Japanse sentrale bank, wat albei in staatsbesit is, maar wel onafhanklik optree.

Ramaphosa het vandeesweek in Davos soortgelyk geantwoord by ’n mediakonferensie en beklemtoon dat die bank se onafhanklikheid gerespekteer sal word, al kom dit onder volledige staatsbesit.

Die ANC het aan die begin van verlede jaar ’n mosie in die parlement ingedien om ’n debat oor die nasionalisering van die Reserwebank te hou, maar dit is later teruggetrek sonder verduideliking.

[David Maynier, DA-LP] verwar onafhanklikheid met private beheer, tensy die implikasie is dat sentrale banke soos dié in Amerika en Japan nie onafhanklik is nie.
Adj.pres. David Mabuza

Daarna het die EFF ’n voorgestelde wysigingswetsontwerp oor die Reserwebank ingedien met die doel om die minister van finansies groter mag te gee om die Reserwebank te beïnvloed.

Maynier se vraag was of die regering van plan is om die doelwitte van die bank te wysig en dit te nasionaliseer. Mabuza het verduidelik die inwerkingstelling van die ANC se resolusie van sy 2017-konferensie sal implikasies vir die eienaarskap van die bank hê asook op sy fokus as instrument vir ontwikkeling.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het verlede week die bank se mandaat vurig verdedig en beklemtoon dit is in die Grondwet ingeskryf.

Hy het voorheen al in die parlement gesê dit kan ’n duur oefening vir die regering wees om die bank se private aandeelhouers uit te koop. As hulle die poging teenstaan met hofstappe, kan dit nog duurder word.

Volgens Kganyago is die private aandeelhouers ’n belangrike aspek om deursigtigheid, verantwoordbaarheid en onafhanklikheid by die bank te verseker.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor finansies, het Vrydag Mabuza se uitsprake as nog ’n voorbeeld van die ANC se inkonsekwentheid oor sy beleid oor die bank beskryf.

Sedert die ANC in sy 2019-verkiesingsmanifes gesê het hy wil die Reserwebank se mandaat verander, was daar verskeie teenstrydige uitsprake daaroor deur die ANC, wat geweldige beleidsonsekerheid skep en beleggersvertroue raak, meen Lees.

By Davos probeer Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, internasionale beleggers oortuig dat die ANC nie die bank se mandaat wil verander nie en dat sy onafhanklikheid “heilig” is. Maar tuis weerspreek hul ANC-kamerade, soos Mabuza, Ace Magashule en Enoch Godongwana, dié boodskap, sê Lees.

Hy waarsku die ANC se interne faksiegevegte hou nou ’n bedreiging vir die Reserwebank se onafhanklikheid in. Die verandering van die bank se mandaat sal vernietigende gevolge hê en kan “soos ’n Trojaanse perd wees waarmee die bank gekaap word”. Dit kan tot grootskaalse plundery, groter werkverliese en moontlik hiperinflasie lei.

Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  David Maynier  |  Cyril Ramaphosa  |  Alf Lees  |  David Mabuza  |  Davos  |  Anc-Manifes  |  Reserwebank  |  Anc  |  Nasionalisering  |  Wef
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.