Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Magda Wierzycka waarsku teen IMF-hulp

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia, sê Suid-Afrika moet alles moontlik doen om ’n lening deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) af te weer.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia. Foto: Deon Raath

Sy sê die voorbeeld van Griekeland wys baie duidelik die nadele van so ’n stap. “Dis eenvoudig. Besuiniging wat deur die IMF opgedwing is, het ekonomiese groei beskadig, lone laat daal, werkloosheid laat styg en belastinginkomste verminder, wat dit moeilik maak om skuld terug te betaal en ’n land te bestuur.”

Wierzycka sê ’n jaar gelede, toe sy die eerste keer geskryf het oor die moontlike uitwerking van ’n IMF-hulppakket op Suid-Afrika, is sy beskou as alarmisties omdat dit onwaarskynlik gelyk het.

“Die afgelope paar weke word die IMF gereeld genoem. Ek het my artikel afgestof en publiseer dit nou weer sodat almal die implikasies van ’n IMF-hulppakket kan verstaan.”

Die sakeliggaam Besigheidseenheid Suid-Afrika het Dinsdag gemaan dat die regering sy eie reddingsboei by die IMF sal moet bedel as hy nie die Eskom-krisis beter bestuur nie.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, reken egter die regering kan nog baie stappe doen om ’n IMF-lening af te weer. Bowendien reken hy die regering is polities gesproke redelik allergies vir hulp van die IMF.

LEES OOK: IMF-lening: ‘Nee, SA sal pleisters plak’

Die Griekse skuldkrisis het ontstaan in die nadraai van die finansiële krisis van 2007-’08. Griekeland se begrotingstekort het in 2009 opgeskiet tot 15% van sy bruto binnelandse produk, terwyl die eurogebied 3% as maksimum stel.

Ná vrese dat die land nie sy skuld kan terugbetaal nie, het beleggers geweier om nog staatseffekte te koop. Sonder toegang tot nog skuld, moes Griekeland by die eurogebied aanklop.

In ’n poging om die eurogebied self te stabiliseer, het Duitsland, wie se banke die meeste Griekse staatseffekte besit het, die IMF en die Europese Sentrale Bank ’n hulppakket saamgestel.

Suid-Afrika moet oppas – hier is drake.
Magda Wierzycka van Sygnia

Die voorwaardes vir die lenings – uiteindelik meer as €320 miljard – het ingesluit privatisering van staatsondernemings, die verlaging van staatspensioene en lone, en die verkleining van die staatsdiens.

“Daar was dramatiese tonele soos wat mense betoog het, die regering verander het, banke ’n ruk lank gesluit het, voorwaardes keer op keer heronderhandel is,” skryf Wierzycka.

Verskeie krediteure moes aanvaar dat tot die helfte van die geld wat aan hulle geskuld is, afgeskryf word. Belasting is 12 keer verhoog.

Onder die syfers wat Wierzycka uitlig, is:

  • 5 jaar: Hoe lank Griekeland se resessie vanaf 2010 geduur het. Dit is die langste resessie van enige gevorderde ekonomie sedert die Groot Depressie.
  • -26%: Ekonomiese groei in 2014, die ergste inkrimping in die vyf jaar.
  • 25%: Werkloosheid het van minder as 10% tot meer as 25% gestyg.
  • 44%: Die persentasie Grieke wat minder as die bestaansminimum verdien het.
  • 70%: Die hoogste koers vir persoonlike inkomstebelasting.
  • 23%: Die land se belasting op toegevoegde waarde.

Wierzycka sê die krisis het daartoe gelei dat die Grieke alles moontlik gedoen het om belasting te ontduik. Meer as ’n halfmiljoen geskoolde Grieke (uit ’n bevolking van 10,8 miljoen mense) het die land verlaat en baie firmas het hulle elders gaan vestig.

Hoewel Griekeland in Augustus 2018 aangekondig het die hulpprogram is verby, het dit die ekonomie aan flarde gelaat.

“Griekse banke is swak en so ook die private sektor se balansstaat. Van die valutabeheermaatreëls geld steeds. En hoewel die ekonomie groei, is dit steeds net driekwart van sy grootte voor die krisis.”

Wierzycka sluit af met: “Suid-Afrika moet oppas – hier is drake.”

Laasgenoemde is ’n verwysing na ongekarteerde terreine op Middeleeuse kaarte wat met drake en ander mitologiese monsters versier is.

Meer oor:  Sygnia  |  Imf  |  Eskom  |  Magda Wierzycka  |  Ekonomie  |  Staatsbesteding  |  Staatskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.