Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mahlobo maan oor ruimte en koue oorlog

Moenie die gebruik van die ruimte vir militêre doeleindes deur lande met sinistere motiewe onderskat nie, het David Mahlobo, ANC-parlementslid en voormalige minister van staatsveiligheid, Dinsdag in die parlement gewaarsku.

David Mahlobo, voormalige minister van staatsveiligheid en van energie.

Mahlobo, deesdae lid van die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, het by ’n voorlegging oor Suid-Afrika se rol in die ruimte deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Ruimtesake (Sacsa) gesê die koue oorlog is nie verby nie – dit het net ’n ander vorm aangeneem.

Mahlobo, die laaste minister van energie onder die regering van oudpres. Jacob Zuma, sê hy is uit sekerheidskringe bewus van sekere lande se gebruik van die ruimte vir militêre doelwitte.

Sy opmerkings het ’n vars stortvloed vrae by ander parlementslede ontlok, soos Dean Macpherson van die DA wat by dr. Valanathan Munsami, uitvoerende hoof van Sacsa, wou weet of hy iets weet van Suid-Afrika se samewerking met die Russiese ruimteagentskap om satelliete te ontwikkel – dit is glo sogenaamde geheime projekte met die kodename Fluke en Condor.

Volgens Munsami is Sacsa net gemoeid met ruimtebedrywighede vir vredes- en siviele doeleindes, en sou dit eerder Krygkor wees wat met soiets betrokke sou wees indien wel.

Nomfuneko Majaja, ondervoorsitter van Sacsa, het wel gesê Suid-Afrika is betrokke by die ontwikkeling van mikrosatelliete via die CubeSAT projek. Dit is satelliete so groot soos ’n brood wat vir verskillende doeleindes benut word soos om klimaatsverandering te monitor. Daar is egter tans nog ’n vertraging in die lansering van die nuutste mikrosatelliete. Volgens die nasionale register van ruimte-objekte op Sacsa se webruimte het Suid-Afrika net drie nasionale satelliete in die ruimte – Sunsat wat in 1999 gelanseer is, Sumbandila wat in 2009 gelanseer is, en ZACube-1 wat in 2013 gelanseer is. Hulle wentel meer as 450 km bo die aarde en word gebruik vir aarde-observasie en ruimtenavorsing.

Sacsa is in Oktober 2016 gestig onder toesig van die departement van handel en nywerheid en het in Januarie 2017 met hul amptelike werk begin.

Majaja sê Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van verskeie internasionale ruimteverdrae oor die vreedsame benutting van die ruimte. Al minder lande is egter ondertekenaars van sekere van die verdrae. Daar is byvoorbeeld ’n maanverdrag wat onder meer bepaal ruimteliggame soos die maan of Mars is vir internasionale gebruik en lande word nie toegelaat om dele van die ruimte vir hul eie nasies te annekseer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.