Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Makwakwa-berigte ‘onbillik’, sê Moyane

Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het eindelik in ’n verklaring gereageer op ’n aanklag dat hy sy omstrede adjunk, Jonas Makwakwa, beskerm.

Die verklaring kom op dieselfde dag dat Moyane in die parlement moet verslag doen oor die SAID-werksaamhede. LP’s in die staande komitee oor finansies sal hom waarskynlik ook oor Makwakwa ondervra.

Dit kom ná herhaaldelike pleidooie dat hy hom uitlaat oor die Hogan Lovells-ondersoek na beweerde wangedrag en die tugverhoor daarna waarin Makwakwa onskuldig bevind is op alle aanklagte teen hom.

Moyane beskuldig die media onder meer van feitelik verkeerde en onbillike beriggewing oor die aangeleentheid.

Moyane word wyd gekritiseer dat hy nie teen Makwakwa opgetree het vir tientalle transaksies wat vir die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) as verdag geïdentifiseer is nie. Nagenoeg R1,6 miljoen is oor ’n tydperk inbetaal in Makwakwa se bankrekening en in dié van sy vriendin, Kelly-Ann Elskie, ook ’n SAID-werknemer.

Die SAID sê in ’n verklaring die media verstaan duidelik nie die verskil tussen ’n ondersoek na wangedrag deur ’n werkgewer en ’n strafregtelike ondersoek nie. “Wetlik is tugprosedures en strafregtelike prosedures afsonderlik en word dit deur verskillende wetgewing beheer.

As ’n werkgewer strek mnr. Moyane se jurisdiksie net so ver as om te bepaal of daar enige wangedrag was met betrekking tot die werkverhouding.
SAID-verklaring

“As ’n werkgewer strek mnr. Moyane se jurisdiksie net so ver as om te bepaal of daar enige wangedrag was met betrekking tot die werkverhouding. Die verantwoordelikheid om strafregtelike klagte in ’n hof na te streef, lê by die nasionale vervolgingsgesag gegrond op ondersoeke deur die polisie of direktoraat vir prioriteitsmisdade.”

Die direktoraat ondersoek sedert September 2016 die saak, sê die SAID. Geen besluit is nog geneem of Makwakwa vervolg gaan word nie.

Die SAID het die reg om nuwe tugstappe te begin indien die uitkoms van die strafregtelike proses dit dikteer, luidens die verklaring.

Die SAID-verklaring stippel die verloop van die gebeure om Makwakwa as volg uit:

  • Moyane het die FIC-verslag in Mei 2016 ontvang.
  • Makwakwa is eers op 15 September 2016 geskors.
  • Hogan Lovells is aangestel om ’n ondersoek na moontlike wangedrag te lei.
  • Terwyl hy geskors was, het Makwakwa op 13 Januarie 2017 na bewering die voorwaardes van sy skorsing verbreek deur ’n SAID-werknemer oor ’n aktiewe belastingsaak te bel. ’n tugklagte is op 20 Januarie teen hom ingedien, slegs oor dié oproep.
  • Hogan Lovells het sy verslag in Junie 2017 voltooi en volgens die SAID het dit bevind Makwakwa het geen wangedrag gepleeg met betrekking tot die transaksies in die FIC-verslag nie. Daar is wel aanbeveel dat hy aangekla moet word omdat hy nie belangebotsings verklaar het nie. Dié klagte is toe by die tugklagte oor die Januarie-oproep gevoeg.
  • Adv. Terry Motau, ’n senior advokaat van die Johannesburgse balie, het die tugverhoor in Augustus gelei en die uitslag is op 13 Oktober ontvang. Makwakwa is onskuldig bevind op al die aanklagte. Moyane sê hy is geadviseer dat daar geen regsgronde is om om nié Makwakwa se skorsing op te hef nie. “Enige ander optrede sou neergekom het op ’n skending van Makwakwa se wetlike regte as ’n werknemer.”
  • Makwakwa het op 1 November teruggekeer werk toe.

Oor die uitreiking van die verslag

“In teenstelling met mediaberigte wat die bewering versprei dat die prosesse aangetas was en dat Moyane ’n hand daarin gehad het om die prosesse aan te tas, toon bogenoemde ’n kennelik billike, onbevooroordeelde en onafhanklike proses. “

Oor die pleidooie dat die Hogan Lovells-verslag en die besonderhede van die tugverhoor bekend gemaak word, sê die SAID hy het geen beswaar daarteen nie, maar dit kan onwettig wees.

Moyane het wel aan Yunus Carrim, voorsitter van die parlementêre staande komitee oor finansies, geskryf en voorgestel dat ’n span wat bestaan uit regsverteenwoordigers van die SAID, parlement, tesourie en FIC “dringend” vergader en ’n senior advokaat se regsmening inwin oor of die verslag uitgereik mag word.

Die verklaring sluit af met ’n bewering wat al vantevore gemaak is: “Die SAID vind dit betreurenswaardig dat sommige mediaberigte en -ontledings voortgaan om die opvatting te bevorder dat ’n uitnemende inkomste-invorderingsagentskap uitmekaar val.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.