Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verwoerd en Chavez bygesleep in bekgeveg oor Malikane
Prof. Chris Malikane

Mayihlome Tshwete, woordvoerder van Malusi Gigaba, minister van finansies, het David Maynier, DA-woordvoerder oor finansies, op Twitter daarvan beskuldig dat hy “in die Verwoerdskool van politiek” opgelei is.

Maynier het vroeër kommer uitgespreek dat prof. Chris Malikane as raadgewer van Gigaba aangestel is as stormram teen die vesting van meer ortodokse ekonome in die nasionale tesourie.

Die aanstelling van Malikane “wat oënskynlik in die Hugo Chavezskool van ekonomie opgelei is, is heeltemal verstaanbaar en ’n logiese gevolg van die minister se politieke agenda van ‘radikale ekonomiese transformasie’ en om ortodokse ekonome in die tesourie aan te vat”, sê Maynier in ’n verklaring.

Tshwete het later Sondag sy Verwoerdiaanse twiet oor Maynier se politieke skoling verwyder, berig Fin24.

Die bekgeveg volg op die publikasie van ’n omstrede meningstuk getiteld “Ons kans om die revolusie te voltooi” deur Malikane, ’n professor in die ekonomie aan die Universiteit van die Witwatersrand, Sondag in Sunday Times.

Malikane maak daarin ’n saak uit vir die nasionalisering van banke, myne en versekeringsmaatskappye. Hy stel ook voor dat ’n staatsbank wat alle finansiële instellings in staatsbesit kombineer, begin word, die nasionalisering van die Reserwebank (met sy private aandeelhouers) en maak voorbrand vir die onteiening van grond sonder vergoeding aan die eienaars.

Malikane, wat al as raadgewer van die vakverbond Cosatu opgetree het, is volgens Sunday Times, wat Tshwete aanhaal, deur Gigaba as raadgewer aangestel.

Die feit is dat prof. Malikane aangestel is juis omdat hy ’n onortodokse ekonoom is en gebruik sal word as ministeriële stormram in die komende veldslae met ortodokse ekonome in die tesourie.
David Maynier

Gigaba, wat Pravin Gordhan op 31 Maart vervang het, het aanvanklik die perd van radikale transformasie opgesaal, maar verwys sedertdien al hoe minder daarna. Kort ná sy aanstelling as minister van finansies het die graderingsagentskappe Standard & Poor’s en Fitch Suid-Afrika se kredietstatus tot rommelstatus afgegradeer.

Hy het verlede Donderdag volgens Fin24 onderneem om alles moontlik te doen om verdere afgraderings deur ook Moody’s te voorkom en aangedui dat hy by pres. Jacob Zuma aanbeveel het dat daar by vorige begrotingsplanne gehou moet word en hom ten gunste van kontinuïteit in die tesourie uitgespreek.

Gigaba en sy adjunk, Sfiso Buthelezi, het ook vroeër die uitvoerende hoofde van Standard Bank, Barclays Africa, Nedbank en FirstRand ontmoet en dié verseker dat daar geen beleidsverandering sal wees nie, aldus die Bankvereniging van Suid-Afrika.

Fin24 het Tshwete vir kommentaar gevra oor Malikane se rol by die tesourie, maar hy het nog nie op telefoon- en teksboodskappe gereageer nie.

“Die feit is dat prof. Malikane aangestel is juis omdat hy ’n onortodokse ekonoom is en gebruik sal word as ministeriële stormram in die komende veldslae met ortodokse ekonome in die tesourie,” sê Maynier.

Sy aanstelling sal die graderingsagentskappe se persepsies versterk dat daar groot ekonomiese beleidsverskuiwings gaan wees, reken die DA.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.