Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mark ‘het SA reeds na rommelstatus afgegradeer’

Moody’s Investors Service het dit nog nie gesê nie, maar beleggers dink dit reeds: Suid-Afrika se krediet het rommelstatus bereik.

Moody’s Investors Service is die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat Suid-Afrika se staatskuld nog as beleggingsgraad het, maar beleggers verneem dat hy in November van plan sal verander. Foto: Getty Images

Nadat Moody’s einde Julie gewaarsku het dat die regering se bykomende reddingsboei van R59 miljard aan Eskom “kredietnegatief” is, prys die mark dit nou in dat Moody’s Suid-Afrika se staatskuld tot onder beleggingsgraad sal afgradeer.

Hy hersien die land se kredietgradering in November.

Moody’s is die enigste van die drie belangrikste kredietgraderingsagentskappe wat Suid-Afrika se staatskuld nog op beleggingsgraad waardeer. Indien hy die staatskuld tot onder beleggingsgraad – die sogenaamde rommelstatus – afgradeer, sal daar ’n groot uitvloei van beleggingsgeld uit die land wees omdat groot risiko-averse buitelandse fondse, soos pensioenfondse, volgens hul beleggingsreëls nie in ’n land mag belê wat deur al drie groot kredietgradeerders as niebeleggingsgraad beskou word nie.

Die twee ander groot kredietgraderingsagentskappe – Fitch Ratings en Standard & Poor’s – het Suid-Afrika al twee jaar gelede na rommelstatus afgegradeer, terwyl selfs Moody’s se vooruitsig vir Suid-Afrika se staatskuld nog nie eens amptelik negatief is nie.

Moody’s gradeer Suid-Afrika se staatskuld tans op Baa3 – die laagste beleggingsgraad.

Volgens Win Thin, hoof van valutastrategie by Brown Brothers Harriman & Co., is Moody’s “te vriendelik” met Suid-Afrika. Hy verwag dat Moody’s Suid-Afrika se staatskuld aan die einde van die jaar met drie vlakke tot diep in die rommel-kategorie sal verlaag.

Maar beleggers tree op asof al drie kredietgraderingsagentskappe reeds Suid-Afrikaanse staatseffekte tot rommelstatus afgegradeer het.

Dieselfde opbrengs en rentekoerse word nou vereis as wat nodig sou wees indien die land reeds volslae rommelstatus bereik het ten einde spekulatiewe beleggings te lok wanneer groter fondse nie meer mag belê nie.

Beleggers vereis nou selfs ’n groter premie op Suid-Afrikaanse staatseffekte as op dié van Brasilië, wat wel op algehele rommelstatus gegradeer word.

Hierdie risiko-premie styg sedert die middel van Julie skerp, presies toe die regering bykomende finansiële ondersteuning vir Eskom aangekondig het.

Die premie op die langtermynopbrengs op Suid-Afrikaanse staatseffekte is op die hoogste sedert Februarie in ’n tyd dat ander ontluikende markte s’n daal. Dit dui daarop dat beleggers ’n fiskale agteruitgang en ’n waarskynlike afgradering verwag. Hoë meer die risiko op lang termyn, hoe groter moet die opbrengs wees om daarvoor op te maak.

Versekering teen wanbetaling op Suid-Afrikaanse staatseffekte is baie hoër as dié van Rusland, wat dieselfde Baa3-gradering by Moody’s het. Dit is ook die geval teenoor Brasilië wat twee vlakke laer gradeer word, op Ba2.

Die tesourie het einde Julie aangekondig dat hy van Augustus af R1,5 miljard meer effekte per week gaan uitreik. – Bloomberg, verwerk

kredietgradering

Meer oor:  Moody's  |  Eskom  |  Kredietafgradering  |  Staatseffekte  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Rommelstatus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.