Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Markte ‘kom op vir asem ná die skok’
Die markte het dit alom verwag dat die Britte teen ’n Brexit sou stem, maar was Vrydag geskok toe dit nie gebeur nie.

Markte het gister die ritteltits van Brittanje se besluit om die Europese Unie (EU) te verlaat effens afgeskud, maar onsekerheid en wisselvalligheid is steeds aan die orde van die dag soos die gevolge van die besluit neerslag vind.

Verwagtinge dat die rentekoerse in Amerika nou ook eerder nóg later as voorheen verwag verhoog gaan word, het ontluikende geldeenhede, insluitende die rand, laat versterk en die markte laat kop optel nadat dit skerp verswak het in die nadraai van Brexit.

Die ekonoom dr. Cees Bruggemans van Bruggemans & Vennote sê die “eerste skermutselinge” ná Brexit is agter ons.

“Die markte was uit hul Brexit-selfvoldaanheid geskok,” sê Bruggemans. Hulle het meer riskante bates, soos dié van ontluikende lande, verkoop en gevlug na bates wat as toevlugsoorde beskou word, soos goud, maar markte kom “nou op vir vars lug”, sê hy.

Die markte het dit alom verwag dat die Britte teen ’n Brexit sou stem, maar was Vrydag geskok toe dit nie gebeur nie.

“Internasionale markte het gestabiliseer en die meeste riskante bates spring terug,” sê John Cairns, ontleder by Rand Merchant Bank. “Sentiment oor Brexit bly die grootste faktor, maar die aandag keer nou terug na die data.”

Die rand het Vrydag getuimel tot R15,68 teenoor die dollar ná die nuus oor Brittanje se besluit, maar gister weer versterk tot onder die vlak van R15. Teen laatmiddag het hy 2,34% sterker op R14,83 teenoor die dollar verhandel.

Die JSE het ook vir die tweede opeenvolgende dag kop opgetel.

Markte, soos mense, hou nie van onsekerheid nie.

John Taylor, bemarkingsaktuaris van Liberty Corporate, sê die laaste paar dae was van die mees wisselvallige in die internasionale ekonomie sedert die internasionale finan­siële krisis in 2008. “Markte, soos mense, hou nie van onsekerheid nie,” sê Taylor.

Bruggemans sê dit is slegs ses dae ná Brexit en daar moet “duidelik nog baie gebeur voordat die volle reperkussies van hierdie ontwikkeling werklik geabsorbeer en verteer is”.

Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur, sê verwagtinge dat Amerikaanse rentekoerse nie in die onmiddellike toekoms verhoog gaan word nie, het die bullopie van die dollar gestuit en aandelemarkte ondersteun.

Hy sê egter voortslepende onsekerheid, grootliks weens Brexit, “moet nie onderskat word nie” en dat baie wisselvalligheid nog verwag kan word.

Credit Suisse verwag ook dat die Fed sy volgende rentekoersverhoging gaan uitstel “tot ten minste Desember 2016”, selfs al is die ekonomiese impak van die Brexit-verwante onsekerheid op die Amerikaanse ekonomie “gedemp”. Sien berig hiernaas.

Brexit gaan Suid-Afrika se ekonomie tref

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, sê Brittanje se besluit om die EU te verlaat gaan Suid-Afrika se ekonomie tref.

“Ons sal nie in hierdie stadium ’n resessie binnegaan nie, maar daar is geen twyfel dat dit die Suid-Afrikaanse ekonomie se reeds stadige groei verder gaan laat verlangsaam nie,” het Kganyago aan Bloomberg TV in Portugal gesê.

“Dit [Brexit] het sentiment geraak en beleggers het gesoek na veilige bates. Ons word nie as een van die veilige bates beskou nie,” sê Kganyago.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het gekrimp in die eerste kwartaal van die jaar en plaas die ekonomie op koers om die eerste keer in sewe jaar ’n resessie te ervaar.

– Reuters


Meer oor:  Fed  |  Lesetja Kganyago  |  Janet Yellen  |  Jse  |  Brexit  |  Ekonomie  |  Rand  |  Markte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.