Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Markverslag: Vertroue sterk ondanks Brexit-skok
Elektroniese skerms vertoon Vrydag se verlies vir die Dow Jones-nywerheidsindeks bokant die vloer van die New Yorkse aandelebeurs. Die nuus dat Brittanje besluit het om die EU te verlaat (Brexit) het feitlik alle finansiële markte plaaslik en in die buiteland onder druk geplaas. Foto: Reuters/Luca Jackson

Suid-Afrikaanse aandelemarkte het verlede week verder versleg. Die skokkende nuus dat Brittanje besluit het om die Europese Unie (EU) te verlaat (Brexit) het feitlik alle finansiële markte plaaslik en in die buiteland onder druk geplaas.

Slegs die goudindeks, in ag genome die sterk styging van meer as 11% Vrydag, kon die week hoër met 6,6% afsluit.

Buitelandse aandelemarkte het eweneens sleg teruggesak, veral verlede Vrydag, en het meestal vir die week sterk in die rooi gesluit. Ondanks ’n verswakking van meer as 2,2% van die FTSE 100 in Londen verlede Vrydag, het die mark steeds die week met amper 2% positief afgesluit.

Ondanks die negatiewe sentiment, het die kapitaalmark en die rand hul man deeglik gestaan. Die R186-staatseffek het Vrydag op 9,07% gesluit. Dit is dieselfde as die vorige twee weke se sluitingsvlakke. In ’n stadium Vrydagoggend het dit bo 9,30% verhandel.

Die rand het veral teenoor die dollar verlede Vrydagmiddag sterk herstel. In ’n stadium, ná die aankondiging van die Brexit, het die rand teen R15,68/$ verhandel. Die geldeenheid het uiteindelik die dag op R14.90/$ afgesluit. Wat verbasend is, is dat dit die week met 2,4% verstewig het.

Hierdie twee leieraanwysers in die Suid-Afrikaanse ekonomie toon duidelik dat die markte aanvanklik oorreageer het op die Brexit-skok. Verder dui dit ook daarop dat daar steeds vertroue van buitelandse beleggers in die Suid-Afrikaanse ekonomie is. Daar moet egter gewaarsku word dat die mediumtermyneffek kan verander indien Brexit ’n wesenlike invloed gaan hê op die wêreldwye ekonomie se groeivooruitsigte. Die groot gevaar tans bestaan dat ander lidlande van die EU die voorbeeld van Brittanje kan volg. Die Europese sentrale bank het Vrydag aangekondig dat hy genoegsame likiditeit aan banke beskikbaar stel om die volatiliteit in finansiële markte te kan hanteer.

Indien Europa, en ook so Brittanje, in ’n resessie inbeweeg, gaan dit sterk negatiewe gevolge inhou vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die reeds wankelrige ekonomiese groei kan ook verswak tot ’n hernude resessie met ’n veel swakker rand en hoër inflasiekoers – die sogenaamde situasie van stagflasie.

In so ’n scenario sal rentekoerse verder moet styg. Dit kan dan lei tot ’n moontlike afgradering van Suid-Afrika tot rommelstatus einde vanjaar. Dit word nou uiters noodsaaklik dat nie net die Suid-Afrikaanse owerheid alleen nie, maar ook die private sektor en die vakbondbeweging daadwerklike optredes instel wat die ekonomie ’n hupstoot sal gee. Die optredes (dit is nou te laat vir net nuwe planne) sal geloofwaardig moet wees en sal gemonitor moet word as bewys dat die ekonomie ’n nuwe groeifase gaan betree.

Die komende week

Die komende week gaan alle aandag gevestig word op die vergadering van die EU se 28 leiers (ingesluit Brittanje) in Brussel en die effek van die voorstelle van die 27 senior handelonderhandelaars wat Sondag vergader het.

Binnelands publiseer die Suid-Afrikaanse Reserwebank Donderdag Suid-Afrika se jongste geldvoorraad- en kredietsyfers van die banksektor. Die departement van doeane en aksyns kondig ook Mei se buitelandse handelsyfers aan. Vrydag word die tweede kwartaal se vebruikersvertroue-indeks deur die Buro vir Ekonomiese Navorsing aangekondig, Suid-Afrika se nuwe motorvoertuigverkope gedurende Junie word ook uitgereik.

Op die internasionale front lewer Mario Draghi, president van die Europese sentrale bank, Maandag sy post-Brexit-toespraak. Dinsdag stel die VSA sy belangrike vebruikersvertroue-indeks vir Junie bekend.

Komende Woensdag kondig die EU sy jongste sakevertroue-indeks aan. Janet Yellen, voorsitter van die Federale Reserweraad van die VSA, lewer haar post-Brexit-toespraak en die VSA reik ook sy huisverkopesyfers gedurende Mei uit.

Donderdag publiseer Duitsland sy kleinhandelsyfers vir Mei, asook sy jongste werkloosheidsyfers. Brittanje kondig sy ekonomiese groeisyfer gedurende die eerste kwartaal aan. Die VSA maak weer sy weeklikse werkloosheidseise bekend.

Vrydag kondig Japan sy jongste inflasiesyfer aan. China, Frankryk, Duitsland, die Eurosone en die VSA kondig hul aankope bestuurdersindekse (PMI’s) vir vervaardiging gedurende Junie aan.

Brandstofprys

Die gemiddelde onderverhaling in die brandstofpryse vir die tydperk 27/05/2016 – 23/06/2016 was:

Petrol 95: 15c per liter;

Petrol 93: 18c per liter; en

Diesel: 49c per liter

Onderverhaling beteken dat die brandstofprys gaan styg gedurende die eerste week van Julie 2016. Dié toename word eerskomende Vrydag aangekondig.

* Dr. Chris Harmse is hoofekonoom van Rebalance Fund Managers.

Meer oor:  Chris Harmse  |  Wêreldekonomie  |  Markte  |  Markverslag  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.