Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Markvertroue kan herstel, meen Burger King-base
Burger King se nuwe, gesonder skyfie. Foto: Burger King Worldwide Inc.

Grand Parade Investments (GPI) glo markvertroue in die maatskappy sal herstel word nadat twee nuwe direkteure in die direksie ingestem is.

Dit kom nadat Mark Bowman en Ronel van Dijk Woensdagaand op ’n spesiale aandeelhouersvergadering tot die direksie van die bemagtigingsgroep verkies is.

GPI hou die Suid-Afrikaanse meesterlisensie vir die kitskosreus Burger King, asook vir Dunkin’ Donuts en die roomyswinkel Baskin Robbins.

Die direksie verwelkom die twee nuwe direkteure, het Mohsin Tajbhai, bedryfshoof van GPI, Donderdag in ’n verklaring gesê.

Hul aanstelling is volgens hom ’n olyftak van vrede wat uitgereik is na die groep besorgde minderheidsaandeelhouers wat 12% van GPI se aandeelkapitaal verteenwoordig, en wat eintlik vier nie-uitvoerende direkteure in die direksie vervang wou hê.

Alex Abercrombie, prof. Walter Geach en dr. Norman Maharaj het egter in die stemming Woensdagaand hul posisies behou.

GPI glo die uitslag van die vergadering is tot voordeel van alle GPI-aandeelhouers.

Bowman is ’n vorige topbestuurder by SABMiller en Van Dijk was voorheen finansiële direkteur by die restaurantgroep Spur Corporation.

Tajbhai meen die nuwe direkteure sal waarde toevoeg en veral dat Burger King se uitbreiding die onderneming vorentoe sal neem. “Ons kon die nodige vaardighede en kennis van Abercrombie en Maharaj behou.”

Daar is nog 170 persele vir nuwe Burger King-takke in Suid-Afrika wat geïdentifiseer is.

Volgens Tajbhai was Bowman en Van Dijk aanvanklik geoormerk om as nuwe direkteure aangestel te word nadat GPI probeer het om die dispuut met die besorgde aandeelhouersgroep “vreedsaam te besleg”.

Volgens Tajbhai wou die betrokke fondsbestuurders egter vier direkteure vervang, ’n stap wat die direksie as ’n vyandige oornamepoging geïnterpreteer het.

GPI se aandeelprys het in 2014 ’n hoogtepunt van R7,50 bereik, aangedryf deur die opgewondenheid wat Burger King geskep het, maar dit het sedertdien tot die huidige sowat R3 teruggesak.

Tajbhai sê GPI wil nou kapitaal prioritiseer na hoëwaarde-bates soos Burger King en die Grand Foods-vleisaanleg, en kapitaaltoewysing verminder aan swak presterende bates soos Dunkin’ Donuts en Baskin Robbins.

Hy meen as die mark eers die werklike waarde van Burger King besef, sal die aandeelprys daarvolgens herstel.

Daar is nog 170 persele vir nuwe Burger King-takke in Suid-Afrika wat geïdentifiseer is. As dit ontsluit kan word sonder om bestaande takke te kannibaliseer is Burger King geposisioneer om Suid-Afrika se mees geliefde en suksesvolste kitskos-handelsmerk te word, meen Tajbhai.

GPI se aandeelprys was Donderdagoggend al byna 1% hoër op R3,08.

Meer oor:  Burger King  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.