Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mashaba: ‘Ons gaan Jhb terugvat’

Een persoon wat in die Johannesburgse middestad beroof word, is een persoon te veel.

Dit was Dinsdag die boodskap van Herman Mashaba, burgemeester van die Johannesburg-metro, aan honderde werknemers van FNB nadat daar die vorige dag grootskaalse onrus en betogings in die middestad was.

“Wat gister gebeur het, is heeltemal onaanvaarbaar,” sê hy.

Die burgemeester het die amptelike bekendstelling van FNB se nuwe Bank City-distrik in die Johannesburgse middestad bygewoon.

Herman Mashaba
Herman Mashaba Foto: Elvira Wood

“Jul veiligheid is baie belangrik vir ons. Dit is hoekom ek besonder dankbaar is dat die private sektor help ingryp om die stad op te ruim en veiliger te maak.”

Mashaba sê die metro is deeglik daarvan bewus dat die middestad, in wat hy as ’n “agterbuurt” beskryf het, verval het.

Hy sê dit is om dié rede dat 1 500 nuwe polisiebeamptes wat hul opleiding teen einde Oktober sal voltooi, in die middestad ontplooi gaan word.

Hy sê verder die Johannesburg-metro het reeds tenders toegeken om 84 geboue in die middestad op te knap.

“Die Johannesburgse middestad gaan vir die volgende paar jaar ’n konstruksieperseel wees.”

Mashaba sê dit is juis om Johannesburg ’n aantreklike stad vir almal te maak. Volgens hom is dit maatskappye soos FNB wat geluk gewens moet word vir hul bydrae om die stad te vernuwe.

FNB het die hele gebied om sy hoofkantoor in ’n distrik omskep waar nie net sy werknemers nie, maar ook die algemene publiek maklik te voet kan beweeg en by verskeie restaurante en koffiewinkels kan vertoef.

Voordat hy Mashaba aan die woord gestel het, het Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB, gesê hulle was Maandag bekommerd aangesien die betogers reg deur die Bank City-distrik beweeg het.

Hy sê selfs optogte soos dié skrik egter nie die bank af om weer die gebied om die etlike geboue wat hy in die middestad besit te beveilig nie.

“Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap.

“Gister se opstande wys dat ons nog baie uitdagings in die land het om op te los.

“Ons bydrae om die stad te help opruim, is een stap in daardie rigting,” sê hy.

Meer oor:  Fnb  |  Herman Mashaba  |  Jacques Celliers  |  Johannesburg  |  Betogings  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.