Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mboweni: ‘Besnoei salarisse, nie ander besteding’

Tito Mboweni, minister van finansies, het opdrag aan staatsdepartemente gegee om die 5% wat hulle vir die komende begroting moet besnoei, eerder weg te vat by werkersvergoeding as by kapitaalbesteding.

Tito Mboweni, minister van finansies, in Februarie by die parlement kort voor sy begrotingsrrede.

Dít stuur af op ’n skermutseling tussen die regering en vakbonde, maar ontleders is skepties of die regering regtig Mboweni se riglyne gaan volg.

Die nasionale tesourie het in sy tegniese riglyne aan departemente gevra vir insette oor hoe hulle vir die volgende drie jaar onderskeidelik 5%, 6% en 7% van hul begrotings kan besnoei.

Volgens die riglyndokument wil die 2020-begroting die samestelling van besteding verander om kapitaalbesteding en dienslewering in stand te hou.

Die portefeuljekomitee oor die polisie het egter die afgelope week al gehoor so ’n besnoeiing aan die polisiebegroting sal 23 000 poste in gedrang bring – iets wat die DA as “skokkend” en “gewetenloos” beskryf het.

Die regering het egter reeds verlede jaar gewaarsku dat die multijaar-inflasie-plus-loonooreenkoms ’n tekort van R30 miljard veroorsaak op mediumtermyn wat êrens anders weggevat sal moet word.

Dr. Christie Viljoen, ’n ekonoom van PwC, sê dis hoog tyd dat die tesourie sy voet neersit oor die salarisrekening, wat nou al meer as 35% van die staat se besteding uitmaak.

Viljoen sê die soort besnoeiing wat van departemente verwag word, behels óf minder personeel óf laer salarisse. Vakbonde sal nie gelukkig wees daarmee nie.

Daar is ook kommer dat salarisse nie besnoei word nie, maar besteding aan infrastruktuur of tegnologiese vooruitgang. Dit is dalk ’n antwoord op kort termyn, maar baie nadelig vir langtermynvoorspoed in die land.

Viljoen meen Mboweni is die regte man om staatsdepartemente in die bek te ruk. Departemente het ’n keuse om te wys hoe hulle gaan besnoei, of bloot minder geld van die tesourie te kry waarmee hulle dan moet werk.

Staatsamptenare se salarisse het in die tien jaar tot 2017-’18 met gemiddeld 11,2% per jaar gegroei.

Die regering moet nou die ooreenkoms eerbiedig om aanpassings van meer as die inflasiekoers aan salarisse te maak, die “progressie”-verhogings van 1,5% tot 2% aan die meeste staatsamptenare toe te ken én hul ander voordele soos mediesefondsbydraes met ver bo inflasie te verhoog.

Viljoen sê hy is nie verbaas oor die tesourie se opdrag om in 2020 reeds die begroting te besnoei nie.

“Dit is ’n goeie teken, want met in­flasie op 4,5% beteken dit daar word reëel verminder. Mboweni doen dit vir die regte redes: om besteding in te kort en staatskuld in bedwang te kry.”

Ek is egter nie seker dat die boodskap oral aanvaar word nie. Die tesourie sal moet wys hy is nou doeltreffender as in die verlede om fiskale dissipline toe te pas.
Prof. Raymond Parsons van NWU

Peter Attard Montalto, ’n ontleder van Intellidex, sê die tesourie gaan “aggressief druk uitoefen vir groter besnoeiings”, maar hy hou nie asem op vir baie vordering nie.

Volgens hom sal die besparings uiteindelik minimaal – ’n maksimum van R10 miljard – wees en eerder by infrastruktuurbesteding sonder enige besnoeiing aan staatsdienssalarisse.

Vroeë aftrede

In die begrotingsdokumente in Februarie sê die tesourie sowat R11 miljard kan in 2020-’21 op die salarisrekening bespaar word weens die natuurlike afname in personeelgetalle wanneer mense bedank of aftree. In 2021-’22 kan dit R10,7 miljard se besparing meebring.

Die regering hoop ook werkers ouer as 55 sal vroeë aftrede oorweeg. In Desember 2018 was daar 126 710 staatsamptenare tussen 55 en 59 jaar oud. As 30 000 van dié mense vroeg aftree, kan R20,3 miljard oor die driejaartydperk tot 2022 gespaar word.

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool sê dit gaan nie net oor behoorlike fiskale bestuur nie, maar ook oor die politieke wil wat ontbreek.

Die regering het moontlik net een kans om in Oktober met die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) vir Moody’s gerus te stel dat die ekonomie reggeruk kan word.

Parsons sê dit is onduidelik of die tesourie algehele besnoeiings in reële terme (aangepas vir inflasie) teweeg sal kan bring, of tot watter mate die fiskale riglyne geïmplementeer sal word.

Verskeie ministers van finansies het al belowe hoe staatsbesteding en veral die salarisrekening in bedwang gebring gaan word, net om later woorde te sluk.

“Die MTBR en die mediumtermyn-bestedingsraamwerk tot 2023 sal wys of die ANC-regering die moeilike besluite geneem het wat nodig is om die land se finansies te stabiliseer.

“Staatsdepartemente moet nou verstaan dat die staat nie geld kan bestee wat hy nie het nie. Ek is egter nie seker dat die boodskap oral aanvaar word nie.

“Die tesourie sal moet wys hy is nou doeltreffender as in die verlede om fiskale dissipline toe te pas en daarvoor is pres. Cyril Ramaphosa se steun nodig.”

Die tesourie se tegniese riglyne probeer die moontlike negatiewe uitwerking van besnoeiings teenwerk deur van departemente te vereis om personeeloudits te doen en te verduidelik hoe hul begrotingsveranderinge dienslewering gaan raak.

“Besteding aan vergoeding het die laaste paar jaar aansienlik gegroei. Dié tendens moet ongedaan gemaak word sodat dié besteding nie geld wegneem van kritieke kwessies nie.

“Departemente moet nie in hul voorstelle geld wegneem van infrastruktuurprojekte wat aan die gang is nie,” sê die tesourie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.