Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mboweni reageer: Afgraderings is ‘pynlik’

Tito Mboweni, minister van finansies, sê die jongste afgraderings van staatskuld is “pynlik”.

Dra jou masker... Tito Mboweni, minister van finansies, het Saterdagoggend gesê dis uiters belangrik vir die ekonomie dat Suid-Afrika ’n tweede vlaag Covid-19-infeksies voorkom. Foto: Jaco Marais

Hy sê ook dit kan die negatiewe impak van die Covid-19-verwante inperkingsmaatreëls – soos afleggings en dalings in mense se besteebare inkomste – vererger.

Die tesourie het Saterdag omstreeks 11:40 eindelik gereageer nadat ’n ongewone stilte geheers het ná Moody’s Investors Service en Fitch Ratings se afgraderings Vrydagnag. Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) het sy graderings onveranderd gelaat.

Die verklaring is egter stil oor die aspek wat kredietgradeerders die meeste gekritiseer het - die regering se hoop dat hy staatskuld in bedwang sal kan bring deur staatsamptenare te oorreed om vanjaar en nog drie jaar daarna verhogings prys te gee.

LEES OOK: Afgradering is ‘mosie van wantroue’ in Cyril, Tito

Mboweni sê die afgradering het onmiddellike implikasies vir die koste van staatskuld en vir die land se begroting. “Daar is dus ’n dringende behoefte dat die regering en sy maatskaplike vennote broodnodige strukturele hervorming in werking stel om verdere skade aan ons soewereine gradering te voorkom.”

Staatskuld beloop nou bykans R4 000 miljard; die staat bestee nagenoeg R226 miljard per jaar aan rente.

“As die koste om geld te leen vir die regering toeneem, beteken dit die regering sal óf moet besnoei op maatskaplike besteding óf die min mense met werk meer moet belas, wat sleg is vir die land.”

Mboweni het net ná sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober gesê hy verwag nie verdere afgraderings nie. “Ons is al genoeg gestraf.”

Hy het egter ook gesê mense moet hom nie “op die brandstapel plaas” indien dit gebeur nie. “Ons kan nie die syfers vir hulle wegsteek nie. Die syfers is wat dit is.”

Saterdagoggend het Mboweni beklemtoon die regering se prioriteite bly ekonomiese herstel en fiskale konsolidasie, soos uiteengesit in pres. Cyril Ramaphosa se herbopbou-en-herstelplan en die MTBR.

Mboweni het ’n pleidooi aan almal gedoen om te voldoen aan alle gesondheids- en veiligheidsprotokolle ten einde ’n tweede vlaag Covid-19-infeksies te vermy omdat dit die ekonomie en indiensneming verder kan knou.

Implikasies van afgradering

Die tesourie sê verdere afgraderings kan die uitwerking van inperkingsregulasies verleng, insluitend meer afleggings en dalings in mense se inkomste.

Dit kan ook die waarde van bates – insluitend die waarde van aftreespaargeld en eiendom – laat daal.

Rentekoerse kan weer styg, ook vir maatskappye, en dis ’n koste wat hulle aan verbruikers sal moet deurgee óf hulle sal meer werkers moet aflê.

“Die nuutste graderings beteken dat Suid-Afrika groei-bevorderende strategieë moet versnel ten einde die opstapeling van skuld reg te stel en die koste te verminder wat met negatiewe sentiment gepaardgaan.”

Al drie die kredietgradeerders het kommer uitgespreek oor die kern van Mboweni se plan om staatskuld in toom te hou, naamlik die tem van die staat se salarisrekening. Mboweni se verklaring het glad nie hierna verwys nie en die tesourie het ook nie ’n e-pos met vrae hieroor beantwoord nie.

Ontleders het boonop in reaksie gesê die herstelplan en MTBR is goed en wel op papier, maar die regering sit met ’n “geloofwaardigheidsgaping”. Die kredietgradeerders is skepties of die planne in werking gestel sal kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.