Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mboweni speel wéér brandweer oor Reserwebank

Tito Mboweni, minister van finansies, het Donderdag wéér brandweerman speel om vure te probeer blus oor die Reserwebank se onafhanklikheid.

David Masondo, adjunkminister van finansies.

Dié keer is die brand gestig deur sy eie adjunk, David Masondo, wie se vroeëre uitlatings oor die repokoers in die parlement onder skoot gekom het.

Mboweni en Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het in ’n gesamentlike vergadering gesê die tesourie “het nog altyd die onafhanklikheid van die Reserwebank gerespekteer”.

“Die ministerie van finansies sou onder normale omstandighede nie kommentaar lewer op die posisie van monetêre beleid of inmeng by die proses van besluitneming oor monetêre beleid of die besluite van die Reserwebank nie. Dis die rol van die Reserwebank.

“Op sy beurt lewer die Reserwebank nie kommentaar op fiskale beleid of belastingsake nie.”

Dié praktyk beteken nie dat die twee instellings met mekaar bots of in isolasie optree nie, maar in koördinasie.
Tito Mboweni en Lesetja Kganyago

Masondo het onlangs in ’n onderhoud met Business Day daarop gesinspeel dat die repokoers te hoog is en dat dit ekonomiese groei onderdruk omdat ondernemings en huishoudings nie meer geld kan leen nie.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het Masondo Donderdag op ’n sitting van die staande komitee oor finansies daaroor uitgevra. Masondo het volgens Business Day gesê sy opmerkings was nie ’n poging om die Reserwebank te beïnvloed nie.

Opmerkings oor rentekoerse is veral sensitief omdat die Reserwebank weer op 18 Julie oor die repokoers moet besluit. Verskeie ekonome reken wel dat die repokoers met 0,25 persentasiepunt verlaag gaan word, maar as daar ’n gevoel is dat dit ná politieke druk gedoen is, kan dit die rand laat verswak.

Tito Mboweni, minister van finansies.

Die Mboweni-Kganyago-verklaring is uitgereik nadat die twee vergader het, “soos hulle gereeld doen” en soos die Grondwet vereis. “Die doeltreffende koördinering van fiskale en monetêre beleid is ’n sentrale pilaar van goeie makro-ekonomiese bestuur en beleidsekerheid.”

Die verklaring probeer dit duidelik stel dat die Reserwebank sy beleid onafhanklik toepas en ook sélf moet meet wat die uitwerking van sy beleid op inflasie en die ekonomie is. “Dis standaardpraktyk wêreldwyd, wat verseker dat daar geen verwarring of misleidende seine is oor sowel ons assessering van ekonomiese ontwikkeling as die rol wat ons spesifieke instelling in makro-ekonomiese koördinering speel nie.

“Ons wisselkoersbeleid is dat ons ’n stabiele en mededingende wisselkoers wil hê. Dié praktyk beteken nie dat die twee instellings met mekaar bots of in isolasie optree nie, maar in koördinasie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het in Junie in sy staatsrede die versekering gegee die Reserwebank sal toegelaat word om sy grondwetlike mandaat uit te voer.

Hy het egter ook beklemtoon die einste Grondwet vereis dat die Reserwebank met die regering – in die persoon van die minister van finansies – in gesprek moet bly oor hóé die Reserwebank sy mandaat uitvoer.

Dit het gekom te midde van ’n vurige debat in die ANC oor die rol van die Reserwebank, met mense soos Ace Magashule, sekretaris-generaal, wat reken die sentrale bank se mandaat skiet te kort.

Kganyago het self in Maart gesê die onafhanklikheid van die sentrale bank is nie ’n “ivoortoring-konsep” nie. Dit beteken nié die Reserwebank werk in isolasie om te bepaal hoe hy aan sy mandaat voldoen nie.

Hy het gesê die Reserwebank se onafhanklikheid beteken hy kan “die saak stel vir hoe hy die beste sy doelwit kan behaal, deur die regering te konsulteer en met volle deursigtigheid aan die algemene publiek”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.