Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Meer as helfte van SA’ners leef in armoede
Drie uit vyf swart Suid-Afrikaners leef in armoede. Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die getal Suid-Afrikaners wat in uiterste armoede leef, het van 2011 tot 2015 met 2,8 miljoen (van 11 miljoen tot 13,8 miljoen) toegeneem, het dr. Pali Lehohla, statistikus-generaal, Dinsdagoggend gesê.

Hy het Statistieke Suid-Afrika (SSA) se verslag oor armoede bekend gestel.

Uiterste armoede word beskryf as mense wat minder as R441 per persoon per maand het om van te leef. Die 13,8 miljoen uiters armoediges in 2015 was darem minder as die 16,7 miljoen wat in 2009 uiters armoedig was.

Meer as die helfte van Suid-Afrika se bevolking leef in armoede. Meer as 30 miljoen Suid-Afrikaners (55,5% van die bevolking) was in 2015 arm.

Die droogte van die laaste paar jaar en die swak ekonomiese toestande het baie bygedra tot dié situasie. Lehohla voorspel sake sal nie gou verbeter nie.

“Die besluitnemers in die regering moet besef sonder ’n weldeurdagte plan sal dié probleme nie opgelos word nie,” sê hy.

Luidens die verslag is kinders (17 jaar en jonger), vroue, swart Suid-Afrikaners, mense wat in landelike gebiede woon, veral in Limpopo en die Oos-Kaap, en mense wat geen formele onderrig gehad het nie, die kwesbaarste.

Die grootste armoede kom in Limpopo voor en die minste in Gauteng en die Wes-Kaap.

Baie van dié syfers gee my nagmerries. Ek glo ’n oplossing vir ons probleme lê in onderwys, maar dit is ’n langtermynoplossing, 20 jaar en langer.
Dr. Pali Lehohla, statistikus-generaal

Die Gini-koëffisiënt, wat inkomste-ongelykheid meet (1 is heeltemal ongelyk en 0 is heeltemal gelyk), het van 0,72 in 2006 tot 0,68 in 2015 verbeter.

Die grootste verskille kom onder swart Suid-Afrikaners voor. Dit het verswak van 0,64 in 2006 tot 0,65 in 2015). Dié onder bruin mense het verbeter van 0,60 in 2006 tot 0,58 in 2015. Onder Asiate het dit konstant gebly op 0,56. Onder wit mense het dit verbeter van 0,56 in 2006 tot 0,51 in 2015.

Onder wit mense en Indiërs neem armoede egter ook toe. 6,7 miljoen huishoudings in Suid-Afrika leef onder die boonste broodlyn. In 2011 was daar 5,6 miljoen huishoudings in dieselfde bootjie.

“Baie van dié syfers gee my nagmerries. Ek glo ’n oplossing vir ons probleme lê in onderwys, maar dit is

’n langtermynoplossing, 20 jaar en langer.

“Hierdie navorsing wys ons gee nie genoeg aandag aan werkloosheid – die hoofoorsaak van armoede – nie,” sê Lehohla.

Die verslag is nog nie met die regering bespreek nie omdat die wet bepaal die inligting moet eers openbaar gemaak word.

Welsynstoelaes aan die armes het sy voordele – veral vir kinders. “Dit verseker dat kinders kos kry en skool toe gaan, maar dit lig hulle nie uit armoede nie.”

Die armes bestee 30% van hul inkomste aan basiese voedsel. Boonop moet hulle baie opdok vir vervoer.

Dit is een van die nalatenskappe van apartheid omdat die meeste swart mense in die vorige bedeling gedwing was om ver van hul werkplek te woon, sê Lehohla.

Meer oor:  Statistieke Suid-Afrika  |  Pali Lehohla  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.