Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Meer kerk, minder drink: 10 dinge wat jy moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand op sy “familievergadering” aangekondig drankverkope word oor die Paasnaweek verbied, maar regulasies oor kerkdienste word verslap. Hier is tien dinge wat jy oor die nuwe regulasies moet weet.

  

drank
Drankwinkels moet Vrydag tot Maandag hul deure sluit.
1. Drankwinkels oor Paasnaweek toe

Drankverkope by drankwinkels word toe nié vir 11 volle dae verbied soos geglo is nie – net vir vier dae. Die verbod begin op Vrydag 2 April en duur tot Maandag 5 April.

Daarna mag drankverkope weer volgens dranklisensies plaasvind.

Restaurante mag wel oor die Paasfees aanhou drank verkoop, ook anders as wat voorheen gevrees is. Drank by restaurante, kroeë en sjebiens mag dus tot 23:00 bedien word sodat klante en personeel voor middernag tuis kan wees.

Die president het niks gesê oor die vervoer van drank nie. Die regulasies wat later in die Staatskoerant gepubliseer is, gee slegs veranderinge aan en geen verandering word aangebring aan regulasies oor die vervoer van drank nie, dus is dit wettig om drank in jou motor te hê op pad na jou bestemming vir die Paasnaweek.

2. Aandklokreël

Die aandklokreël is nie verander nie. Dit geld dus van middernag tot 04:00 elke dag.

3. Strande, parke en damme bly oop

Dis oukei, jy kan jou voete in die seewater gaan steek. Anders as in Desember, toe almal skielik “hengelpermitte” gaan kry het om hul voete wettiglik op wit sand te mag plaas, is strande nie vir die Paasnaweek toegemaak nie.

Mense moet egter hul masker ophou, het Ramaphosa gewaarsku.

4. Kerkdienste word groter

Groter kerkdienste mag oor Paasfees, ’n belangrike tyd vir Christene en Jode, gehou word.

Getalle word verhoog tot 250 binnenshuis en 500 mense in die opelug. Dit mag egter nooit meer as 50% van ’n lokaal se vermoë wees nie.

Mense mag ook nie ná kerkdienste oorslaap nie.

5. Byeenkomste word groter

Tot dusver kon 100 mense binnenshuis en 250 mense in die opelug byeenkom. Dit word verhoog tot 250 binne en 500 buite, mits sosiale distansiëring toegepas word.

6. Reis bly toelaatbaar

Hoewel reis tussen provinsies wettig bly, het Ramaphosa mense aangemoedig om nie onnodig te reis nie en om veilig te bly wanneer hulle dit doen.

7. Roudienste

Suid-Afrikaners word steeds beperk oor hoe hulle afskeid neem van geliefdes – en dit juis terwyl baie meer mense in rou gedompel word.

Roudienste word beperk tot 100 mense, en nagwake of byeenkomste ná die diens word verbied. Dienste mag ook nie langer as twee uur duur nie.

8. Regulasies sal oor 15 dae hersien word

Ramaphosa het aangedui dat die inperkingsregulasies oor 15 dae hersien sal word na gelang van hoe infeksies dan lyk. Dit wil tans voorkom of die aantal nuwe infeksies stabiel bly.

9. Dra maar jou masker

Ramaphosa het beklemtoon dat die dra van maskers in openbare plekke, insluitend op openbare vervoer, verpligtend bly. Dis ’n misdaad om nie ’n masker te dra nie.

10. Inentings sal deursigtig wees

Die president het uitgebreid gepraat oor die entstofprogram. Fase 2, waartydens bejaardes en mense met bestaande siektetoestande ingeënt gaan word, begin middel Mei. Fase 1 is die inenting van gesondheidswerkers, wat nog voortduur.

Lande ding baie kwaai mee vir entstowwe, maar Ramaphosa sê hy is vol vertroue dat genoeg entstowwe bekom gaan word om almal in die land te beveilig.

Meer persele sal binnekort vir inentings oopgestel word en mense sal op ’n sentrale databasis moet registreer as hulle inentings wil kry.

Mense sal ’n sertifikaat, digitaal of op papier, kry om te bewys dat hulle ingeënt is.

Ramaphosa het verseker dat die regering deurentyd “absoluut deursigtig” sal wees en mense sal inlig oor die proses en ook indien daar enige vertragings opduik.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Inperking  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Entstof  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.